// jy lees ...

Motors

Hoofkantore van Toyota Kalahari Botswana 1000-woestynren skuif

Die Toyota Kalahari Botswana 1000-Woestynren wat van 24 tot 26 September in Botswana plaasvind, sal vanjaar nuwe waters binnevaar.

Die renhoofkantore vir dié ren, die sesde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap en die enigste marathon-byeenkoms op die reekskalender en ‘n ren wat deur die Four Wheel Drive-Klub van SA georganiseer word, sal nie by die Game City-kompleks in Gaborone gebaseer wees nie. Die renhoofkantore, tesame met die begin- en eindpunt en die aangewese dienspunt, sal na die dorpie Kumakwane ongeveer 25 kilometer wes van Gaborone verskuif.

“Logistiek was die rede vir die skuif weg van Game City,” het die renvoorsitter, Alan Reid, gesê. “Stedelike ontwikkeling het met Game City, wat gedurende naweke een van die besigste komplekse in Gaborone is, opgevang.

“Die afgelope paar jaar het die verkeer en toevloei van mense ‘n probleem geword vir wat die grootste jaarlikse sportbyeenkoms in Botswana geword het. Ons het besluit om van Game City weg te beweeg en na samesprekings met die betrokke plaaslike owerhede is daar besluit om die byeenkoms by Kumakwane te baseer.”

Volgens die hoofroetedirekteur, André Strauss, word die finale afronding tans aan ‘n roete aangebring en dit sal ongeveer 200 kilometer nuwe terrein insluit. Die roete sal uitdagend vir die deelnemers wees en sal uit al die verskillende soorte terrein wat Botswana bied, bestaan.

“Ons maak gebruik van elemente van roetes wat ons in renne van 2004 tot 2009 gebruik het,” het Strauss gesê, “maar ongeveer 200 kilometer van die roete is nog nie voorheen gebruik nie. Daar is verskeie rivierkruisings en alhoewel die watervlak laag is, gaan dit steeds ‘n uitdaging wees.”

Die 72 kilometer-Donaldson-voorren wat die wegspringposisies Vrydag voor die ren bepaal, sal die spanne ‘n idee gee van wat hulle te wagte kan wees. Die voorrenroete loop noordwes van Kumakwane in die rigting van Molepolole en terug na die beginpunt oor Gakgatla en sluit bosagtige terrein, rivierkruisings en dik sand in.

Saterdag se roete sal uit ‘n 243 kilometer-gedeelte bestaan wat twee keer afgelê moet word. Dit sal spanne van Kumakwane na Lentsweletau oor Mmanoko neem en spanne sal oor Kopong na die einde terugkeer.

Die terrein vir dié gedeelte is meer heuwelagtig as die voorren en is tegnies en uitdagend. Spanne sal Sondag se 207 kilometer-roete ook twee keer moet doen en dit is die “vriendeliker” roete – maar daar sal ‘n kinkel in die kabel wees en wel in die vorm van ‘n gedeelte in diep riviersand.

“Die Toyota Kalahari Botswana 1000-Woestynren is nooit ‘n maklike ren nie en vanjaar sal nie ‘n uitsondering wees nie,” het Strauss gesê. “Dit is nie die soort roete wat die ren van pret ontneem nie, maar dit gaan ‘n uitdaging bied en goeie resultate sal nie maklik bekom word nie.”

Die Donaldson-voorren begin 24 September om 12:00 terwyl Saterdag se ren om 08:00 afskop. Op 26 September sal spanne wat die voorren en dag een oorleef het, wéér om 08:00 wegspring.

bydrae: Charmaine Fortune


Bespreking

Kommentaar word nie toegelaat by hierdie bydrae nie.

Kommentaar is gesluit.