Impreza-sedan-kopers het nou die keuse van nog ’n model met nuwe toerusting danksy die onlangse bekendstelling van die atletiese RS, ’n model wat heelwat meer as net ’n toevallige ooreenkoms met die WRX het.
En daarby is dit die perfekte vastrapplek vir iemand wat na die turbo-model streef en ’n motor wil hê wat die voorkoms en gevoel weerspieël, om nie eens van blote verrigting te praat nie. ’n Groot gaping bestaan huidiglik tussen die wyse waarop kopers die 2.0R en die WRX sien, en hoewel die nuweling identies aan die reeks se intreemodel is wat sy meganika betref, vul die RS juis daardie gaping deur nie net ’n goeie dosis visuele aantrekking by te voeg nie, maar ook verbeterde padhouvermoë en hanteringseienskappe danksy die 17-duim-wiele en breër, laeprofielbande bied.
Dit is egter nie net die wiele en die 205/50-rubber op 17-duim-allooivellings wat die RS so spesiaal laat lyk nie – dit is ook sy Sport-rompstel bestaande uit kantlugskorte, ’n drukvlerk op die bagasiebakdeksel ’n groter lugskort en ingeboude misligte in die nuwe voorste stamper, en ’n dieper stamper aan die agterkant. Dié hele prentjie word met ’n nuwe enkelgleuf-sierrooster met ’n merkbare afwesigheid van blink tierlantyntjies afgerond.
“Die nuwe Impreza RS het al die eienskappe van ’n opregte kompakte sportsedan, in die sin dat hy ’n goed-afgeronde aantrekking vir bestuurders bied, tesame met ’n voorkoms wat geen twyfel laat waarna hy streef nie,” het Grant Bowring, Subaru Suider-Afrika se handelsnaam- en bemarkingsbestuurder, gesê. “Dit beteken egter nie dis ’n kamma-WRX nie – ons sien hom eerder as ’n waardige trappie vir dié wat nog besig is om hul kinderskoene te ontgroei en ’n motor wil hê wat van veiligheid en praktiese gebruik spreek sowel as die vermoë het om kinkels en draaie met ongeëwenaarde geesdrif aan te pak.”
Trouens, buiten die lugskort op die enjinkap, die maasdraad-sierrooster, sondak en afwerking van die wiele (die styl van die wiel is dieselfde, maar ’n silwer voorkoms word hier verkies eerder as die rookgrys van dié van die WRX), is die RS wat sy voorkoms betref, identies aan sy turbo-aangejaagde stalmaat.
Die binneruim is ook effens verander. Omhelsende hoërug-skottelsitplekke word gebruik en gee die bestuurder ’n verbeterde gevoel van beheer dansky die bykomende kontak met sy of haar lyf. En omdat Subaru besef hoe belangrik sulke mens/masjien-tussenskakeling vir bestuursfynproewers is, het die stuurwiel netjiese leerbekleedsel. Die bestuurder kan danksy die teleskopies- en kantel-verstelbare stuurkolom die volmaakte sitposisie bewerkstellig, en enige renjaer sal kan getuig hoe belangrik dié soort gemak is.
Die ingeboude CD-wisselaar kan ses skywe van jou gunsteling-kunstenaars sluk, terwyl die kontroles wat op die stuurwiel gemonteer is, dit kinderspeletjies maak om tussen liedjies te wissel en skywe te ruil. Altesaam tien luidsprekers sorg dat die klank kristalhelder in elke hoekie van die motor geniet kan word.
Die kajuit het genoeg ruimte vir tot vyf mense en ’n diep bagasiebak met 60/40-verdeelde agtersitplekke, wat die 2.0RS in staat stel om sy rol van praktiese gesinsedan met die vermoë van ’n vlymskerp-vuurwa te kombineer – en wat jou gevoel of behoefte ook al is, het die bestuurder ook die voordeel van Subaru se simmetriese aandrywing deur al vier wiele. Dit beteken die RS sal makliker uit die moeilikheid bly, en al dié soort viervoetige aandrywing nie genoeg is nie, het die RS ook stabiliteitsbeheer (VDC).
Die Impreza sedan se knap onderstel, skerp stuur en tonne klouvermoë stel nou bekostigbare verrigting by Subaru Suider-Afrika se 21 handelaars beskikbaar teen R269 999 vir die vyfgang-handrat en ’n bykomende R10 000 vir die outomatiese SportshiftTM. Die prys sluit ’n volle instandhoudingsplan van drie jaar of 63 000km in.
Related posts:
















Bespreking
Kommentaar word nie toegelaat by hierdie bydrae nie.
Kommentaar is gesluit.