Kieslys

Close


*/

20 Desember
2002
Musiek
8487 keer gelees
(*slegs web-weergawe)

Johannes Kerkorrel

deur Quintus van Rensburg

Terwyl hy nog as ‘n joernalis gewerk het, het Johannes Kerkorrel in 1986 vir die eerste keer die verhoog betree. Hy het ‘n uiters satiriese politieke kabaret saam met die skrywer Elmarie Kitshoff en die sangeres Lieze Stassen by die Green Room in Kaapstad aangebied.

In dieselfde jaar het hy teruggetrek Johannesburg toe, die stad waar hy gebore is, waar hy saam met ‘n groep skrywers aan nog ‘n politieke kabaret by die Black Sun in Berea saamgewerk het. Dié kabaret het liedjies soos “Wat ‘n vriend het ons in PW” en lirieke soos “O, Kapitaal wat woon in Krygkor.” bevat wat op die wysie van die “Onse Vader” gesing is.

In 1987 het die werkswinkeldrama Piekniek by Dingaan die “Pick of the Fringe Award” by die Grahamstadse fees gewen. Kunstenaars soos Nataniël, Marthinus Basson, Gustav Geldenhuys, Elma van Wyk, Koos Kombuis en Gerrit Schoonhoven was by die projek betrokke. Dié drama, met die subtitel Kinders van Verwoerd, het groot opslae by die kunsteraadgemeenskap van Kruik gemaak en sedertdien is Kerkorrel nooit weer gevra om by projekte van die dramadepartemente van die kunsterade betrokke te raak nie.

In 1987 het hy saam met André Letoit begin werk, wat later as Koos Kombuis bekend geraak het. Hulle het aanvanklik as ‘n duo opgetree en uiteindelik het ‘n groep musikante by hulle op die verhoog aangesluit en Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band (GBB) is gebore. Dit was ook in dié tyd dat Kerkorrel as joernalis by Rapport afgedank is nadat hy met die beskuldigende vinger van PW gedreig is weens sy politieke aktivisme. Hy het voltyds begin musiek maak.

‘n Groep kunstenaars wat deel was van ‘n nuwerwetse, stedelike, jong, wit generasie wat teen die outokratiese bestel van die apartheidsregering gerebelleer het, het hulself by die GBB geskaar. Hulle het hulself as ‘n demokratiese en nie-rassistiese groep beskryf en het in 1988 Die Eerste Alternatiewe Afrikaanse Rockkonsert in Johannesburg aangebied. Die konsert het ‘n solidariteit getoon om Afrikaans van sy politieke kettings te bevry en dit het heelwat ondersteuning van die ondergrond uitgelok.

In 1989 het die GBB se album Eet kreef verskyn en feitlik al die liedjies is deur die SAUK verbied om op radio gespeel te word.

Voëlvry, ‘n landswye kampustoer, het gevolg wat ‘n herrie in Afrikaner-kringe ontketen het. Die toer het onder andere die ontslape James Phillips as Bernoldus Niemand ingesluit. Dit het bykans gesneuwel toe dit aan die lig gekom het dat die Broederbond-beheerde kampusse paranoïes oor die konsert was. Die kwessie van vryheid van spraak was op die spel en studente het die verbanning van die konsert hand en tand beveg en alternatiewe lokale gereël sodat die toer ongehinderd kon voortgaan.

By die Universiteit van Stellenbosch, die hartland van Afrikaans, het die verbanning tot een van die grootste samekomste in die geskiedenis van die kampus gelei. Uiteindelik het sowat 4 000 studente die konsert bygewoon wat by Die Drie Gewels, ‘n hotel buite die dorp, gehou is. Hulle was nie in die minste geïntimideer deur die veiligheidspolisie wat die gehoor afgeneem het of die Duitse en Sweedse televisiespanne wat die kunstenaars verfilm het nie.

Twee dae later het die Voëlvry-konsert die 3Arts Teater in Kaapstad volgepak, dit was die eerste keer wat dit in vyftien jaar gebeur het sedert die kulturele boikot begin het. Die toer het in Windhoek in ‘n wolk van omstredenheid tot ‘n einde gekom. Iemand het gedurende die konsert in die stad ‘n wapen uitgepluk en die gehoor beveel “om op te hou dagga rook en hul eie drank in te bring”. Voëlvry het na Club Oddysey in die gekleurde township van Windhoek verskuif, waar dit amptelik afgesluit is.

In 1990, nadat Voëlvry op Afrikaanse kampusse landswyd en die liedjies op radio verbied is, het Johannes Kerkorrel Europa toe gegaan waar Eet kreef pas uitgereik is. Aanvanklik het hy saam met ‘n groep uitgewekenes in Amsterdam gebly en hy het kunstenaars, akteurs, gewetensbeswaardes, skrywers en ANC-uitgewekenes in die stad ontmoet. Terselfdertyd het sy liedjie “Hillbrow” van Eet kreef ‘n radiotreffer in die Lae Lande geword en die mense het nuuskierig geraak oor die “wit Suid-Afrikaner”. Kort daarna is hy genooi om ‘n solotoer in België te doen en hy moes in talle onderhoude met koerante, tydskrifte, radio en TV herhaaldelik verduidelik dat “nee, alle wit Suid-Afrikaners ondersteun nie apartheid nie”. Johannes Kerkorrel was die eerste wit Afrikaanse sanger wat geheel en al deur die media en publiek aanvaar is. Dit het daartoe gelei dat hy na die vooraanstaande Dranouter-fees genooi is. Donovan het net voor hom opgetree en groot was Kerkorrel se verbasing toe die gehoor van sowat 15 000 met sy liedjies saamgesing het. By dié fees het hy die verhoog met mense soos Rory Block, Luka Bloom en Thomas Mapfumo gedeel.

In September 1990 het hy na Suid-Afrika teruggekeer en sy tweede album Bloudruk opgeneem. Sy landswye Blou Aarde-toer is afgesluit met ‘n grootse viering by die Houtstokfees. Mandela is toe so pas vrygelaat.

In 1992 het hy as die Suid-Afrikaanse korrespondent vir die Belgiese Radio 1-program Het einde van de wêreld begin werk, en sedertdien bied hy ‘n weeklikse rubriek oor Suid-Afrika op die radio aan.

Aan die begin van 1993 het die Nederlandse sanger Stef Bos na Suid-Afrika gekom om saam met Kerkorrel te skryf en op te neem. Die enkelplaat Awuwa / Zij wil dansen (saam met Thandie Klaasen) is in Suid-Afrika en die Benelux-lande uitgereik. Die liedjie het ‘n treffer in die Lae Lande geword en Kerkorrel en Bos het saam met prinses Mansia M’bila – ‘n ware prinses van Zaïre – opgetree, wat die plek van Klaasen in die oorsese TV-programme ingeneem het.

Later dieselfde jaar is Bloudruk in Europa bekend gestel en Kerkorrel is genooi om ‘n toer van die Vlaamse en Nederlandse somerfeeste saam met sy Antwerpse orkes te doen. Dit was ‘n besonder suksesvolle toer en Kerkorrel was feitlik op alle radio- en TV-programme gehoor en gesien. Die Belgiese TV het ook twee dokumentêre programme oor hom gemaak. Kerkorrel het van bakboord na stuurboord gereis en het onder meer die Marlboro-toerkringloop in Vlaandere meegemaak, by De Piano op die dorpsplein van die historiese stad Brugge as solokunstenaar voor die vleuelklavier opgetree (Randy Newman was dieselfde week op die program) en ook aan Boterhammen in het Park in die Koninklike Park in Brussel deelgeneem.

In dié jaar is hy ook genooi om spesiale enkelkonserte in België aan te bied, soos die dubbelkonsert saam met die sanger Wannes van de Velde in Gent vir die NRO’s en die regeringsverteenwoordigers by die Nationale Honger Solidariteitsdag en die bekendstelling van die Vlaams/Zuidafrikaans Intercultuur Fonds waar hy tot kulturele ambassadeur benoem is.

In 1994 is sy derde album Cyanide in the Beefcake uitgereik. Hy het as solokunstenaar en saam met sy orkes – Mauritz Lotz, Didi Kriel, André Abrahamse, Reuben Samuels, McCoy Mrubata, Barry van Zyl, Barry Snyman, Andrew Cleland en Amagugu Akwazulu – in Suid-Afrika opgetree.

Sy album is dieselfde jaar in Europa uitgereik en dié keer het Kerkorrel ‘n teatertoer gedoen wat by die Nekkanacht in die Sportpaleis in Antwerp afgesluit is. Hy het voor ‘n gehoor van 14 000 saam met vooraanstaande Nederlandse en Vlaamse groepe soos die Amsterdamse groep The Scene, die Nederlandse sanger-skrywers Stef Bos en Frank Boeijen en die Vlaamse superster Raymond van het Groenewoud opgetree.

In 1995 het hy die FNB Sama-prys vir die beste popvertolking gewen en die dokumentêre program Speel my pop, wat deur Ken Kirsten vir SABC 3 gemaak is en wat drie video’s van die Cyanide-projek ingesluit het, het ‘n Artes gewen.

In dieselfde jaar het hy by die Les Halles de la Villette in Parys gedurende die L’Afrique du Sud Festival opgetree – ‘n viering van musiek uit die nuwe Suid-Afrika waar kunstenaars soos Hugh Masakela, Vusi Mahlasela, Sankomoto, Johnny Clegg en Bayete ook te sien was.

Kerkorrel was gereeld op die verhoog by die Grahamstadse fees en die Klein Karoo Nasionale Kunstefees. Hy doen ook gereeld solovertonings sowel as groot konserte saam met sy orkes wat strek van die Warehouse-teater in Windhoek tot in Kaapstad, Pretoria, Johannesburg, Durban en die Obsevatory-teater in Bloemfontein.

Dokumentêre programme oor hom en sy eerste orkes, die Gereformeerde Blues Band, is in Duitsland, Holland, Engeland, Amerika, België en Swede uitgesaai.

Sy vierde album, Ge-Trans-For-Meer, is geskryf terwyl hy in Kaapstad gebly het en dit sluit ook sy eie weergawe van die tradisionele Afrikaanse liedjie “Al lê die berge nog so blou” in. Sy vertoning met dieselfde titel en wat materiaal van sy nuwe album ingesluit het, het stil-stil in Suid-Afrika uitverkoop. Dié CD het twee FNB Sama-pryse ingepalm – vir die beste Afrikaanse vertolking en vir die beste manlike sanger.

Sy CD Tien jaar later, ‘n versamelalbum met sy beste liedjies, is vroeg in 1999 uitgereik om Kerkorrel se tien jaar op die verhoog te vier. Die CD Johannes sing Koos du Plessis is ook in 1999 uitgereik, wat weer eens ‘n benoeming vir ‘n FNB Sama-prys ontvang het.

Kerkorrel se laaste CD was Die ander kant wat in September 2000 uitgereik is.



Gee jou mening







Gereeld gelees

11 Julie 2010
Musiek
Verklarende Afrikaanse Woordeboek
Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (waarvan die eerste uitgawe reeds 70 jaar gelede verskyn het) is die handwoordeboek waarin die grootste versameling trefwoorde in Afrikaans verklaar word.
08 November 2012
Musiek
Kort grappe
Jou ma is so kort, mens ...
27 November 2010
Musiek
Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte
Die vierde, uitgebreide uitgawe van Die Mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte is nou chronologies georden, sodat lesers kan sien hoe die Afrikaanse liefdesgedig oor die afgelope eeu ontwikkel het.
15 November 2005
Musiek
Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom
Op elke nuwe blaadjie wat omgeslaan word, is daar vir nuuskierige agies interessante brokkies en stories oor hoe van Afrikaans se bekendste en minder bekende uitdrukkings ontstaan het.
24 Mei 2012
Musiek
Kort grappies
Wat is die verskil tussen ’n voël en 'n vlieg?

Onlangse kommentaar

State Fracture | Roekeloos
2017-06-16 13:03:07
[…] span wat verantwoordelik was vir Pay Back the Curry is verantwoordelik vir State […]...
Gert vd Merwe
2017-06-08 09:28:55
JAN JACOBS. Dit is n skreiende skande. Geen mens op aarde kan in Marius Louw se voetspore volg nie, ...
Die intimiteit van ons greep | Roekeloos
2017-06-01 13:52:50
[…] Chameleon se eerste selfgeskrewe en selfgekomponeerde Afrikaanstalige album sedert 2009, j...

Advertensie