AFDELINGS
Boeke
Dagboek
Flieks
Forums
Foto's
Gedigte
Gesondheid
Grappe
Motor
Musiek
Sêgoed
Seks
Teater
Trivia
Verhale
Wenke
DIENSTE
Advertensies
Eensames
Woordeboek
AMID-skou 2008Besoekers aan vanjaar se AMID-lewenstylskou vir motorfietse en vierwielers kan heelwat opwinding by Honda Suid-Afrika se uitstalling verwag. Nes in die verlede sal die maatskappy 'n goeie oorsig van sy topverkoper-motorfietse en -vierwielers bied. Maar vanjaar val die klem veral op vier nuwelinge. Vir superfiets-geesdriftiges sal die grootste trekpleister waarskynlik die splinternuwe CBR1000RR Fireblade wees, wat reeds in Februarie vanjaar sy plaaslike debuut gemaak het. Vierwielryers sal op hul beurt die eerste keer met die kraaknuwe TRX700XX kan kennis maak, terwyl die jongste Honda Transalp XL700V die avontuurlustiges sal laat naderstaan. Dan is daar ook die Honda e-Storm, wat bewys hoe bekostigbaar, veilig en lekker dit kan wees om met 'n intreevlak-motorfiets die pad te vat. Honda se geheel nuwe 2008 CBR1000RR Fireblade het reeds die superfietswêreld laat vlamvat. Dié verrigtingsvoorloper in Honda se motorfietsstal koppel meer krag en laer massa aan besondere beweeglikheid, om blitsvinnige werkverrigting en vlymskerp reaksies te bied. Die nuweling word alom as Honda se gevorderdste padfiets tot hede beskou, en maak gebruik van die allerjongste, ren-ontwikkelde tegnologie - wat dan ook in die windkulvorm van die Fireblade se uiters aantreklike, lugdinamiese ontwerp weerspieël word. Die resultaat is Honda se vinnigste, bes hanterende, begeerlikste motorfiets nog - 'n ware pasaangeër wat die nuwe maatstaf in die eenliter-superfietsklas stel. Die weergawe wat by die AMID-expo vertoon word is 'n spesiale, beperkte-getal model wat met 'n besonderse kleurskema spog. Die sogenaamde 'Pearl Sunbeam'-wit is net op 50 Fireblades beskikbaar, en sal reeds te koop wees wanneer die expo begin. Die monsteragtige Honda TRX700XX-vierwieler maak sy plaaslike buiging by die AMID-skou, en sal na verwagting die vierwieler-sportsegment omkrap met sy begeerlike kombinasie van gemak, gerief en uitsonderlike verrigting. Die TRX700XX word aangedryf deur 'n splinternuwe enkelsilinder-enjin met vier kleppe en brandstofinspuiting, terwyl die onafhanklike veringstelsel agter van dubbele mikke gebruik maak. Die kettingaandrywing is met 'n unieke, sentrale aandryfstelsel toegerus. Met sy stewige wringkraglewering staan die Honda TRX700XX reeds bekend as die nuwe koning van die vierwielers. Vir avontuurgierige motorfietsryers is die goeie nuus dat die jongste Honda XL700V Transalp voortbou op die indrukwekkende naam van sy voorloper, maar terselfdertyd aan kopers 'n nuwe voorkoms, 'n groter en kragtiger enjin, en 'n hele spul detailverbeterings bied. Die nuwe weergawe is nog meer veelsydig as die oorspronklike Transalp, wat sal sorg dat dié Honda ewe gewild onder pendelryers, langafstand-toerders en avontuursoekers bly. Dié motorfiets koppel pad- en veldryvermoëns aan soliede betroubaarheid en 'n besonder aantreklike prysetiket. Laastens kan die stygende petrolprys - en al daardie verkeersknope - die belangstelling in die vinnige, suinige en gebruiksvriendelike Honda e-Storm dramaties laat toeneem. Dié motorfiets koppel moderne meganika en 'n gladde, veelsydige rit aan indrukwekkende betroubaarheid en 'n besonder aantreklike verkoopprys. Die geheel nuwe Honda e-Storm is 'n aantreklike sakpas-motorfiets wat spesifiek op die jeugmark se verskeidenheid behoeftes gemik is. En hoewel hy onteenseglik bekostigbaar is, skort daar niks met sy voorkoms nie, terwyl veiligheid ook 'n sleutelfaktor in die e-Storm se ontwerp gespeel het. Die Honda e-Storm word as 'n intreevlak-motorfiets beskou, en is op begrotingsgesinde kopers en eersteling-kopers gemik. Maar die motorfiets sal ook aanklank vind by vlootbestuurders wat op soek is na 'n kostedoeltreffende, suinige kommersiële motorfietsmodel. Terwyl dié vier, geheel verskillende motorfietse Honda se tentoonstelling by die AMID-expo sal oorheers, sal besoekers aan die skou ook die geleentheid hê om die maatskappy se reeks pad- en veldrymotorfietse van nader te beskou, asook Honda se vierwieler-modelle. Die AMID-lewenstylskou vir motorfietse en vierwielers word van Vrydag 30 Mei tot Sondag 1 Junie by die Coca-Cola Dome in Northgate gehou. Vrydag is die skou van 09h00 to 18h00 oop, terwyl besoekers Saterdag van 09h00 tot 20h00 daar kan kuier. Sondag is die deure van 09h00 tot 16h00 oop. Veilige parkering vir motorfietse word gratis verskaf. |
B D E F G H I K L M N O P R |