// jy lees ...

Motors

Interessante en uitdagende roete vir Adenco 400

Vir deelnemers wat hoop om die nuwe seisoen gelydelik aan te pak, wag ‘n verrassing tydens die Adenco 400, die openingsronde van vanjaar se Absa-Veldrenkampioenskap wat op 19 en 20 Maart in die Wes-Kaap plaasvind.

Dié byeenkoms, wat weer eens in die Darling-omgewing aan die Weskus gebaseer sal wees, is nou in sy agtste jaar en die organiseerders het nuwighede ontdek om by ‘n uitdaging te voeg wat reeds uitdagend is. Deur die jare het die roete verskeie veranderinge ondergaan, maar om aan die versoek van MSA se Veldrenvoertuigkommissie te voldoen dat byeenkomste tegnies moet wees, sal vanjaar se byeenkoms selfs strawwer wees.

“Laas jaar het ons daarin geslaag om die gemiddelde spoed grootliks af te bring en die voorste spanne het die roete in net minder as ses ure voltooi,” het die roetehoof, Bill Bright, van die Kaapse Skiereiland Motorfiets- en Motorklub gesê. “Ons het weer eens die samewerking van die grondeienaars gekry en ‘n paar nuwighede het ons toegelaat om bykomende hindernisse daar te stel.

“Die ren sal weer uit twee 165 km-sirkelroetes bestaan en die veranderinge behoort die spoed verder te verlaag. Ons skat dat dit die voorste voertuie meer as ses ure sal neem om die roete te voltooi en ek dink dat ons daarin geslaag het om met ‘n roete vorendag te kom wat uitdagend en interessant sal wees.”

Die Donaldson-voorren van 19 Maart wat die wegspringposisies vir die volgende dag se hoofren bepaal, sal om 13:30 by die Darling-sportklub begin. Donaldson-filtreringstelsels het die uiters suksesvolle Donaldson-Nissan-span laas jaar ondersteun en het vanjaar by Ford en Toyota as vennote by Absa in die veldrenkampioenskap aangesluit. Hulle borg die seisoen se agt voorrenne.

Die 96 km-voorren sal aan deelnemers ‘n voorsmakie gee van wat hulle tydens die hoofren kan verwag en sal spanne in die rigting van Kraalbosdam op die R315 na Yzerfontein neem. ‘n Goeie wegspringposisie is belangrik vir sukses in die ren en die Donaldson-voorrenne gaan dié seisoen vir ongelofflike renaksie sorg.

Die ren op 20 Maart sal by die Darling-sportklub begin en eindig. Die sentrale dienspunt sal ook by die klub wees met die roete wat weer eens toeskouervriendelik sal wees.

“Daar is heelwat goeie toeskouerpunte langs die voorren en die hoofren se roetes,” het Bright gesê. “Dit is almal binne maklike bereik van die begin- en eindpunt en is toeganklik van die hoofpaaie.”

bydrae: Charmaine Fortune


Bespreking

Kommentaar word nie toegelaat by hierdie bydrae nie.

Kommentaar is gesluit.