Een middag in 1889 stel Vincent van Gogh sy esel op in Saint-Remy de Provence in Frankryk en skilder die ou Romaanse kapel by die ingang van die voormalige Augustynse klooster van Sint Paul de Mausole, op daardie stadium omskep in ’n hospitaal vir geestesversteurdes.

Van Gogh het uiteindelik hier beland na die bekende episode waarin hy ’n deel van sy regteroor afgesny het. Dit was na ’n hewige argument met die skilder Paul Gaugin. Hier het hy verskeie doeke gevul met sy uitsig van agter tralievensters. “Vue de l’asile et de la Chapelle de Saint-Rémy” was sy eerste werk op die gronde buite die gestig. Volgens oorlewering het Van Gogh gesê hy was selde so in beheer van sy kwas soos met hierdie skildery.

Die werk is jare later aangeskaf deur die kunshandelaar Francis Taylor, vir sy dogter, ’n jong aktrise genaamd Elizabeth. Sy sou self groot roem verwerf net twee maande na haar pa se geskenk met die vrystelling van die rolprent Cleopatra. Die skildery het in haar sitkamer gehang tot met haar dood in 2011.

“Vue de l’asile et de la Chapelle de Saint-Rémy” is twee weke gelede in New York opgeveil vir ongeveer R503 miljoen.

“Vue de l’asile et de la Chapelle de Saint-Rémy”
“Vue de l’asile et de la Chapelle de Saint-Rémy” – Vincent van Gogh

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar