Webwerf bepalings en voorwaardes
roekeloosroekeloos.co.za
Web www.roekeloos.co.za

AFDELINGS
Boeke
Dagboek
Flieks
Forums
Foto's
Gedigte
Gesondheid
Grappe
Motor
Musiek
Sêgoed
Seks
Teater
Trivia
Verhale
Wenke

DIENSTE
Advertensies
Eensames
Woordeboek

TEKEN IN
op Roekeloos se
gratis weeklikse
nuusbrief!

Roekeloos
vir jou
Google Toolbar

Motor

Honda Accord: 'n Motorervaring Uit die Boonste Rakke

Die nuwe Honda Accord is meer as 30 jaar lank in wording - en die lang wagtydperk was beslis die moeite werd. Die Accord-naamplaat het reeds in 1976 sy eerste buiging gemaak, en het sedertdien oor agt geslagte ontwikkel tot een van Honda se mees hooggeagte ambassadeurs.

Die jongste weergawe verskuif sy visier nog hoër in die weeldemark, en bied 'n kombinasie van slanke, gesofistikeerde stilering, 'n koninklike binneruim en gebalanseerde, meesleurende dinamika.

"Met sy dramatiese bakvorm, reuse binneruim en grootste toepassing van gevorderde tegnologie in die 32 jaar-lange geskiedenis van die motor, stel die jongste, agtste-geslag Accord 'n geheel nuwe maatstaf in die breë motormark," sê Yoshiaki Nakamura, die nuut aangestelde President van Honda Suid-Afrika.

"Die Accord-naamplaat word daardeur na 'n hoër vlak as ooit tevore verhef, wat die motor in staat stel om 'n topgehalte-motorervaring aan sy insittendes te bied."

Die nuwe Accord is sigbaar kosmopolitaans, en druk 'n internasionale ontwerpvorm uit wat in Honda se ontwerpateljees in Duitsland, Japan en die Verenigde State geskep is.

Met 'n enjinkeuse van 2,0- en 2,4 liter-viersilinders, wat aan óf 'n sesgang-handratkas of 'n outomatiese vyfgangratkas gekoppel kan word, bied die nuwe Accord-reeks moeitelose werkverrigting en vasvoetige hantering.

"Die Accord het nog altyd 'n sleutelrol binne Honda en die algehele motormark gespeel," sê Graham Eagle, Algemene Bestuurder van Verkope en Bemarking by Honda SA.

"Met 'n verkoopsyfer van meer as 16-miljoen eenhede sedert dit oorspronklik bekend gestel is, kan die Accord beskou word as die mees verteenwoordigende uitdrukking van die Honda se DNA wêreldwyd. Hierdie jongste, agtste-geslag weergawe toon al die kenmerke van uitnemendheid, en ons verwag dat kieskeurige Suid-Afrikaners die voortreflikheid van dié uiters gevorderde sedanmotor sal raaksien."

Volgens Eagle sal die reeks van vier modelle, wat van die middel van Junie beskikbaar is, na verwagting 'n maandelikse verkoopsyfer van ongeveer 150 eenhede behaal. "Die sterk vraag na die nuwe Accord wêreldwyd beteken egter dat die getal Accords wat aan ons toegesê word, aanvanklik beperk mag wees, wat tot waglyste mag ly," het hy bygevoeg.

2008 Honda AccordDie fyngekerfde lyne en gladde kontoere, die gespierde wielboë en die wigprofiel - al hierdie elemente is kenmerke wat bydra tot die nuwe Accord se atletiese, dinamiese houding. Dit is 'n motor wat van soliede ingenieursgehalte spreek; van vasvoetige padgedrag en vlymskerp reaksies.

Daarbenewens is die nuwe Accord 'n motor wat die koppe laat draai, wat trouens onbeskaamd aandag trek, en boonop die bestuurder en insittendes met 'n oortuigende, knus motorry-ervaring beloon.

Die nuweling is nie net die grootste, wydste en weelderigste Accord ooit nie, maar het ook 'n bak wat 20 persent stywer is, danksy sy gevorderde bakstruktuur, waarvan 42 persent van ultra-hoësterkte staal vervaardig is. En hoewel die nuwe Accord aansienlik groter is as sy voorganger, weeg hy 'n skrale 5 persent meer.

Die binneruim van die nuwe Accord spog met al die kenmerke wat 'n mens van 'n vlagskipsedan sou verwag. Die motor straal gehalte uit, danksy die gebruik van die allerbeste materiale en afwerkings. Die uiters moderne ontwerp plaas die klem op gladde, fyngevormde oppervlakke en genoeg ruimte om 'n oop, aantreklike omgewing te skep.

Honda se logiese benadering tot die ontwerp van die instrumente en die beheerstelsels beteken dat die bestuurder se bedryfsomgewing ondubbelsinnig en gebruiksvriendelik is. Al die instrumente is verstaanbaar gerangskik, die instrumentgesigte is duidelik leesbaar, en die bestuursposisie is ergonomies doeltreffend.

Die sitposisie vir insittendes voor en agter is presies dieselfde - 'n kern-ontwerpbeginsel wat sorg dat die Accord besonder hoë vlakke van gerief bied. Wat beenruimte agter betref, ding die Accord teen heelwat groter weeldemotors mee.

Die indruk van ruimte geld ook die Accord se bagasiebak, wat met 'n inhoud van 467 liter merkbaar groter is as dié van sy regstreekse mededingers.

Die noukeurig ontwerpte kontoere van die voorste sitplekke bied uitstekende steun, terwyl die ventilasie agter verbeter is om vir nog meer passasiergerief te sorg. Die sig vanuit alle sitposisies is puik, danksy die groot glasoppervlakke wat die sigvelde vergroot.

Al vier Accord-modelle is weelderig toegerus, met 'n binneruim wat sy insittendes met 'n lang lys standaardkenmerke bederf. 'n Hoë vlak van veiligheid word deur 'n volledige reeks aktiewe en passiewe veiligheidstelsels gewaarborg.

Wat passiewe veiligheid betref, sluit die volledige lys stelsels nie net lugsakke voor en aan die kante, asook 'n gordynlugsak in nie, maar ook aktiewe nekstutte en rukstop-sitplekgordels met voorspanners en lasbeperkers voor.

Geriefkenmerke wat al vier die weergawes geld, sluit onder meer puik klankstelsels, 'n ritrekenaar, 'n meerdoel-stuurwiel, elektriese verstelling vir die sitplekke, kantruite en buitespieëls en leerbekleedsel in. 'n Selfoon-gesprekstelsel wat Bluetooth-tegnologie inspan, is ook standaardtoerusting.

Die dinamiese belofte wat die nuwe Accord se stilering uitstraal, en die swierige binneruim, word aan 'n indrukwekkende bestuurservaring gekoppel.

Die Accord 2.0-weergawes gebruik 'n brandstofsuinige, uiters doeltreffende viersilinderenjin met 'n enkelbonokas en die jongste weergawe van Honda se i-VTEC veranderbare kleptydreëlstelsel. Die nuwe eenheid is uiters doeltreffend en rats, en bied 'n maksimum-kraglewering van 115 kW, terwyl die wringkragpiek op 192 Nm te staan kom.

Die sesgang-handratweergawe versnel in net 9,3 sekondes van 0 tot 100 km/h, en bereik 'n topsnelheid van 215 km/h.

Die tweeliter-enjin se doeltreffendheid baat die kragbron se brandstofverbruik. Die nuwe Accord 2.0 i-VTEC Handrat se verbruik in die gekombineerde siklus beloop net 7,2 liter/100 km, terwyl die syfer vir ooppadry na net 5,9 liter/100 km daal.

Die Accord 2.4 i-VTEC Executive se kragbron van 2,4 liter het 'n kragleweringsyfer van 148 kW, met gepaardgaande wringkrag van 234 Nm - heelwat meer spierkrag as dié van die vorige model. Beter kleptydreëling, 'n hoër enjindrukverhouding en 'n nuwe uitlaatspruitstuk tel onder die belangrikste veranderinge.

Dié syfers sorg vir onomwonde sportiewe verrigting. Daar is weer 'n keuse tussen die sesgang-handratkas en die outomatiese vyfgangweergawe. In sy handratvorm versnel die Accord 2.4 Executive in net 7,8 sekondes van 0 tot 100 km/h, terwyl die topsnelheid 227 km/h beloop.

Die 2.4 Executive se brandstofverbruiksyfer is ewe indrukwekkend. Die handratmodel se verbruik vir die gekombineerde siklus kom op 8,8 liter/100 km te staan, terwyl die syfer tot net 7,0 liter/100 km op die oop pad beperk word.

Maar dié syfers vertel net 'n gedeelte van die Accord se dinamiese verhaal. Die Accord is 'n ontwerp om die bestuurder te beloon met 'n aangrypende bestuurservaring wat betrokkenheid en genot verseker.

Die onafhanklike veringstelsel bestaan uit dubbele mikke voor en 'n meerskakelstelsel agter, wat vir akkurate, voorspelbare en ratse hantering sorg.

Groot skyfremme voor en agter, groot wiele en breë bande, asook 'n ritse dinamiese veiligheid-hulpstelsels, waaronder die jongste geslag ABS-sluitweerremme, VSA-stabiliteitshulp en TSA-treilerstabiliteitshulp, bied 'n gerusstellende veiligheidsnet.

Die beweging-sensitiewe elektriese kragstuur benut die sensors van die VSA-stelsel om 'n gebrek aan stabiliteit in gladde toestande, of wanneer daar hard gerem of gedraai word, vroegtydig te bepaal. Dit lewer dan dienooreenkomstige stuurinsette wat daarop gemik is om stabiliteit te herwin, en so die bestuurder in staat stel om beheer oor die motor te behou.

Die nuwe Honda Accord verteenwoordig 'n beduidende stap vorentoe in die weeldemotorklas met 'n oortuigende motorpakket wat ruimte, weelde, veiligheid, swier en werkverrigting bied.

Van sy kopdraai-ontwerp tot sy gevorderde tegnologie, sy topgehalte binneruim tot sy suiwer bestuursgenot: die nuwe Accord is doodeenvoudig Honda se beste nog.

Die voorgestelde kleinhandelspryse vir die vier nuwe Honda Accord-modelle is as volg: Honda Accord 2.0 i-VTEC Handrat R237 500
Honda Accord 2.0 i-VTEC Outomaties R250 500
Honda Accord 2.4 i-VTEC Executive Handrat R280 000
Honda Accord 2.4 i-VTEC Executive Outomaties R293 000

Die nuwe Honda Accord is nou by alle gemagtigde Honda-handelaars landwyd beskikbaar. Die pryse sluit 'n diensplan van vyf jaar/100 000 km in, asook 'n waarborg van drie jaar/100 000 km, en 'n een-jaar padbystanddiens.

B
D
E
F
G
H
I
K
L
M
N
O
P
R



  Artikels direk



Subscribe to RSS headline updates from:
Powered by FeedBurner