// jy lees ...

Motors

Adenco gaan kook

Dit lyk of die Adenco 400, die openingsronde van vanjaar se Absa-Veldrenkampioenskap wat op 11 en 12 Maart in die Wes-Kaap aangebied word, hittig gaan wees – in meer as een opsig.

Volgens die roetehoof, Bill Bright van die Kaapse Skiereiland Motorfiets- en Motorklub, was dit die afgelope twee maande uiters warm in die Darling-omgewing waar die renhoofkantoor is. Alhoewel daar verwag word dat die temperatuur oor die volgende paar weke sal daal, word warm, droë en stowwerige toestande steeds verwag.

Behalwe vir die weersomstandighede, word warm voorspel as daar na die voorlopige inskrywingslys gekyk word. Sodra die laaste inskrywings in berekening gebring word, kan die 55-merk verbygesteek word, maar dit is die kwaliteit in beide die Produksie- en Spesiale Voertuigkategorieë wat daarop dui dat ‘n paar klaskampioenskapstryde weer eens die hele seisoen sal voortduur.

Die voorlopige inskrywingslys beklemtoon ook interessante ontwikkelings in beide die Produksie- en Spesiale Voertuigkategorieë. Spanveranderings en nuwe renvoertuie dra tot die afwagting by en die seisoen gaan verseker op ‘n hoë noot afskop.

Op die Produksievoertuigfront jaag Span Castrol-Toyota teen tyd om ‘n paar nuwe Toyota Hilux-inskrywings gereed te hê vir die aksie in die Klas SP-kategorie. Dié klas gaan weer eens uiters mededingend wees met 16 inskrywings wat reeds vir die Adenco 400 ontvang is.

Bo-aan die inskrywingslys is die huidige SA-kampioene, Chris Visser en Japie Badenhorst in die Visser Transport-Toyota Hilux. Hulle sal poog om ‘n tweede agtereenvolgende sege in die Wes-Kaap aan te teken en sal weer mik om die aanslag van privaatspanne teen die fabrieks-Toyota- en Ford Racing-spanne te lei.

Die huidige kampioene, Deon Venter en Ian Palmer, sal die vroeë gunstelinge in Klas D wees, maar sal deur die jong Lance Woolridge en Ward Huxtable, wat van Klas E opgeskuif het, getoets word. Woolridge as tiener was ‘n verrassing in sy eerste volledige nasionale renseisoen laas jaar en sy vooruitgang sal versigtig gemonitor word.

Die Ruwacon Racing-Ford Ranger-paar, Gerald le Roux en Willem Pretorius, sal ook vir nóg ‘n Klas E-oorwinning tydens die Adenco 400 mik. Hulle sal as die gunstelinge voor Diederik Hatting begin wat ‘n nuwe navigator, Kristo Bosman in die Transcor-Toyota Hilux het.

Die groot nuus in die Spesiale Voertuigkategorie is die skuif na Klas A van Johan van Staden en James Rossouw in die Atlas Copco-BAT. Dié paar het Klas P laas jaar oorheers en het geskiedenis gemaak toe hulle die eerste Klas P-span geword het om ‘n nasionale byeenkoms algeheel te wen.

Dié paar behoort ‘n groot bedreiging vir die bestaande Klas A-spanne te wees wat deur die huidige kampioene, Kallie en Quintin Sullwald in die Elegant fuel-BAT gelei sal word. David en Gary White in die Ruwacon-BAT het ook uit Klas P opgeskuif en kan vir ‘n verrassing of twee sorg.

In ander ontwikkelinge het Shameer Variawa en Siegfried Rousseau, wie se hoop op ‘n kampioenskap in 2010 tydens die laaste byeenkoms soos mis voor die son verdwyn het, hul langdienende Porter aan Daniel en Louw Zeelie verkoop. Hulle sal nou hul aanslag met die BAT Spec 4 waarmee oorlede Bevan Bertholdt deelgeneem het, voortsit en hul stryd met die Sullwalds sal voortduur.

Die veteraan, Wolf-Peter Pfumfei keer op ‘n gereelde basis na die aksie op nasionale vlak terug en wel in die WPP in Klas B en bestendigheid kan van hom ‘n kampioenskapsmededinger maak. Opposisie kan van die pa- en dogterspan van Coetzee en Sandra Labuscagne in die Raysonics-Zarco asook van Keith Makenete, wat nou met Letlatsa Lehana in nóg ‘n Zarco kragte saamspan, verwag word.

Andrew Makenete was sy broer se navigator en het dit verruil om agter die stuur van nóg ‘n Zarco in die hoogs mededingende Klas P in te skuif. Makenete en Thabo Mochebelele sal spanne soos die voormalige kampioene, Johan en Etienne Bezuidenhout (Adenco BAT); die blitsige Colin Matthews en Alan Smith (Century Racing BAT); die algehele wenners van die RFS Magalies 400, Archie Rutherford en sy navigator wat nog aangekondig moet word (Regent Racing Jimco); Marius en Jolinda Fourie (PHB BAT) en die Swaziland-span, John Thomson en Clinton McNamara in ‘n Zarco aanvat.

Die Donaldson-voorren wat die wegspringrooster bepaal, sal Vrydag, 11 Maart om 13:00 begin met die hoofren wat Saterdag, 12 Maart om 08:30 sal afskop. Die wegspring- en eindpunte van die voorren en die hoofren asook die aangewese dienspunt sal by die Darling-klub wees.

‘n Toeskouervriendelike roete sal toeskouers van verskeie uitkykpunte voorsien wat almal binne maklike bereik van die Darling-klub sal wees. Publieke toegang tot die begin- en eindpunte; die aangewese dienspunt en toeskouerpunte is gratis.

bydrae: Charmaine Fortune


Bespreking

Kommentaar word nie toegelaat by hierdie bydrae nie.

Kommentaar is gesluit.