Die ATKV-Oesfees op die lieflike plaas Solms-Delta, naby Franschhoek, is vanjaar tien jaar oud. Die plaaswerkers en eienaars kom elke jaar op hierdie dag bymekaar om die wynoes saam met duisende ander musiek-, kos- en kultuurliefhebbers te vier.

Die ATKV-Oesfees het in 2008 as ’n klein plaasbyeenkoms begin en het oor die jare ’n hoogtepunt op die Suid-Afrikaanse kulturele kalender geword wat selfs internasionale belangstelling lok, in die “Roots Revival”-beweging.

Die musiekprogram verseker ’n variasie van die eg inheemse, ongekunstelde talent van die Franschhoek-vallei, asook optredes deur van ons land se bekendste en geliefde kunstenaars. Die Music van de Caab-projek, geborg deur Solms-Delta en Boschendal Landgoed, streef daarna om die uiteenlopende, musikale erfenis van die landelike Kaap te bewaar, deur onder meer die aanmoediging van plaaslike musikante. Hierdie projek word gelei deur die briljante Adriaan Brand van Springbok Nude Girls. Die Music van de Caab -groepe en -orkeste wat vanjaar by die ATKV-Oesfees gaan optree, sluit in: Delta-Langbroeke, Klein Handjies-Kinderkoor, Delta Valley Entertainers, Die Soetstemme en Lekker Lekker Delta.

Dan is daar ook optredes deur Die Papier Familie Orkes en die gewilde Hannes Coetzee. Bekende groepe en topmusikante wat vanjaar op die verhoog gaan wees is die Radio Kalahari Orkes, Manouche, Brain Cloete, Churchil Naudé, Die Wasgoedlyn, Akkedis, Hemelbesem en Yoma, Les Javan, Riku Lätti, Bacchus Nel, Jackie Lätti, Nick Turner en Tribal Echo. ‘n Spesiale hoogtepunt vir die 10de herdenkings-fees hierdie jaar, is ‘n optrede deur die wêreldbekende African Jazz Pioneers. Kyk ook uit vir die ATKV-Rieldanskampioene wat elke jaar vastrap dat die stof so staan en die gehoor aan hul voete het. Vanjaar se rieldans optrede is deur die 2016 wenners in die Junior kategorie: Die Betjies van Betjiesfontein.

Tradisionele Kaapse geregte soos Waterblommetjiebredie, Braaivleis, Kaapse kerrie afval en Koeksisters sal op die dag gekoop kan word, asook ’n verskeidenheid van Solms-Delta se wyne.

Mark Solms van Solms-Delta sê oor die tienjaarmylpaal: “Toe ons in 2008 vir ons eerste Oesfees saam met ons plaaswerkers bymekaargekom het, was ons nie seker hoe dinge gaan verloop nie. Ons deel soveel in terme van taal, kultuur, musiek en kos en ons het nie in ons wildste drome gedink dat hierdie fees tien jaar later so groot en so lekker sou wees nie. Ons vier en deel met trots ons liefde vir dit wat ons verenig in hierdie lieflike land.”

“Die ATKV se doelwitte is om Afrikaans te bevorder en om ’n kultuurtuiste vir Afrikaanses te bied. Afrikaans is een van die sterkste inheemse tale in Afrika en skep uitsonderlike geleentheide vir nasiebou, vir ontwikkeling en om die Suid-Afrikaanse landskap te laat gedy. En om dit saam met vennote te kan doen, maak die potensiaal van sukses selfs beter. Daarom is die samewerking met Solms-Delta vir die ATKV ’n uitstekende geleentheid om Afrikaans te vier en om doelwitte in dade te omskep,” sê Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV-groep.

Gaan geniet die dag saam met jou hele gesin. ’n Fees sonder tierlantyntjies saam met gelukkige mense op ’n besonderse plaas.

Toegang:
Spesiale prys indien kaartjies voor 14 Februarie gekoop word: R99
Kaartjiepryse vanaf 14 Februarie tot 24 Maart: R120
Kaartjies by die hek op dag van die fees: R150
Kinders, twee tot 12 jaar: R40
Kinders onder twee jaar: R1. Elke kind kry ’n feesbandjie sodat die organiseerders weet presies hoeveel mense en kinders op die perseel is.
Daar is ook ’n spesiale, veilige gebied vir kinders wat deur Cre8tive Kids bestuur word. Ouers kan hul kinders hier inteken en ’n bekwame span sal sorg vir lekker speletjies en ander prettige aktiwiteite om die kinders besig te hou.

Koop jou kaartjies hier:
Aanlyn: https://plankton.mobi/Events/EventBooking/a6208ea9-60d5-4782-954d-7acf83be3a5d
Checkers/Shoprite Computicket toonbanke.
Solms-Delta-proe-lokaal Deli.
Computicket.

Webtuiste en sosiale media:
Facebook: https://www.facebook.com/DieOesfees/
Twitter: @DieOesfees #ATKVoesfees.
Instagram: atkvoesfees
Webtuiste: www.oesfees.co.za en http://www.solms-delta.co.za/oesfees/

Feesnavrae: 021-874 3937.

Betjies rieldansers
Die Wasgoedlyn
Hannes Coetzee
Papier Family Band
Radio Kalahari Orkes

Sluit aan by die Gesprek

2 Kommentare

  1. To whom it may concern

    Who is the right person to contact regarding submitting to perform at the music festival?

    Thanks

Lewer kommentaar

Leave a Reply