Suzuki se splinternuwe Swift-luikrugmotor het ’n volle vyfster-telling behaal in die Euro NCAP se jongste veiligheids-toetsreeks.
Die jongste Swift, wat vroeg aanstaande jaar sy Suid-Afrikaanse buiging maak, spog met elektroniese stabiliteitsbeheer as standaardtoerusting, wat tot die motor se vyfsterstatus bygedra het. Die luikrug het ook goed gepresteer wat die veiligheid van volwasse insittendes en kinders betref, asook in die afdeling vir voetgangerveiligheid.
Euro NCAP word alom as die wêreld se voorste veiligheidstandaard beskou, en beoordeel die aktiewe en passiewe veiligheidstandaarde van passasiermotors.
Die nuwe Swift bied nie net uitsonderlike veiligheidskenmerke nie, maar spog ook met uitstekende werkverrigting, monteergehalte, brandstofdoeltreffendheid en lae uitlaatgasvlakke. Boonop sorg die groter buite-afmetings en meer doeltreffende binne-uitleg vir ’n ruimer en meer gerieflike kajuit.
“Die nuwe Swift se vyfsterstatus onderskraag die moeite wat Suzuki se ingenieurs gedoen het om ’n aangrypende luikrugmotor te skep wat as ’n waardige opvolger vir die bestaande, uiters suksesvolle weergawe in die stryd sal tree,” sê Kazuyuki Yamashita, besturende direkteur van Suzuki Auto SA.
“Ons sien uit daarna om hierdie opwindende nuweling op die plaaslike mark bekend te stel, en is daarvan oortuig dat die motor Suzuki se naam as ’n vervaardiger van puik klein motors verder sal uitbou.”
Die nuwe Suzuki Swift sal na verwagting in die eerste kwartaal van 2011 in Suid-Afrika bekend gestel word. Finale pryse en spesifikasies moet nog vasgestel word.
Related posts:
















Bespreking
Kommentaar word nie toegelaat by hierdie bydrae nie.
Kommentaar is gesluit.