Webwerf bepalings en voorwaardes
roekeloosroekeloos.co.za
Web www.roekeloos.co.za

AFDELINGS
Boeke
Dagboek
Flieks
Forums
Foto's
Gedigte
Gesondheid
Grappe
Motor
Musiek
Sêgoed
Seks
Teater
Trivia
Verhale
Wenke

DIENSTE
Advertensies
Eensames
Woordeboek

TEKEN IN
op Roekeloos se
gratis weeklikse
nuusbrief!

Roekeloos
vir jou
Google Toolbar

Motor

Stylvolle nuwe Honda beïndruk met gevorderde tegnologie

Die nuwe Accord is die mees gevorderde sedanmotor in die D-segment wat Honda nog vervaardig het. Die motor is 'n bewys dat tegnologie nie net verrigting en veiligheid kan bevorder nie, maar ook 'n sleutelrol speel in die ontwikkeling van motors wat omgewings-vriendelik is.

In die nuwe Accord word tegnologie slim aangewend om so te sê elke enkele aspek van die algehele motorry-ervaring te verbeter.

Om geraasvlakke binne die motor te verminder, het Honda se ingenieurs byvoorbeeld die binneruim met matte toegerus wat nie net 'n isolasietaak verrig nie, maar ook klank absorbeer. 'n Reeks klein instulpings en rondinge in die vloerpaneel dra verder by tot vermindering van klankverspreiding.

Die agtervering se afsonderlike subraam verhinder dat padgeraas na die binneruim oorgedra word, terwyl die strukture van die deurpilare met isolasiemateriaal binne toegerus is om resonansie aan te spreek.

Die nuwe Accord word met 'n volledige isolasiepakket toegerus, wat 'n akoestiese dakbedekking, 'n akoestiese laag in die bagasiebak, wielboog-isoleerders, en isolasie- en klankabsorbeerpanele in die instrumentepaneel insluit. Nogtans is dié pakket verbasend lig.

Nog 'n voorbeeld van handige tegnologie wat in die nuwe Accord aangewend word, is die intelligente klimaatbeheerstelsel. Gevorderde optiese sensors word gebruik om die posisie van die son te bepaal, voordat die klimaatbeheerstelsel dienooreenkomstig verstel word om die binneruim se temperatuur op 'n konstante, gerieflike vlak te behou.

Gerieflike gebruik en veiligheid is die dubbele voordeel wat die Bluetooth-geaktiveerde kommunikasiestelsel vir selfone bied waarmee albei modelle as standaard toegerus is. Die stelsel laat toe dat selfone wat met Bluetooth-tegnologie toegerus is, met die kontroles op die Accord se stuurwiel beheer kan word.

Veiligheid is ook die hoofdoel van die parkeersensors wat in die voor- en agterstamper van die Accord 2.4 Executive-modelle geïnstalleer is, en beide hoorbare en sigbare waarskuwings bied wanneer daar te naby aan 'n voorwerp beweeg word.

Gesofistikeerde tegnologie is die kernelement van die enjins wat in die nuwe Accord ingespan word. Die splinternuwe 2,0-liter kragbron en die verbeterde 2,4-liter eenheid is nie net kragtiger nie, maar gaan ook suiniger met brandstof om, en laat minder CO2-gasse vry.

Albei kragbronne baat by Honda se jongste geslag i-VTEC-tegnologie, wat toelaat dat die kleptydreëling en die kleplighoogte elektronies verstel kan word. Dit beteken dat wringkraglewering by lae enjintoere bevoordeel kan word, sonder om kraglewering by hoë enjinsnelhede te benadeel.

Die Accord se elektroniese versneller, wat sonder 'n meganiese koppeling werk, is nog 'n voorbeeld van onsigbare tegnologie wat daadwerklike, praktiese voordele tot gevolg het. Dit sorg vir skoon, ratse versnelling en seepgladde skakeling tussen die enjin se krag- en ekonomie-verstellings.

Die elektroniese versneller speel ook 'n sleutelrol in die blitsvinnige, supergladde ratskakelings wat deur die nuwe outomatiese vyfgangratkas behaal word. Dit bepaal haarfyn die beste versnellerposisie moontlik om vir amper heeltemal ononderbroke kraglewering gedurende ratwisselings te sorg.

Die outomatiese ratkas is ook met gevorderde stelsels soos hellingbegriphulp en ratwisselperkbeheer toegerus, wat albei daarop gemik is om te keer dat die ratkas sukkel om die regte ratverhouding te kies, of onnodig ratte wissel.

Dit word behaal deur die wisselprogram op steiltes en afdraandes aan te pas om die wisseltempo te verminder en snelheidsbeheer te verbeter. Die stelsel gebruik sensors wat aspekte soos die versnellerposisie, die voertuigsnelheid en versnelling voortdurend meet, en dan die data vergelyk met 'n datastel wat in die ratkas se elektroniese beheereenheid gestoor is.

Maar van die belangrikste tegnologiese vorderings in die Honda Accord is glad nie sigbaar nie. Die nuwe Accord-platform plaas byvoorbeeld die enjin en die brandstoftenk heelwat laer as tevore, wat die weeldesedan se swaartepunt met 18 mm verlaag het.

Dit mag dalk nie beduidend klink nie, maar saam met die Accord se breër spoorwydte voor en agter sorg dit vir 'n groot verbetering in die motor se stabiliteit om draaie, terwyl bakrol ook beperk word. Albei faktore sorg vir groter ryplesier, en verhoog ook dinamiese veiligheid.

Van veiligheid gepraat, die nuwe Honda Accord trek voordeel uit 'n hele rits gevorderde aktiewe en passiewe veiligheidstelsels. Die belangrikste hiervan is beslis Honda se voertuig-stabiliteitshulp (VSA) wat die funksies van glipbeheer met ander gevorderde kenmerke soos treiler-stabiliteitshulp (TSA) en beweging-aanpasbare, elektriese kragstuur verenig.

TSA bespeur wanneer 'n treiler wat teen hoë snelhede gesleep word, begin slinger, en gebruik 'n vermindering en wringkraglewering en die toepas van remkrag op individuele wiele om bestuurderbeheer oor die motor en die treiler te herwin.

Beweging-aanpasbare elektriese kragstuur benut die VSA-sensors om 'n gebrek aan beheer in glibberige toestande, of wanneer daar hard gerem of gedraai word, te herken en dan stuurinsette lewer wat stabiliteit baat, wat en so sorg dat die bestuurder weer beheer oor die motor herwin.

Wat passiewe veiligheid betref, beskik die Honda oor agt lugsakke as standaardtoerusting, wat tweeslag-lugsakke voor, sylugsakke vir die voorste insittendes, en volbreedte gordynlugsakke voor en agter insluit.

Die kantlugsakke het 'n dubbelkamerontwerp wat spesifiek vir die beskerming van die bekken en romp ontwerp is, terwyl die gordynlugsakke ook in die geval van botsings skuins van voor ontplooi, omdat sulke botsings dikwels deur 'n terugslag gevolg word wat sterk sywaartse kragte skep. Sulke kragte kan die boonste liggaamsdele van insittendes aan beserings blootstel.

Die sitplekgordels voor is met voorspanners en lasbeperkers toegerus, terwyl ISOFIX-ankerpunte vir kleuterstoele voorsien word. Die voorsitplekke bied ook aktiewe nekstutte om nekbeserings te vermy.

Minder ooglopend, maar ewe belangrik, is die veiligheidsgerigte ontwerpdetails wat spesifiek op voetgangerveiligheid gemik is.

Dié maatreëls sluit in ruitveërskarniere wat ontwerp is om op impak weg te breek, en 'n nuwe ingeboude raam aan die onderkant van die voorruit wat kan opfrommel om die energie van 'n impak te absorbeer.

Die voorste modderskerm-monteerpunte help ook om botsingsenergie te absorbeer en so beserings te help vermy, terwyl die enjinkapskarniere kan meegee om so ook beserings te verminder. Die enjinkapraam is ontwerp om in die geval van 'n botsing te vervorm, en daar is 'n oop ruimte onder die enjinkap wat meer vervormingspasie toelaat.

B
D
E
F
G
H
I
K
L
M
N
O
P
R



  Artikels direk



Subscribe to RSS headline updates from:
Powered by FeedBurner