// jy lees ...

Motors

Toyota-handelaars 400-roete verander

Die roete vir die Toyota-handelaars 400, die voorlaaste ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat op 2 en 3 Oktober in Mpumalanga plaasvind, is gefinaliseer en dit verskil heelwat van die vorige jaar se roete.

Die byeenkoms word weer eens deur die Suid-Afrikaanse Motorsportklub (SAM) onder die leiding van die roetehoof, Willie du Plessis, georganiseer. Van die belangrikste veranderings wat aan die roete aangebring is, is die sentrale dienspunt wat nie meer by die Lydenburg Rugbyklub sal wees nie terwyl die Long Tompas-gedeeltes wat vir vorige byeenkomste ingespan is, verwyder is.

“Ons het die roete opgekikker,” het Du Plessis gesê. “Dit volg na terugvoer wat ons deur die jare van die deelnemers ontvang het en ons behoefte om met vars idees vorendag te kom.

“Ons het gevoel dat die Long Tom-gedeelte nou genoeg gebruik is en die veranderings wat aangebring is, sal weer eens vir ‘n uiters interessante roete sorg wat oor iets van alles sal beskik. Dit sal ‘n uitdaging wees.”

Die 70 kilometer-voorren wat die wegspringposisies vir die hoofren sal bepaal, sal by die rugbyklub begin en deur die Lydenburg-vliegveld strek met die Lydenburg Toyota-toeskouerpunt wat op die R540 sal wees. Die sentrale dienspunt sal ook by die Lydenburg Toyota-toeskouerpunt wees.

Die begin van die ren sal weer by Lydenburg Toyota in die sentrale gedeelte van die dorp wees en die eerste sirkelroete sal ‘n kort 110 kilometer-gedeelte wees. Ongeveer 80 persent van die roete sal in die Sterkspruit-, Rhenosterhoek- en Kalmoesfontein-omgewings wees wat nuwe renomgewings sal wees.

“Die bergagtige gedeeltes van die roete sal veral uitdagend wees,” het Du Plessis gesê. “Die roete strek deur mooi natuurskoon, maar die spanne sal te besig wees om dit te waardeer.”

Du Plessis het bygevoeg dat die roete weer eens toeskouervriendelik sal wees met maklike toegang tot goeie toeskouerpunte vanaf die hoofroetes. Met Mpumalanga wat binne maklike bereik van Gauteng en Limpopo is, word daar verwag dat die byeenkoms weer groot getalle toeskouers sal lok.

Dokumentasie sal by Lydenburg Toyota plaasvind met die voorren wat geskeduleer is om op 2 Oktober om 12:30 af te skop. Die hoofren sal op 3 Oktober om 08:00 begin.

bydrae: Charmaine Fortune


Bespreking

Kommentaar word nie toegelaat by hierdie bydrae nie.

Kommentaar is gesluit.