// jy lees ...

Motors

Suid-Afrikaanse kampioene skuif oor

Die Suid-Afrikaanse ABSA-veldrenkampioenskap het vandeesweek ’n groot opskudding ervaar met die aankondiging dat die Suid-Afrikaanse kampioene, Chris Visser en Japie Badenhorst, die Toyota-geledere verlaat het en nou vir die Ford Racing-fabriekspan sal jaag wanneer vanjaar se kampioenskap die naweek van 11 en 12 Maart met die Adenco 400 in die Wes-Kaap afskop.

Visser en Badenhorst, wat verlede jaar drie renne in hul segetog na die SA Produksievoertuig- en Klas SP-kampioenskappe in die Visser Transport-Toyota Hilux gewen het, sal die Ford Racing Ranger by Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer oorneem. Dié twee SA veteraan-kampioene het besluit om hulle ná langer as ’n dekade saam in die kajuit aan motorsport te onttrek.

“Ek en Kenny het ’n goeie rybeurt gehad, maar dit het tyd geword dat ek op my onderneming moet fokus en ’n toekomsplan vir Ford Racing moet bedink,” het Woolridge gesê. “Ons het in ons soeke na ’n nuwe span besluit dat Chris en Japie aan al die vereistes voldoen wat nodig is om die span verder te neem, en ons is in ons noppies dat hulle die uitnodiging aanvaar het om hulle by Ford Racing aan te sluit.

“Chris en Japie het ’n moeilike besluit gehad, maar dit is vir ons ’n groot oorwinning om die verdedigende Suid-Afrikaanse kampioene in ons span te hê.”
Woolridge het bygevoeg dat die Ford Ranger waarin hy en Skjöldhammer die Toyota Handelaars 400-veldren verlede jaar gewen het, geheel en al in die rustyd tussen die seisoene herbou is. Die voertuig pronk nou met ’n paar nuwighede en toetse vroeg in die seisoen het reeds opwindende uitslae opgelewer.

Die beskeie Visser het gesê die aanbod om hulle by Ford Racing aan te sluit, het hom en Badenhorst onverhoeds betrap. Hulle was reeds oorgehaal om verlede jaar se Toyota Hilux-kampioenskapsvoertuig in te span toe Ford Racing hulle nader.

“Neil se oproep het uit die bloute gekom, maar dit is ’n groot eer om genooi te word om vir ’n fabriekspan te jaag, en ek en Japie is baie trots daarop,” het Visser gesê. “Die feit dat ons die verdedigende kampioene is, beteken bykomende druk, maar ons sien baie daarna uit.

“Ek sal ook aan die linkerstuur en die wringkrageienskappe van die dieselaandrywing gewoond moet raak, maar ek is baie gelukkig om iemand soos Neil met al sy ervaring te hê om my in die regte rigting te wys,” het hy gesê.

Woolridge sal buiten die feit dat hy na Visser en Badenhorst in die voorste SP-klas sal moet omsien, ook sy tienerseun Lance en sy navigator, Ward Huxtable, bystaan nadat hulle hul Klas E-voertuig vir ’n Klas D-vuurwa verruil het. Hulle sal in ’n Ford Ranger deelneem nadat ’n rugbesering wat die jong Woolridge uit die laaste byeenkoms van die vorige seisoen gehou het, hom verhinder het om die SA Kampioenskap in sy eerste seisoen te wen.

“Dit sal waarskynlik groter inspanning wees om die renspan te bestuur as om self agter die stuur in te skuif,” het Woolridge gesê, “maar dit is ’n baie opwindende tydjie vir die span. Ons het die gawe om renne danksy ons topjaers en topvoertuie te wen.”

bydrae: Charmaine Fortune


Bespreking

Kommentaar word nie toegelaat by hierdie bydrae nie.

Kommentaar is gesluit.