Die Adenco 400, die openingsronde van vanjaar se Absa-Veldrenkampioenskap op 11 en 12 Maart, het weer in ‘n gemeenskapsprojek van die dorpie Darling in die Wes-Kaap geword.
Plaaslike grondeienaars, besighede en skole gooi almal hul gewig agter die byeenkoms wat vanjaar ‘n nuwe roete van ongeveer 30 kilometer insluit. Die byeenkoms word deur die Cape Peninsula Motorcycle and Car-klub georganiseer met die roetebeplanning en ander sake wat nou in die finale stadiums is.
“Die reaksie van die Darling-gemeenskap en mense in die omliggende omgewing was weer eens ongelooflik,” het die roetedirekteur, Bill Bright, gesê. “Hulle het die ren weer as ‘n gemeenskapsprojek gesien en dit het die lewe heelwat makliker vir die organiserende span gemaak.
“Ons het ook nuwe terrein van ongeveer 30 kilometer gevind wat nog nie voorheen gebruik is nie en dit sal dit vir die deelnemers nóg interessanter maak.”
Bright het bygevoeg dat die roete vanjaar nie die Mamre Trust- en Kloof-gebiede sal besoek nie, maar dat dit nou gedeeltes op die bekende Groote Post-wynlandgoed en die Oatlands Dairy sal insluit.
“Alhoewel daar steeds werk is wat afgehandel moet word om die roete te finaliseer, is ons seker dat die nuwe gedeeltes die byeenkoms selfs meer uitdagend sal maak,” het Bright bygevoeg. “Die roete beslaan ‘n wye verskeidenheid terrein en ons het elke kruin en koppie in die area gebruik.”
Die renhoofkantoor sal weer by die Darling-klub wees waar die People Parc Ferme-fasiliteit, wat die sosiale middelpunt van die byeenkoms is, in volle gang sal wees. Die ren sal vanjaar uit drie sirkelroetes van ongeveer 120 kilometer bestaan en dit sal vir verhoogde aktiwiteite in die Aangewese Dienspark (DSP) en die People Parc Ferme, waar toeskouers die jaers, navigators en tegniese spanne kan ontmoet, sorg.
Die byeenkoms sal Vrydag om 12:00 met die Donaldson-voorren begin. Die voorrenroete sal ongeveer 45 kilometer lank wees en sal die wegspringposisies vir die hoofren die volgende dag bepaal.
Die hoofren sal om 08:30 by die Darling-klub afskop en ‘n gebruikersvriendelike roete sal verskeie toeskouerpunte insluit wat almal binne maklike bereik van die begin- en eindpunt asook die DSP is. Publieke toegang tot die begin- en eindpunte en DSP asook die toeskouerpunte is gratis en toeskouergidse sal by die renhoofkwartier beskikbaar wees.
bydrae: Charmaine Fortune



Bespreking
Kommentaar word nie toegelaat by hierdie bydrae nie.
Kommentaar is gesluit.