Die Absa-Veldrenkampioenskap het ‘n nuwe top-borg gekry.
Donaldson Filtration Systems, ‘n wêreldwye leier in die verskaffing van filtrasiestelsels, het by Ford en Toyota as vennote by Absa aangesluit in ‘n reeks wat ‘n juweel in die Suid-Afrikaanse motorsportkroon is. Donaldson, wat Nissan Motorsport tydens die 2009-seisoen ondersteun het, sal ook naamregte vir die voorrenne, wat vóór die hoofrenne plaasvind en die wegspringposisies bepaal, hê.
“Ons het ‘n uiters suksesvolle 2009-seisoen beleef met die Donaldson-Nissan-span wat eerste, tweede en derde in die kampioenskap geëindig het,” het Donaldson se besturende direkteur, Rob Simpson, gesê. “Ons wil graag ons verbintenis met die Absa-Veldrenkampioenskap en MSA se Veldrenvoertuigkommissie voortsit.
“Ons leuse is ‘give us dirt, we’ll give you champions!’ en ons sien daarna uit om op ons resputasie as verskaffers van hoogstaande filtrasiestelsels aan die motorindustrie, voort te bou.”
Simpson het bygevoeg dat Donaldson-filtrasiestelsels ontwerp is om die verrigting van kliënte se toerusting te verbeter en die omgewing te beskerm. Tegnologie en verrigting dryf die maatskappy en hulle voldoen aan kliënte se behoeftes deur middel van meer as 100 vervaardigings-, verkope en verspreidingslokale regoor die wêreld.
Die president van MSA se Veldrenvoertuigkommissie, Richard Schilling, het gesê dat die kommissie verheug is om Donaldson in veldrengeledere te verwelkom. Hy het bygevoeg dat dit ‘n verdere aanduiding is van die soliede posisie wat veldrenne in Suid-Afrikaanse motorsport geniet.
“Met die voortgesette ondersteuning van toegewyde borge en vennote soos Absa, Donaldson, Ford en Toyota geniet die sport ‘n soliede platform en is daar baie potensiaal vir toekomstige groei,” het Schilling gesê. “’n Borg vir die naamregte vir die voorrenne is ‘n belangrike ontwikkeling en ons sien daarna uit om ‘n lang en wedersydse lonenende verbintenis met Donaldson te hê.”
Die openingsronde van vanjaar se Absa-Veldrenkampioenskap, die Adenco 400, vind op 19 en 20 Maart by Darling in die Wes-Kaap plaas.
bydrae: Charmaine Fortune
Related posts:















Bespreking
Kommentaar word nie toegelaat by hierdie bydrae nie.
Kommentaar is gesluit.