Honda se uiters gewilde sportnutsvoertuig (SNV), die CR-V, het ’n aantal belangrike verbeteringe vir die 2010-modeljaar ondergaan.
Onder die verskille tel ’n reeks subtiele veranderinge aan die voertuig se voorkoms, terwyl die benaming van die reeks ook aangepas is. Maar die groot nuus is die gebruik van ’n skoner, kragtiger turbodieselenjin, wat boonop vir die eerste keer met ’n outomatiese ratkas gebied word.
Dit volg op die aansienlike behoefte aan ’n turbodiesel-weergawe met ’n outomatiese ratkas, en sal na verwagting die vraag na die CR-V nog verder laat toeneem.
Hoewel die nuwe turbodiesel-eenheid heelwat meer krag en wringkrag lewer, sorg die pas van ’n dieselroetfilter dat die enjin se uitlaatgasvlakke laer as voorheen is.
“Ons is geruime tyd reeds bewus van die groot vraag na ’n turbodiesel-aangedrewe CR-V met die bykomende gerief van ’n outomatiese ratkas,” sê Graham Eagle, direkteur van verkope en bemarking by Honda Suid-Afrika.
“Ons moes egter wag totdat die nuwe, verbeterde i-DTEC-kragbron beskikbaar geraak het voor ons ’n outomatiese ratkas by ons dieselaangedrewe CR-V-aanbod kon voeg. Ek glo vas dat voornemende klante wat die jongste model toetsbestuur, saam sal stem dat die nuweling aan hul stoutste verwagtinge voldoen.”
Eagle wys daarop dat die nuwe enjin nie net kragtiger as tevore is nie, maar ook meer doeltreffend is, wat uitstekende verrigting, brandstofverbruik en verfyning tot gevolg het.
“Hierdie gevorderde kragbron pas volmaak by ons gladskakelende outomatiese vyfgangratkas. Dié kombinasie skep ’n splinternuwe, uiters aantreklike vlagskipmodel vir die CR-V-familie. Trouens, die aangepaste reeks voldoen nou aan al die verwagtinge van kieskeurige kopers in die SNV-marksegment.”
Die jongste Honda CR-V-modelreeks bestaan uit ses modelle, waarvan vier steeds deur die bewese, brandstofingespuite viersilinder-petrolenjin van 2,4 liter aangedryf word.
Dié viertal bied ’n keuse van twee toerustingvlakke – wat voortaan onderskeidelik as ‘Elegance’ en ‘Executive’ bekend staan – en met ’n sesgang-handratkas of ’n outomatiese vyfgangratkas toegerus kan word.
Die oorblywende twee CR-V-modelle is albei Executive-weergawes, en word deur die nuwe 2.2 i-DTEC-enjin aangedryf. Hulle kan eweneens met òf die sesgang-handratkas, òf die outomatiese vyfgangratkas toegerus word.
Wat stilering betref, is die mees opmerklike veranderinge aan die voorkant van die Honda, waar ’n meer opvallende sierrooster en ’n nuwe voorste stamper aandag trek. Die agterstamper is ook nuut, en beide stampers is ten volle kleurbypassend in die geval van die Executive-weergawes.Daarbenewens is die allooiwiele van 17 duim ook nuut, en met 225/65 R17-bande geskoei. Dié kombinasie is standaardtoerusting op alle modelle, en gaan gepaard met ’n volgrootte noodwiel.
Binne is die veranderinge veral gemik op die skep van ’n meer weelderige, gehaltegerigte atmosfeer deur van deftige afwerkings en beter plastiek gebruik te maak. Al ses weergawes in die aangepaste reeks kry leerbekleedsel as standaardtoerusting.
Die klankstelsel se beheerpaneel is herontwerp en is nou makliker om te gebruik, terwyl nog meer doeltreffende klankdemping sorg dat geruisvlakke verder verlaag is. Dit skep ’n stiller, meer ontspanne bestuursomgewing.
Die nuwe 2.2 i-DTEC-turbodiesel is identies aan die kragbron wat reeds in Honda se jongste Accord-reeks ingespan word. Die eenheid se maksimum-kraglewering beloop 110 kW by 4 000 r/min, met ’n gepaardgaande wringkragpiek van 350 Nm by 2 000 r/min.
Dit vergelyk uitstekend met die vorige enjin se 103 kW en 320 Nm, en sorg vir beter werkverrigting en bestuurbaarheid. Dus versnel die handratweergawe in net 9,6 sek van 0 tot 100 km/h en bereik ’n topsnelheid van 190 km/h.
Die nuwe, outomatiese ratkas-weergawe versnel in 10,6 sek van 0-100 km/h, en behaal ’n topsnelheid van 187 km/h.
Ondanks die bykomende krag en werkverrigting, is die jongste CR-V 2.2 i-DTEC ook meer brandstofdoeltreffend, met ’n syfer van net 6,7 liter/100 km in die gekombineerde siklus. Op die oop pad daal die verbruiksyfer tot net 5,8 liter/100 km.
Die outomatiese weergawe se brandstofverbruik is amper net so suinig, met syfers van 7,5 en 6,3 liter/100 km vir die gekombineerde siklus en op die oop pad onderskeidelik.
Veral belangrik is die pas van ’n dieselroetfilter op die i-DTEC-kragbron, wat beteken dat dié enjin nou aan die streng Euro 5-uitlaatgasvereistes voldoen. Die eenheid benut diesel met ultra-lae swaelvlakke van net 50 dpm, wat deesdae aansienlik meer algemeen in SA beskikbaar is as voorheen.
Nes tevore benut die petrolaangedrewe CR-V-modelle steeds die bewese en betroubare 2.4 i-VTEC-viersilinderkragbron, wat met ‘intelligente’ aanpasbare kleptydreëling, dubbele bonokaste en vier kleppe per silinder toegerus is. Maksimumkrag beloop 122 kW by 5 800 r/min, terwyl die wringkragpiek van 220 Nm by 4 200 r/min bereik word.
Die verrigtingsyfers van die handratweergawes is identies aan dié van die turbodiesel-modelle, met ’n versneltyd van 9,6 sek van 0-100 km/h, en ’n topsnelheid van 190 km/h. Petrolverbruik in die gekombineerde siklus beloop 9,4 liter/100 km.
Wat die outomatiese petrolmodelle betref, word die versneltoets van 0 tot 100 km/h in 11,1 sek afgelê, met ’n topsnelheid wat eweneens op 190 km/h te staan kom. Dié CR-V sluk 9,5 liter petrol vir elke 100 km/h wat in die gekombineerde siklus afgelê word.
Al ses weergawes in die jongste CR-V-reeks maak gebruik van Honda se ‘Real Time’-vierwieldryfstelsel, wat seepglad en onmiddellik kraglewering van die voorwiele na die agteras stuur wanneer toestande dit vereis.
Die onafhanklike voor- en agtervering sorg steeds vir die CR-V se hooggeagte ritgerief en hantering, ongeag die terrein waaroor daar gery word.
Veiligheid bly steeds ’n hoë prioriteit wat die hele opgeknapte CR-V betref, en die reeks is met ’n indrukwekkende arsenaal veiligheidstelsels as standaard toegerus.
Onder die passiewe stelsels tel dubbele lugsakke voor, tesame met kantlugsakke en gordynlugsakke aan weerskante. Daar is ook driepunt-rukstopgordels, aktiewe nekstutte voor, en ISOFIX-ankers vir kleuterstoeltjies.
Wat aktiewe veiligheid betref, bied die CR-V-reeks ABS-skyfremme met EBD-elektroniese remkragverspreiding en EBA-noodrembystand. Ook op die lys is VSA-voertuigstabiliteitsbeheer, TSA-treilerstabiliteitsbeheer, en ’n stelsel wat oor banddrukverlies waarsku.
Executive-weergawes kry boonop xenon-hoofligte wat outomaties aktiveer wanneer dit donker word, ruitveërs wat van self aanskakel wanneer dit begin reën, en ’n truspieël wat outomaties verdof.
Uiteraard is die lys standaardtoerusting wat die jongste CR-V-modelreeks bied, uiters volledig. Dit sluit onder meer ’n bestuurdersitplek in wat op agt verskillende maniere elektries verstel kan word, terwyl beide voorsitplekke verhit is.
Alle CR-Vs beskik oor ’n CD-klankstelsel met ses luidsprekers wat ook MP3- en WMA-musiekleêrs kan speel, en boonop ook oor ’n bykomende aansluiting beskik waaraan ’n MP3-speler gekoppel kan word. Luimbeligting, elektries beheerde ruite en buitespieëls, en ’n ritrekenaar is verdere items op die lys.
Onder die sekuriteitstoerusting wat standaard gebied word tel ’n alarm met geïntegreerde immobiliseerder, ’n sentrale sluitstelsel met sleutelvrye afstandbeheer en snelheidsgerigte outomatiese sluiting, en ’n wegvoubare bagasieruimdeksel.
Die Executive-modelle is nog meer volledig toegerus. Die klankstelsel spog met ’n ingeboude magasyn vir ses CDs, asook ’n bykomende laefrekwensie-luidspreker en ’n aansluitpunt vir ’n iPod-musiekspeler.
Die lugversorging bied outomatiese temperatuurreëling vir twee afsonderlike sones, en daar is ’n elektries beheerde glassondak. Daarbenewens bied die Executive-weergawes ook parkeersensors voor en agter, verhitte buitespieëls wat elektries kan terugvou en na onder kantel as daar agteruit gery word, ’n wyehoekspieël om ’n ogie oor kinders agter te hou, en ’n dubbelvlak-bagasieruimdeksel.
Die opgekikkerde 2010 Honda CR-V-modelreeks is van Januarie 2010 by alle gemagtigde Honda-handelaars landwyd beskikbaar. Die voorgestelde kleinhandelsprys sluit ’n waarborg van drie jaar/100 000 km in, asook ’n diensplan van vyf jaar/90 000 km. Die dienstussenposes is 15 000 km vir alle weergawes in die reeks.
HONDA CR-V-MODELREEKS EN PRYSE
2.4 i-VTEC Elegance Handrat R347 900
2.4 i-VTEC Elegance Outomaties R361 400
2.4 i-VTEC Executive Handrat R391 900
2.4 i-VTEC Executive Outomaties R405 400
2.2 i-DTEC Executive Handrat R421 900
2.2 i-DTEC Executive Outomaties R435 400
Related posts:
















Bespreking
Kommentaar word nie toegelaat by hierdie bydrae nie.
Kommentaar is gesluit.