// jy lees ...

Motors

Die toekoms is elektries

Toyota sal die nuwe Prius-inprophibriedkonsep by vanjaar se Frankfurtse Motorskou vertoon. Die inprop-Prius is ‘n verdere stap in die maatskappy se strewe in die ontwikkeling van die alleruiterste ekomotor.

Die bekendstelling van die nuwe konsep sal gevolg word deur ‘n toetsprogram waarin meer as 500 motors aan klante oor die hele wêreld verhuur sal word vir die evaluasie van die Prius se verrigting in normale gebruikstoestande. Bestuurdershoudings en -ondervindings sal ook opgeteken word.

Die Prius Plug-In Hybrid gebruik litiumioonbatterye, wat beteken dat dit verder en by hoër snelhede in stedelike verkeer bestuur kan word as die konvensionele, derde geslag van die volle hibried-Prius. Oor langer afstande, of as die batterystel uitgeput raak, skakel die stelsel outomaties oor na konvensionele petrolkrag. Die gevorderde batterytegnologie beteken dat die batterystel binne 90 minute volgelaai kan word. Die langer afstande wat op suiwer batterykrag afgelê kan word, bring mee dat die Prius Plug-In Hybrid se CO²-emissies afgebring word tot net 60 g/km.

Die inprophibriedkonsep
Die wêreld se bevolking raak al hoe meer verstedelik en navorsing wat Toyota oor pendelpatrone gedoen het, het getoon dat in Brittanje en Frankryk, byvoorbeeld, meer as 80 persent van alle stedelike ritte korter as 25 km is. In Brittanje is ongeveer 80 persent van ritte in stedelike verkeer korter as 10 km. Hierdie syfers bevestig die potensiaal van elektriese aandryfstelsels in die verskaffing van volhoubare mobiliteit oor die kort tot medium termyn.

Die omgewingsvoordele van die gebruik van elektriese motors in stedelike verkeer is voor die hand liggend, maar die ontwikkeling van hierdie voertuie is tot dusver in die wiele gery deur die probleme van gewig, grootte en die koste van hoëkapasiteitbatterye wat vereis word vir selfs ‘n kort ryafstand, asook die gebrek aan ‘n voldoende herlaai-infrastruktuur.
Toyota takel albei hierdie kwessies met die bekendstelling van die Prius Plug-In Hybrid-konsep. Die maatskappy glo dat vooruitgang in batterytegnologie inprophibriedmotors die mees praktiese oplossing bied vir ‘n elektriese kragoorbringstelsel. Die stelsel kom die probleem van ‘n beperkte ryafstand te bowe deur die outomatiese oorskakeling na ‘n tradisionele petrol/elektriese volle hibriedstelsel sodra perk van die EV (Elektriese Voertuig)-reikafstand bereik word.

Die konsepmodel is ‘n verdere ontwikkeling van die nuwe, derdegeslag-Prius en bou voort op die kerntegnologie van die Hybrid Synergy Drive-stelsel om te voldoen aan die vereistes van stedelike motorryers. Dit is ‘n volle hibried waarin die elektriese motor sowel as die petrolenjin die voorwiele kan aandryf. Die suiwer elektriese EV-modus word vir korter afstande gebruik, terwyl die petrolenjin ‘n ware langafstandvermoë aan hierdie Prius bied.

Prius

Prius

Die inprop-Prius spog met ‘n kompakte en praktiese ontwerp vir die batterystel. Die batterystel kan vinnig en maklik herlaai word van ‘n huishoudelike kragpunt, sowel as van ‘n openbare laaipunt.

Meer as 500 Prius Plug-In Hybrid-voertuie sal van vroeg aanstaande jaar af verhuur word aan klante oor die hele wêreld, waarvan meer as 150 in Europa. Danksy hierdie toetsprogram sal Toyota al die tegniese aspekte van die nuwe model in alledaagse gebruik kan evalueer voordat dit op die massamark bekend gestel word. Die huurprogram sal ook waardevolle inligting oplewer oor die markreaksie en van watter eienskappe van die motor bestuurders hou, en waarom.

Verrigting
Die inprop-Prius se kragoorbringstelsel is soortgelyk in formaat aan dié van die Hybrid Synergy Drive wat in die nuwe Prius ingespan word, maar die nikkelmetaalhidriedbattery word vervang deur ‘n nuwe hoëlewering-litiumioonbattery – ‘n eerste in ‘n Toyota-hibriedvoertuig. Die nuwe batterystel is meer kompak en het ‘n hoër volumetriese energiedigtheid, gevolglik het dit geen invloed op die voertuigmassa en -verpakking nie.

Die ander groot voordeel van die nuwe batterystel is dat dit vinniger as die nikkelmetaalhidriedbatterye gelaai kan word. Die batterystel in die Prius Plug-In Hybrid kan binne anderhalwe uur volgelaai word van ‘n 230V-kragpunt af.

Die batterystel dryf die Prius tot ‘n maksimum van 100 km/h in EV-modus aan. Op ‘n volle lading gee dit die motor ‘n reikafstand van ongeveer 20 km – 10 km verder as die nikkelmetaalhidriedbattery in die jongste Prius. Op langer afstande werk die stelsel soos ‘n konvensionele volle hibried.

Danksy die langer afstande wat op suiwer batterykrag afgelê kan word, spog die Prius Plug-In Hybrid met CO²-emissies van ongeveer 60 g/km en, soos ander hibriedmotors, ook laer NOx- en deeltjievlakke.

Gerief
Die Prius Plug-in Hybrid-konsep is net so gerieflik en prakties as die jongste geslag van die Prius. Soos in laasgenoemde het die lugreëlingstelsel afstandbeheer, wat beteken dat die temperatuur in die kajuit op die verlangde vlak gebring kan word voordat die bestuurder wegtrek.

Om bestuurders te help om die voordele van die EV-modus ten beste te benut, is die motor toegerus met ‘n Hibriedstelselaanwyser, wat onder meer inligting verstrek oor die EV-bestuursafstand, gegrond op die vlak van die batterylading.

Die vertoonskerm op die instrumentpaneel het ook ‘n vertoon wat die inprophibried se bydrae tot die vermindering van CO²-emissies illustreer met ‘n grafiese beeld van ‘n enkele boom wat geleidelik toeneem tot ‘n hele bos namate die batterylaaiproses vorder.

As ‘n betekenisvolle ontwikkeling in verantwoordelike, omgewingsvriendelike mobiliteit bied die Prius Plug-In Hybrid-konsep pendelaars en stedelinge al die voordele van ‘n elektriese voertuig, met geeneen van die nadele nie.

Tegniese spesifikasies
PETROLENJIN
Verplasing (cm3) 1 798
Maks krag (kW @ r/min) 71,3 @ 4,000
Maks wringkrag (Nm @ r/min) 142 @ 4 000

ELEKTRIESE MOTOR
Tipe: Permanente magneet/sinchrone motor
Maks lewering (kW) 58,1
Maks wringkrag (Nm) 207

BATTERY
Tipe: Litiumioon
EV-reikafstand (km) 20
Herlaaityd (min) 90 (230V)

EMISSIES
CO² (g/km) <60

BUITE-AFMETINGS
Algehele lengte (mm) 4 460
Algehele breedte (mm) 1 745
Algehele hoogte (mm) 1 490

Share and Enjoy:
  • del.icio.us
  • Google Bookmarks
  • laaik.it
  • Ping.fm
  • RSS
  • Digg
  • FriendFeed
  • Google Buzz
  • Live
  • MySpace
  • Twitter

Related posts:

  1. Toyota vertoon motor van die toekoms
  2. Die nuwe Prius – Lae koste vir die eienaar
  3. Die Prius-projek – ‘n geskiedkundige oorsig
  4. Verbeterde Voertuigdinamika bied ultra-gladde bestuursondervinding in die nuwe Prius
  5. Die volgende geslag van Toyota se Hybrid Synergy Drive-stelsel vir die nuwe Prius

Bespreking

Kommentaar word nie toegelaat by hierdie bydrae nie.

Kommentaar is gesluit.

Switch to our mobile site