AFDELINGS
Boeke
Dagboek
Flieks
Forums
Foto's
Gedigte
Gesondheid
Grappe
Motor
Musiek
Sêgoed
Seks
Teater
Trivia
Verhale
Wenke
DIENSTE
Advertensies
Eensames
Woordeboek
Nuwe veldryblits waarborg opwindingMet die debuut van die geheel nuwe TRX700XX neem Honda vir die eerste keer deel aan die mark vir sport-vierwielmotorfietse met groot enjins. Die nuweling se aggressiewe stilering en buitengewone ingenieursvernuf gaan met die soort werkverrigting gepaard wat die adrenalien behoorlik laat pomp. Die TRX700XX se hoëverrigtingskragbron is 'n vierslag-enkelsilinder met brandstof-inspuiting. Die verlengde aksie van die onafhanklike agtervering word moontlik gemaak deur Honda se vernuftige sentrale dryfstelsel. En boonop versinnebeeld die kopdraai-stilering van dié monster sy aggressiewe verrigting. Alles dui dus daarop dat die TRX700XX Suid-Afrika se voorste sport-vierwieler gaan word. "Die Honda TRX700XX is 'n uiters gevorderde sport-vierwieler met 'n vlak van verrigting, hantering en vernuf wat gaan sorg dat hy blitsig tot bo in sy klas gaan versnel," sê Graham Eagle, Algemene Bestuurder van Verkope en Bemarking by Honda Suid-Afrika. "Die vernuf van stelsels soos die gesentreerde dryfstelsel bied werklike, praktiese voordele wat hantering, vastrapvermoë, werkverrigting en duursaamheid betref. 'n Mens moet dit self op die proef stel om dit behoorlik te waardeer. Voeg die uithaler-krag van die vierslagenjin by die resep, en ons glo dat ons 'n wenner het." Die TRX700XX se 686 cc vierslag-enkelsilinderenjin met waterverkoeling is op dieselfde lees as die hoëverrigting-motorfietseenheid van die XR650 geskoei, maar is spesifiek vir sy rol in dié vierwieler aangepas. Die vierklep-kragbron het 'n droësmeerstelsel, asook elektroniese brandstofinspuiting en 'n elektriese aansitter om die bes moontlike kombinasie van verrigting en gerief te bied. Boonop plaas die krageenheid die klem op wringkraglewering, en is dit ook Honda se grootste enkelsilinderenjin ooit, met 'n boorwydte en slaglengte van onderskeidelik 102 mm en 84 mm. Omdat die massamiddelpunt by vierwielers besonder belangrik is, is die hoogte van die enjin ook verminder. Die krageenheid dryf die agterwiele deur middel van 'n vyfgang-handratkas aan met onderdele en ratverhoudings wat spesifiek vir hul rol in die sport-vierwieler aangepas is. Die ratkas spog met 'n trurat, en is in die middel gemonteer om by die Honda se uniek gesentreerde, regstreekse kettingdryfstelsel in te skakel. Die gesentreerde dryfstelsel is met 'n vindingryke stel ratte en aste toegerus. Die eindrat is vas aan die punt van die teenkantelstaaf en draai 'n eindluierrat, wat op sy beurt die laaste aangedrewe rat draai. Dié rat is weer op 'n as gemonteer wat binnewaarts, in die rigting van die middellyn, gerig is. Die aandryf-tandrat is op die punt van hierdie as gemonteer. Die rateenheid is besonder kompak en is net 33 mm links van die TRX700XX se middellyn gemonteer, sodat die ketting reguit na agter en oor die agterste tandrat kan beweeg. Die gesentreerde dryfstelsel is deur Honda ontwerp om die probleme aan te spreek wat gewoonlik gepaard gaan met die pas van 'n onafhanklike agterveerstelsel met verlengde veeraksie op 'n vierwieler. Die bonkige tandrat en ketting-samestel wat gewoonlik by meer konvensionele vierwieler-ontwerpe aangetref word, maak dit onmoontlik om die A-arms van die mikvere naby as aan die middelpunt te monteer. Dit veroorsaak dat die A-arms verkort moet word om te keer dat die monteerpunte nie te naby aan die kettinglyn beland nie. En dit veroorsaak op sy beurt weer dat wielvlughoekveranderinge baie groter is wanneer die vere saampers of rek. Alternatiewe oplossings, soos om die monteerpunte van die A-arms laer te plaas en met net een boonste monteerskakel oor die weg te kom, verminder die grondvryhoogte en beteken dat die vering aan meer wring- en draaimagte blootgestel word. Met Honda se gesentreerde dryfstelsel kan A-arms van presies die regte lengte vir die onafhanklike agtervering aangewend word, wat veranderinge in die wielvlughoek beperk, en ook vastrapvermoë ingrypend bevoordeel. Die gesentreerde uitleg help ook met die verspreiding van massa rondom die middelpunt van die voertuig, wat beter hantering tot gevolg het. Nog 'n voordeel van die gesentreerde kettingdryfstelsel is die vermoë om langer asstawe in te span, wat die hoek van die konstante snelheidskoppelings verminder. Dit verminder wrywingsgerigte kragverliese en hitte-opbouing. Die onafhanklike agtervering van die TRX700XX se boonste en onderste A-arms, asook die nawe, is van staal gemaak. Die 11-duim wiele is egter van aluminium, en is met 22x9R-11 Dunlop-straallaagbande toegerus. 'n Nie-verstelbare teenkantelstaaf is standaard, asook die skokbrekers met hulphouers, wat skroef-tipe verstelling vir voorlading bied. Die veerspeling beloop 269 mm. Die voorste vering maak ook van 'n volledig onafhanklike, dubbele mik-ontwerp gebruik. Die A-arms is van staal, en die topgehalte-skokbrekers het twee enkelvere, wat saam steeds vir voortdurend verstelbare veerspeling sorg - maar in 'n stelsel wat ligter en eenvoudiger is. Weer eens kan die voorlading met 'n skroef-tipe versteller aangepas word, terwyl die voorste nawe van aluminium is en toegerus is met aluminiumwiele van 10 duim, waarop 21x7R-10 Dunlop-straalbande gepas is. Die veerspeling voor is 236 mm. Die Honda se remstelsel is hidroulies en span twee 174 mm-remskywe voor, en 'n enkele remskyf van 200 mm agter in. Die agterste remskyf is simmetries met die gesentreerde dryfstelsel gemonteer, wat dié uitleg nog verder bevorder. Die uiters gevorderde, hoëverrigtingskomponente van die TRX700XX is in 'n besonder aantreklike, uiters aggressiewe baadjie geklee. Die stilering plaas nie net die klem op estetiese waarde nie, maar ook op praktiese gebruik. Die TRX700XX se stootstaaf is van poli-eteen en die beskermers vir die agterste A-arms van polipropileen gemaak, terwyl die beskermdele vir die raam en krukkas van hoë-impak uretaan vervaardig is. Al dié komponente is duursaam en liggewig, maar ook maklik om te vervang. 'n Geïntegreerde koplig met twee gloeilampe van 30 Watt elk sorg vir puik beligting, terwyl 'n helder agterste LED-remlig bes moontlik juis die aansig gaan wees van diegene wat in die saal van die TRX se mededingers is. Met Honda se legendariese afwerking, gekoppel aan vernuftige ontwikkelinge soos die gesentreerde kettingdryfstelsel, bied die TRX700XX 'n ongeëwenaarde kombinasie van hantering en enjinverrigting. Dit sal na verwagting die nuwe standaard stel waarteen ander sport-vierwielers gemeet word. Die TRX700XX is beskikbaar in twee kleurskemas - Metaalswart/Silwer en Metaalswart/Rooi - en is te koop teen 'n voorgestelde kleinhandelsprys van R74 999. Die vierwieler is beskikbaar by alle gemagtigde Honda-motorfietshandelaars landwyd. SLEUTELKENMERKE ONDERSTEL/VERING BYKOMENDE KENMERKE SPESIFIKASIES VERING REMME BANDE AFMETINGS |
B D E F G H I K L M N O P R |