Honda Suid-Afrika het ’n outomatiese weergawe van die vyfdeur-Honda Civic 1.8 i-VTEC-luikrug bekend gestel. Die reeks het terselfdertyd ’n aantal subtiele voorkomsveranderinge en detailverbeteringe ondergaan, om dit nog aantrekliker te maak.
Die nuwe weergawes baat nie net by die pas van ʼn seepgladde outomatiese vyfgangratkas nie, maar spog ook met ’n aantal unieke kenmerke.
Onder dié kenmerke tel ’n USB-tipe koppeling vir iPod-musiekspelers, asook ’n ekstra klankkoppeling vir ander MP3- en musiekspelers. Die klankstelsel spog boonop met ses luidsprekers.
Die lys standaardtoerusting sluit ook ’n reënsensor in wat die ruitveërs outomaties aktiveer, terwyl die hoofligte eweneens outomaties aanskakel wanneer buiteligvlakke daal.
Daarbenewens is ’n truspieël wat van self verdof, ’n stelsel wat die bestuurder van banddrukverlies waarsku, en parkeersensors in die agterbuffer, ook nou ingesluit.
Die nuweling spog boonop met ’n stelsel wat in die geval van ’n botsing die deurslotte oopsluit, terwyl ’n tweede 12V-kragpunt in die bêrekassie van die middelste konsole ingebou is.
Daar is ook ’n aantal verskille wat die Civic se buitevoorkoms betref. Die sierrooster is nuut, die voorste buffer is herontwerp, en ’n nuwe ligsamestelling is by die agterste drukvlerk geïntegreer. Die outomatiese luikrug kry boonop nuwe allooiwiele van 17 duim wat met 225/45 R17-bande geskoei is.Die aankoms van die jongste vyfdeur-Civic 1.8 i-VTEC-modelreeks val saam met die beskikbaarheid van ’n splinternuwe kleur, wat as Premium Pearl-wit bekend staan. Die nuwe kleur behoort hierdie jongste weergawe van die Civic nog meer laat uitblink.
Dié spesiale wit kleurskema word aangevul deur drie bykomende skakerings. Daaronder tel Deep Sapphire Pearl-blou, Urban Titanium-metaalgrys, en Crystal Black Pearl-swart. Die bestaande Alabaster-metaalsilwer, Polished Metal-metaalgrys en Milano-rooi bly steeds beskikbaar.
Binne is daar eweneens nuwe afwerkings in ’n donker metaalkleur, terwyl volle leerbekleedsel nou standaard is. Die meerfunksie-stuurwiel is ook met leer oorgetrek, terwyl togsnelheidsbeheer voortaan onder die lys van standaardtoerusting tel.
Die opgegradeerde Civic beskik oor voorste lugsakke, kantlugsakke en gordynlugsakke, terwyl VSA-stabiliteitsbeheer ook standaard is.
Die outomatiese Civic-luikrug word deur dieselfde, gevorderde kragbron as sy handrat-stalmaat aangedryf. Die gesofistikeerde viersilinderenjin van 1 799 cc is met Honda se i-VTEC ‘intelligente’ elektronies beheerde kleptydreëlstelsel toegerus, wat vir ’n volmaakte kombinasie van kraglewering, werkverrigting en suinige brandstofverbruik sorg.Die enjin se maksimumkraglewering kom op 103 kW te staan, terwyl die wringkragpiek 174 Nm beloop. Dit sorg dat die vyfdeur-Civic 1.8 VXi Outomaties in net 8,9 sekondes van nul tot 100 km/h versnel, en ’n topsnelheid van 205 km/h bereik.
Brandstofverbruik in die gekombineerde siklus kom op 7,2 liter/100 km te staan, terwyl die CO2-uitlaatgasvlak 172 g/km beloop.
Die besluit om ’n outomatiese ratkas-weergawe van die Civic-luikrug bekend te stel, volg op ’n toenemende vraag na ’n outomatiese weergawe in die uiters mede-dingende C-segment van die luikrugmark.
“Hoewel daardie sektor nog altyd deur handratmodelle oorheers is, is daar ’n toenemende neiging na die gerief en gebruiksvriendelikheid van outomatiese motors,” sê Graham Eagle, direkteur van verkope en bemarking by Honda Suid-Afrika.
Die besluit om die outomatiese weergawe van die Civic by die plaaslik beskikbare modelreeks te voeg, is ook versterk deur die uiters positiewe markreaksie op die bekendstelling van ’n outomatiese ratkasmodel in die jongste Honda Jazz-reeks.
“Tot dusver het Honda meer outomatiese Jazz-modelle verkoop as dié van al sy mededingers gesamentlik, wat die toenemende gewildheid van selfskakelmodelle onderstreep,” verduidelik Eagle.
“Ons glo dat die toevoeging van ’n outomatiese model tot die Civic-luikrugreeks sy mededingendheid in sy marksegment aansienlik sal versterk.”
Die nuwe vyfdeur-Honda Civic 1.8 VXi kan met ’n outomatiese of ’n handratkas bestel word, en is by alle geakkrediteerde Honda-handelaars landwyd beskikbaar.
Die kleinhandelsprys van die handratweergawe beloop R267 900, terwyl die outomatiese model R279 900 kos. Dit sluit ’n waarborg van drie jaar/100 000 km in, asook ’n diensplan van vyf jaar/90 000 km. Dienstussenposes is elke 15 000 km.
Related posts:

















Bespreking
Kommentaar word nie toegelaat by hierdie bydrae nie.
Kommentaar is gesluit.