Kieslys

Close


*/

02 Junie
2005
Musiek
2448 keer gelees
(*slegs web-weergawe)

Monoloog in Stereo

deur Toast Coetzer

Te blyke aan die besondere akoestiese weergawe van “Hemel op die Platteland” beskikbaar op Levi’s se CD4-kompilasie, sou ‘n volwaardige Fokof akoestiese album iets spesiaals kon wees. Maar ondanks vroeë gerugte dat Monoloog in Stereo akoesties sou wees, is dit glad nie. Daar is nou wel akoestiese kitaar hier en daar, maar in die algemeen is dinge nog electric. En hárd. Ek glo nie drummer Jaco Venter kan saggies slaan nie.

Die liedjies is stadiger – rock ballades, sou ons hulle kon noem, maar moenie nou begin dink aan Richard Marx se “Hazard” en terselfdertyd julle Disprins begin fynmaal en in hompe saam met Ricoffy afsluk nie (asseblief). Dink eerder Metallica se ballades, want Fokofpolisiekar is per slot van sake ‘n rock band en slapvoël-rock sit nou maar eenmaal nie in hul broeke nie (ek laat die verdere uitbou van die beeld aan die leser oor).

Stadiger, ja, rustiger, ja, radio-vriendelik, vir seker. Dis nou as die hoofstroom radiostasies van die land (luister iemand behalwe verveelde kassiers in selfoonwinkels ooit na hulle?) al wakkergeword het uit hul dertig-jaar lange koma van Celine Dion-drips en If It’s Cool In America It Must Be Cool Here-pilletjies. Fokken ape.

Ek was by die launch van die EP so paar weke terug en alhoewel die band (behalwe Wynand Myburgh op bass) in stoele gesit en speel het, kon Francois van Coke dit hier teen die laaste song nie meer hou nie en hy’t toe maar opgestaan en gesing. Jy kry die idee dat Monoloog in Stereo (dis after all, bloot ‘n 6 track EP) die tussenpose is, die uitlaatklep vir dinge voordat die groep weer die myne binnegaan met ‘n maand se voorraad two minute noodles en geslypte pikke om die ware haasore te gaan uitgrawe. Want die band kan duidelik méér as hierdie doen – hierdie is ‘n tipe in toom hou, ‘n ek’s-lus-om-jou-te-bliksem-maar-my-girlfriend-wil-waai voor die sluise werklik oornag oopgelos word om almal se lande van die verdeler tot onder by Oom Frikkie du Preez heeltemaal moer toe te spoel*.

Nietemin, die ses liedjies hier sal iets bied vir die ou Fokof-fan én die ongekerstendes. Die tunes druk ongepla en doelgerig voor, soos ‘n streep skape wat water en vars gesnyde lusern anderkant die rant ruik. Jy sal dalk sukkel om die titel van track 1 (“Oop vir Misinterpretasie”) te onthou, maar teen die derde luister sal jy lankal reeds saamsing:

“ek herinner myself aan my pa
hulle moes grens toe gaan
dis nie my skuld nie”

Ja, kitaarspeler, saamsinger en liriekskrywer Hunter Kennedy is steeds op vorm. Alhoewel die musiek jou nie op ‘n The Mars Volta-kurwe gaan vat nie, is daar meer as genoeg vrae wat gestel word, antwoorde wat uitprobeer word en idees wat in die lug geskil word in Hunter se lirieke om jou weer en weer te laat terugkom na die album.

Dít, saam met die hipnotiese backbeat van songs soos die titelsnit en “Ek Dink Aan Jou (As Dit Reën)” en Van Coke se vermoë om selfs ‘gewone’ lirieke soos “deesdae vat dit langer om mense te leer ken” met die vergrootglas van sy stem tot iets meer te verhef, maak dat hier nie regtig ‘n swak song op dié mini-album is nie.

“Wintersdag By Die Seer” is ‘n gunsteling. Hier skeer die lirieke kaal en ongenaakbaar oor ‘n seersieligheid wat binne ‘n paar kort verse en ‘n vernietigende koorgedeelte ‘n wanhopige wêreld skets van iemand wat dae, weke en maande verloor het weens medikasie (“dit hou my kalm/ as omstandighede my bedreig”):

“en die rooi branders breek
oor ‘n swart strand van seer
en die wit lyne sny
reguit deur my”

Die titelsnit eindig met ‘n kermerkende Fokof-tipe vraag-as-standpunt, “as daar soveel van ons is/ hoekom sal enige iemand jou mis?”, voordat sweepslag van “Die Seksuele Revolusie” dinge tot ‘n einde bring. Jy kan jouself amper verbeel hoe hierdie die tune is waar Van Coke uit sy stoel begin opstaan, die mikrofoon om die gorrel gryp en dinge harder begin uitbasuin.

Ja, daar word geruk aan die stang. En ons kannie wag dat die hekke oopmaak nie. Bring it on. Gaan wild ouens, wild.
3½ uit 5

(* My pa is ‘n waterfiskaal.)




Gee jou mening







Gereeld gelees

11 Julie 2010
Musiek
Verklarende Afrikaanse Woordeboek
Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (waarvan die eerste uitgawe reeds 70 jaar gelede verskyn het) is die handwoordeboek waarin die grootste versameling trefwoorde in Afrikaans verklaar word.
08 November 2012
Musiek
Kort grappe
Jou ma is so kort, mens ...
27 November 2010
Musiek
Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte
Die vierde, uitgebreide uitgawe van Die Mooiste Afrikaanse Liefdesgedigte is nou chronologies georden, sodat lesers kan sien hoe die Afrikaanse liefdesgedig oor die afgelope eeu ontwikkel het.
07 Januarie 2009
Musiek
Gedigte van Anell de Beer
Wat 'n groot voorreg om deel te kan wees, en immers ek is bevrees. Ons is almal oud genoeg, om in die more te wroeg.
24 Mei 2012
Musiek
Kort grappies
Wat is die verskil tussen ’n voël en 'n vlieg?

Onlangse kommentaar

Stroomop nou op DVD | Roekeloos
2018-11-10 08:00:33
[…] opwindende avontuurverhaal, Stroomop (Ivan Botha se regisseursdebuut) wat deur 116 999 kyk...
Oesjaar | Roekeloos
2018-11-08 08:23:33
[…] Leeuspruit (2002), Diepverlange (2007), Onderweg (2011), Ligjare (2013), Doep Is Nie Dood ...
Bloed, dunner as water | Roekeloos
2018-11-07 13:58:12
[…] word familiebande so totaal verbreek? Joernalis Charné Kemp, topverkoperskrywer van...

Advertensie

Hou jy van ons hulpbronne? Oorweeg asseblief 'n donasie in Bitcoin: 179nZqSyFmYPcvu4ZU733PgXBKUYXcy9DD | Ons toets tans ’n kode om wiskundige probleme op te los met behulp van gebruikers se blaaiers; om nie afhanklik te wees van advertensies nie.