AFDELINGS
Boeke
Dagboek
Flieks
Forums
Foto's
Gedigte
Gesondheid
Grappe
Motor
Musiek
Sêgoed
Seks
Teater
Trivia
Verhale
Wenke
DIENSTE
Advertensies
Eensames
Woordeboek
Honda Accord: 'n Ware weeldekeuseDie nuwe Honda Accord-reeks bestaan uit vier weergawes wat almal oor dieselfde skoon, vaartbelynde vierdeur-bakvorm, en 'n buitengewone vlak van standaardtoerusting beskik. Al vier modelle deel ook 'n lang lys tegnologies-gevorderde kenmerke, wat nie net deur die i-VTEC-kragbronne en die keuse van gevorderde ratkaste verteenwoordig word nie, maar ook aspekte soos die stywe onderstelkonstruksie, die jongste onafhanklike vering, en 'n rits elektroniese stelsels insluit. Deur gehalte spesifiek te benadruk, het Honda die Accord se status selfs nog verder as voorheen verhoog. Die swierige indruk van die binneruim word deur tasbare gehalte onderskraag, terwyl die ergonomiese uitleg van die instrumente en kontroles sorg dat die bestuurder onmiddellik tuis voel. Gemeet aan sy voorganger is die nuwe Accord langer, wyer, laer en meer sportief, met 'n skerpomlynde bakvorm wat sy lugdinamiese eienskappe benadruk. Die nuwe reeks skop af met die Accord 2.0 i-VTEC-handratmodel. Dié weergawe word aangedryf deur 'n splinternuwe tweeliter-enjin met 16 kleppe. Die 1 997 cc-kragbron het 'n enkele bonokas en volledig geprogrammeerde brandstofinspuiting, 'n elektroniese versneller, en Honda se i-VTEC intelligente elektronies-veranderbare kleptydreëlstelsel. Maksimum-kraglewering kom op 115 kW by 6 300 r/min te staan, terwyl die wringkragpiek van 192 Nm tussen 4 100 en 5 000 r/min beskikbaar is. Die krag word met behulp van 'n sesgang-handratkas na die voorwiele oorgedra. Die motor se werkverrigting is indrukwekkend, met 'n 0-100 km/h-versnelsyfer van net 9,3 sekondes, en 'n topsnelheid van 215 km/h. Vir baie motoriste is dit die brandstofverbruiksyfer van die Accord egter belangriker. Die nuweling se verbruiksyfer vir die gekombineerde siklus kom op 7,2 liter/100 km te staan, wat 'n reikafstand van meer as 800 km binne maklike bereik bring. Die Accord se vering is geheel onafhanklik. Die dubbele mikke voor werk saam met kronkelvere en gasgevulde skokbrekers met veranderbare druk, terwyl daar ook van 'n teenkantelstaaf gebruik gemaak word. Die agtervering spog met 'n meerskakel-uitleg, wat eweneens saam met kronkelvere, gasskokbrekers en 'n teenkantelstaaf voorsien word. Die tand- en ratstang-stuurstelsel benut 'n gevorderde, beweging-aanpasbare elektriese kragstuurstelsel wat met die Accord se voertuig-stabiliteitshulp (VSA) kan kommunikeer. Die remstelsel is met skywe voor en agter toegerus, en is ook aan die VSA-stelsel gekoppel, wat op sy beurt ook treilerstabiliteitshulp (TSA) insluit. Die Accord 2.0 i-VTEC-handrat word met 6,5Jx16-alloowiele en 205/60 R16-bande toegerus. Wat standaardtoerusting betref, spog die Accord 2.0 i-VTEC-handrat eweneens met 'n lang lys weelde- en geriefkenmerke. Die buitevoorkoms word gekenmerk deur 'n sierrooster met verchroomde dwarsstawe, kleurbypassende stampers en kantspieëls, opsigtelike chroom-handvatsels, en hittebestande, getinte ruite. Die binneruim bied leerbekleedsel en metaalagtige afwerkings, terwyl die gevorderde instrumentepaneel met ronde, afsonderlike instrumentgesigte en rooi- en blou-agterbeligting spog. Die instrumentenaalde lyk asof hulle bo-op die instrumentgesigte dryf. Die geïntegreerde LCD-uitleespaneel wys inligting wat deur die ritrekenaar verskaf word, onder meer die onmiddellike en gemiddelde brandstofverbruik, reikafstand, rit- en voertuigafstand, en die sitplekgordelstatus voor en agter. Die leerbedekte stuurwiel spog met 'n volledige stel hulpkontroles. Daaronder tel beheerknoppies vir die klankstelsel, die togbeheerstelsel, die ritreknaar en die Bluetooth-kommunikasiestelsel wat selfoongebruik sonder die gebruik van hande moontlik maak. Die stuurkolom is in alle rigtings verstelbaar. Die voorste sitplekke is verhit en ten volle elektries verstelbaar. Die bestuurdersitplek het ook 'n rugsteunverstelling. Om by die jongste tendense wat motorvermaak betref, in te skakel, is die Accord 2.0-handrat met 'n enkelskyf-voorlaaiskyfspeler met RDS-instemmer toegerus. Dié stelsel kan ook MP3- en WMA-musieklêers deur sy ses luidsprekers speel. 'n Hulpklanksok in die middelste bêrehouer laat toe dat 'n persoonlike musiekspeler aan die Honda se klankstelsel gekoppel kan word. Van bêreplekke gepraat, die nuwe Accord het plek vir nie minder nie as ses bekerhouers - twee in die voorste konsole, twee in die agterdeure, en twee in die armleunings agter - terwyl 'n toevouhouer vir 'n sonbril ook voorsien word. Dan is daar 'n groot paneelkissie met 'n verstelbare verkoelingsfunksie, en bêrevakkies op die agterkant van die voorste sitplekleunings. Die agtersitplek se leuning is 60/40 verdeel en kan individueel platgevou word om die reeds ruimskootse bagasiebak van 467 liter nog verder te vergroot. Die gevorderde klimaatbeheerstelsel is onafhanklik vir die linker- en regterkant van die motor beskikbaar, terwyl elektriese ruite voor en agter ook standaardtoerusting is. Die nuwe Accord is met 'n afstandbeheerde sentrale sluitstelsel toegerus, wat outomatiese sluiting en 'n geïntegreerde alarm en immobiliseerder insluit. Die veiligheid van insittendes geniet voorrang in die nuwe Accord met die pas van nie minder nie as agt lugsakke: twee tweeledige lugsakke voor, twee dubbelkamer-kantlugsakke vir die voorste insittendes, en twee vollengte gordynlugsakke vir die voorste en die agterste insittendes. Rukstop-sitplekgordels met voorspanners en ladingbeperkers voor is standaard, asook nekstutte voor en agter. ISOFIX-monteerpunte vir kleuterstoele word ook voorsien. Onder die aktiewe veiligheidsmaatreëls tel die ABS-remme en VSA-stabiliteitshulp wat reeds genoem is. Die Accord 2.0 i-VTEC Outomaties span presies dieselfde 2,0-liter, 16-klepenjin in, maar vervang die sesgang-handratkas met 'n gevorderde outomatiese vyfgangratkas. Die ratkas bied nie net die gewone outomatiese ratskakeling nie, maar ook 'n sekwensiële ratskakelaksie wat in samewerking met F1-tipe wisselspane op die stuurkolom benut kan word. Die ratkas bied 'n koppelaar met lae wrywing en 'n besonder dun koppelomsetter, wat saam met ratkas se gevorderde elektronika vir 'n blitsige, daadwerklike skakelaksie sorg. Die Accord 2.0 i-VTEC Outomaties gebruik presies dieselfde platform as die handratmodel. Dit sluit die gevorderde onafhanklike veringstelsel, die stywe onderstelkonstruksie, die laer massaverspreiding en dieselfde wiele en bande van 16 duim in. Nes sy handrat-stalmaat is die Accord 2.0 i-VTEC Outomaties weelderig toegerus en tegnologies gevorderd, met 'n lys van weelde-, gerief- en veiligheidskenmerke wat identies is aan dié van die handratweergawe. Die twee Accord 2.4-modelle word albei deur dieselfde viersilinderenjin van 2 354 cc aangedryf. Dié dwarsgemonteerde kragbron spog met dubbele bonokaste, 16 kleppe en geprogrammeerde brandstofinspuiting, en is ook met 'n elektroniese, kabellose versneller toegerus. Die enjin se maksimum-kraglewering is 148 kW by 7 000 r/min, met 'n gepaardgaande wringkragsyfer van 234 Nm, wat by 4 300 r/min beskikbaar is. In die outomatiese model is die wringkragsyfer 230 Nm wat by 'n effens later 4 200 r/min bereik word. Die ratkaskeuse is eweneens identies aan dié wat vir die tweeliter-weergawes gebied word: 'n sesgang-handratkas met 'n kort, vinnige, gladde ratskakelaksie, en 'n gevorderde outomatiese vyfgangratkas met wisselspanne en 'n keuse van ratwisselmetodes. Voorwielaandrywing is in albei gevalle standaard. Die Accord 2.4 i-VTEC Executive-handrat versnel van 0 tot 100 km/h in 7,8 sekondes, en het 'n topsnelheid van 227 km/h. Dié weergawe se brandstofverbruik vir die gekombineerde siklus beloop 8,8 liter/100 km. Die res van die meganika wat vir die Accord 2.4-modelle aangewend word, is identies aan dié van die tweeliter-weergawes, met die uitsondering van die wiele en bande wat nou na 7,5Jx17-vellings met 225/50 R70-bande opgegradeer word. Daar is ook 'n 18 duim-opsie. Die Accord se swierige, volledige toegeruste binneruim bly grotendeels dieselfde in hierdie twee vlagskipmodelle, maar met 'n paar bykomende ekstras om hulle van die tweeliter-modelle te onderskei. 'n Glansswart-afwerking vervang die metaalaksente op die konsolepaneel en die deurhandvatselpaneel, terwyl die opgegradeerde klankstelsel met 10 luidsprekers toegerus is. Die enkelskyfspeler is met 'n sesskyf-eenheid vervang, wat steeds MP3- en WMA-vriendelik is. 'n USB-poort vir iPod-spelers sluit hom by die hulpklanksok in die middelste konsole aan. Die Accord 2.4-modelle kry ook 'n middelkonsolekassie met verstelbare verkoeling, en verligte smukspieëls vir beide bestuurder en voorste passasier. Die dubbelsone-klimaatbeheerstelsel kry 'n stuifmeelfilter by, en die kopligte maak van hoë-intensiteit Xenon-eenhede gebruik wat hoogteselfverstellend is. Die Accord 2.4-vlagskipmodelle bied dieselfde, volledige reeks aktiewe en passiewe veiligheidskenmerke as die 2.0-weergawes, maar kry 'n vierstuks akoestiese parkeersensors voor en agter by. Ook uniek aan die senior modelle is 'n truspieël wat vanself domp, en 'n reënsensor vir die ruitveërs. "Die nuwe Honda Accord-reeks verteenwoordig 'n begeerlike, gevorderde en uiters bekwame motorpakket wat pasgemaakte stilering, ratse verrigting, betekenisvolle tegnologie en 'n volledige reeks standaardkenmerke bied," sê Graham Eagle, Algemene Bestuurder van Verkope en Bemarking by Honda SA. "Maar dit is veral die tasbare gehalte van die nuwe Accord se uitvoering, en sy vermoë om die bestuurder by die motorry-ervaring te betrek, wat beide bestaande Accord-eienaars en nuwe kopers sal bekoor. "Ons glo dat die nuwe Accord 'n oortuigende motor-aanbod in die weeldesegment verteenwoordig, en dat dit selfs die hoogste verwagtinge van koper in dié sektor sal oortref. Ons waardetoegevoegde prysstruktuur behoort 'n bykomende en onverwagse bonus te wees wat die vraag na die nuwelinge verder sal aanspoor," het Eagle afgesluit. Alle nuwe Honda Accord-modelle word deur 'n waarborg van drie jaar/100 000 km gedek, asook 'n volledige diensplan van vyf jaar/100 000 km. Die nuwe Accord is van middel Junie 2008 by alle gemagtigde Honda-motorhandelaars landwyd beskikbaar. Pryse: |
B D E F G H I K L M N O P R |