Ek loop die pad

Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za

Sonder ‘n Amanda Strydom-CD lyk enige versameling maar valerig. Maar selfs as jy al ‘n paar van haar CD’s het, is Ek loop die pad – 20 jaar amper onontbeerlik. Amanda se pad het ‘n hele paar slaggate in gehad, maar ten spyte daarvan – of miskies juis daarom – bly sy een van Suid-Afrika se volledigste kunstenaars. Sy is nie net ‘n groot sanger, kabaretkunstenaar en aktrise nie, sy skryf ook baie van haar lirieke en dramas self.

Al kan sy nie ‘n noot musiek lees nie en al het sy geen formele sangopleiding nie – behalwe vir skool- en kerkkore en die heerlike akoestiek van haar ouers se badkamer – het sy daardie ondefinieerbare iets wat mens weer laat luister en wat babbelende gehore by funksies waar sy optree gou stilmaak en vasvang.

Ek loop die pad – 20 jaar is ‘n versamel-album waarop Amanda se grootste treffers oor die afgelope 20 jaar byeengebring word. Dié 16-snit album sluit egter ook drie nuwe liedjies en twee nuwe opnames van vorige liedjies in.

Bekende gunstelinge soos “Ek loop die pad”, “Rit huistoe”, “Hoor hoe brom die wind”, “Stoom” en “Die plukker”, om maar ‘n paar te noem, is ingesluit. Die nuwe liedjies is “Ek sal staan”, waarvan Deon Opperman die lirieke geskyrf het, “Marieke” en “Non je ne regrette pas” van Brel, en ook splinternuwe opnames van “Skielik is jy vry” en “Ek loop die pad”.

Ek loop die pad – 20 jaar is ‘n uitsonderlike musikale versamelstuk.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar