Subaru Suider-Afrika se eksklusiewe Legacy-sportsedan en weelderige Outback-sportnuts kry die maand nuwe modelle aan die bopunt van die reeks by, wat al twee modelreekse stewig tot in die middel van die weeldemark sal verhef en die beste in die bedryf die stryd kan aansê.
Splinternuwe Legacy- en Outback-reekse is verlede jaar in Oktober bekend gestel, en pronk met meer ruimte vir passasiers sowel as hul bagasie, verbeterde verrigting, meer gevorderde tegnologie, beter veiligheidstoerusting (sewe lugsakke is nou deel van hul standaard-toerusting) en selfs nog beter gehalte as wat dit voorheen die geval was. Subaru het sy voorneme om ’n mengsel van ontwikkeling en nuwigheid vir sy jongste generasie ontwerpe te gebruik, bevestig met eienskappe soos die Lineartronic-palwisseltransmissie, elektroniese werking vir die handrem, en ’n magdom nuwighede aan sy beproefde 2,0ℓ- sowel as 2,5ℓ-Boxer-enjins.
“Hierdie nuwe vlagskip-modelle is gepaste toevoegings tot ons twee modelreekse wat die toekoms vir die fabrikaat verteenwoordig,” het Grant Bowring, Subaru Suider-Afrika se handelsnaam- en bemarkingsbestuurder, gesê.
“Die Legacy en die Outback het ons gehalte- en ontwerpstandaarde tot ’n hoër vlak gevoer en hoewel die vooraanstaande posisionering van al twee weergawes nog altyd ’n voldonge feit was, is dit in hul jongste gewaad duidelik dat Subaru se ingenieurs die dwarslat gelig het.
“Ons val nou met die vlagskip-2.5 GT en 3.6R in die smaak van daardie kieskeurige individue wat ’n motor wil hê wat nie net hul sukses weerspieël en hulle die geleentheid gee om die lewe op hul eie voorwaardes te geniet nie, maar ook met uitstaande verrigting kan pronk wat in alle toestande met die grootste veiligheid benut kan word.”
Hoewel die motors se karakter baie verskil, slaan al twee munt uit Subaru se intelligente aandrywing (Subaru Intelligent Drive (SI-Drive)), wat drie verskillende ry-ervarings agter die stuur van dieselfde motor bied.
Die SI-Drive se drie verstellings (Intelligent, Sport en Sport Sharp) vervolmaak brandstofverbruik en rygemak in stop-ry-verkeer, bied ’n lewendige reaksie in vloeiende snelweg- of stadsverkeer, of sorg vir ’n ratse sportiewe rit op die oop pad. Binnenshuise toetswerk deur Fuji Heavy Industries, die vervaardiger van Subaru-voertuie, dui daarop dat ’n voertuig wat met die ratkas in die intelligente modus gery word, ’n reikafstand van tot 10% meer kan haal.
Subaru het tegnologie benut om die impak van sy motors op die omgewing op verskeie ander maniere ook te verminder, en die gevolg is dat die Legacy GT se koolstofdioksied-uitlate met 31g/km tot 228 in die gekombineerde siklus verminder is – ’n verbetering van 12 persent. Die CO2 wat deur die sessilinder-Outback vrygestel is, is met 8,7 persent verminder terwyl sy brandstofverbruik met 7,2% verbeter het.
Dit is nodeloos om te sê dat gemak en gerief in oorvloed is: volle leerbekleedsel regdeur, outomatiese werking vir die ruitveërs en kopligte wanneer die toestande dit vereis, elektries verstelbare sitplekke vir die bestuurder sowel as die voorste passasier, (aan die bestuurderskant het dit ook ’n geheue), elektries beheerde sondak en Xenon HID-kopligte sowel as dubbelsone-klimaatbeheer met afsonderlike luguitlate wat alles op die lang lys toerusting aangetref word. Die motors het ook slim sleutellose toegang en ’n drukskakelaar-aansitter – die bestuurder kan die motor bloot oopmaak en aanskakel solank die sender byderhand is. As dié stelsel gebruik word om die motor oop te sluit, word die bestuurdersitplek outomaties ingevolge die geheueverstelling verskuif. Om in te klim en aan te skakel is in die geval van al twee motors ietwat van ’n opwindende prosedure in eie reg …
Die siel van al twee reekse bly soos voorheen die kombinasie van die simmetriese aandrywing deur al vier wiele en die Boxer-enjin, en dit is op die gebied van wat onder die enjinkap aangetref word waar die vlagskipweergawes van die modelle wat in Oktober 2009 bekend gestel is, verskil.
Die Legacy 2.5 GT Premium, wat R439 000 kos, kry ’n turbo-aangejaagde dubbelbonokas-weergawe van die 2,5-liter-enjin, wat beteken hy het nou 195 kW se krag teen 5 600 r/min en ’n hele 350 Nm se wringkrag wat van 2 400 r/min onder die regtervoet beskikbaar is.Veranderings aan die ontwerp van die turbo-aanjaer het die verrigting verhoog en uitlate verminder, en die enjin voldoen nou aan die EURO4-uitlaatvereistes terwyl die wringkragkurwe al die pad tot by 5 200 r/min relatief plat bly en vir moeitelose ry in alle toestande sorg.
Soos dit ’n vlagskip-model betaam, verpersoonlik die GT dit waarvoor Legacy staan: die mag van sukses, en ’n passie vir gehalte en weelde. Die model verpersoonlik die samevoeging van krag en beheer vir uitstaande bestuurdersgenot danksy die toegevoegde verrigting wat deur die turbo-aangedrewe kragbron losgelaat word.
’n Tussenverkoeler waarvan die kern 25% groter is, ’n meer beknopte uitlaatstelsel, hersiene turbo-inlate vir gladder lugvloei en sleur wat tot die minimum beperk is, lewer alles ’n bydrae tot die verhoogde kraglewering. Interne veranderings sluit in ’n hersiene vorm vir die ontbrandingskamer en ’n nuwe aktiewe klepbeheerstelsel (AVCS) vir die uitlaatstelsel met ’n nuwe nokprofiel wat vir beter verrigting, groter brandstofdoeltreffendheid en minder uitlate sorg.
’n Outomatiese vyfgang-SportshiftTM-transmissie met pedale aan die stuurwiel is fyn hiervoor ingestel (wat versnellerbeheer vir rat-terugskakeling insluit) en reageer oombliklik op die bestuurder se insette.
Die Legacy 2.5 GT kan van buite uitgeken word aan sy 18-duim-allooisierwiele, die doelontwerpte sportiewe voorste stamper en sierroostersamestel, sowel as tweeling-stertpype. Die veranderinge aan die binneruim is ook subtiel en smaakvol, maar ewe belangrik.
Die Outback 3.6R Premium, wat R459 000 kos, pronk met ’n sessilinder-enjin wat aan die outomatiese vyfgang-SportshiftTM-transmissie gekoppel is, en lewer 191 kW teen 5 600 r/min met 350 Nm se wringkrag teen 4400 r/min.’n Mens het net een enkele woord nodig om die Outback 3.6R op te som – vryheid: die vryheid om avonture in die gemak en styl van die Outback se kenmerkende praktiese karakter en ruimte te gaan soek. Die voertuig het danksy sy hope verrigting die vermoë om oral met die grootste vertroue te ry, en terrein te dek op ’n manier wat dié wat aan die fyner dinge van die lewe gewoond is, sal waardeer.
Veranderlike kleptydreëling vir die inlaat- sowel as uitlaatkleppe sorg vir volmaakte kraglewering regdeur die breë werktempo van die enjin, terwyl dit ook brandstofverbruik vervolmaak – en dit is dus geen verrassing dat die enjin aan die EURO4-uitlaatvereistes voldoen nie.
Dunner silinderomlystings het die boordeursnit verhoog, terwyl die krukasslag van 80mm tot 91mm gerek is om die verplasingsinhoud van 3 630cc moontlik te maak. Die in- en uitlaatkleppe is groter in vergelyking met dié van die vorige 3,0-enjin, terwyl die inlaatspruite, die uitlaatstelsel en inspuitertempo’s verander is om daarby te pas.
Die vlagskip-model in die Outback-reeks se binneruim staan uit danksy die houtgrein-afwerking aan die deure en voorpaneel, wat smaakvol met die metaal-voorkoms van die middelkonsole kontrasteer. Hoewel weelde en gemak noodsaaklik vir die Outback-leeftyl is, sorg die stasiewa-uitleg vir groot vragte bagasie wanneer die agterste sitplekke weggevou is.
Die ‘R’-weergawe het selfverstellende agtervering, terwyl sy stertdeur net soos in die geval van sy 2,5i-stalmaat outomaties oopsluit. Die Outback 3.6R het ook dakrelings waarmee die toerusting wat ongetwyfeld deel van die Outback-leefstyl sal vorm, gedra kan word.
Die nuwe Legacy 2.5GT en Outback 3.6R word net soos elke ander Subaru met ’n waarborg van drie jaar of 100 000km, ’n instandhoudingsplan van 3 jaar/63 000km en wat tot vyf jaar of 200 000km verleng kan word, verkoop – iets wat al twee modelle logiese keuses maak vir kopers in twee uiteenlopende segmente wat nogtans na nie net ’n genotvolle ry-ervaring nie, maar ook die eienaarskapservaring smag.
Uiteindelik voldoen al die modelle in die Legacy- en Outback-reeks aan pryse sonder invoerbelasting. Dit beteken dat diplomate wat in Suid-Afrika woon en werk, sowel as kwadrupleë en parapleë – ’n groep wat ’n voorkeur vir Subaru se produkte het weens die uiters maklike in- en uitklim en algemene maklike gebruik – ’n aansienlike korting geniet nadat die motor omgebou is om met handkontroles gebruik te word.
Related posts:

















Bespreking
Kommentaar word nie toegelaat by hierdie bydrae nie.
Kommentaar is gesluit.