// jy lees ...

Musiek

Soos die wind

Soos die wind
Roekeloos

Viljoen Retief het einde 2006 een oggend werk toe gery toe hy ‘n Bob Dylan-liedjie oor die radio oor. “Ek het 7:40 my pa gebel en gesê ek gaan vandag bedank – ek wil vir die res van my lewe musiek maak.”

Ds. Johan Retief het gewag vir daardie oproep van sy seun, want hy het lankal geweet wat die res van Suid-Afrika nou weet: Viljoen Retief se musiek is sy kuns en sy passie – dís waarmee hy goed is.

Dié Kapenaar se tweede album, Soos die wind, word amptelik op 16 Maart in Die Boer-teaterrestaurant in Durbanville, Kaapstad bekend gestel. Die titelsnit geniet reeds speeltyd op RSG.

“Ek het al die liedjies op die album self geskryf,” vertel Viljoen. “Ek skryf graag oor plekke, mense en alledaagse dinge. Dis moeilik om my musiek in ‘n genre vas te vang, maar ek reken dis volwasse kontemporêre musiek met ‘n tikkie folk. Liedjieskryf is vir my ‘n kuns – ek volg nie trends nie, ek volg net my hart.”

Hy sê elke liedjie vertel sy eie storie. “Tog hoop ek mense haal uit liedjies dít wat vir hulle weer iets beteken.”

Viljoen en Karen Ferreira sing ook ‘n duet, “Kan jy my hoor”, op die album. “Dis ‘n dialoog tussen twee mense wat mekaar net nie kan vind nie,” verduidelik hy.

Die musiekvideo van “Soos die wind” word in Februarie vervaardig, en Viljoen is baie opgewonde oor die belangstelling wat daar reeds is. “Kurt (Darren) het gevra dat ek die video na Jukebox stuur sodra dit klaar is. Dit sal ook op ander musiekprogramme te sien wees,” beloof hy.

Viljoen Retief

Viljoen Retief

Viljoen is verbonde aan Snyman Musiekproduksies (SMP), wat aan die Broers (Christo en Cobus Snyman en Nic Stevens) behoort.

“Ek kan nie die Snymans genoeg bedank vir al die passie en energie wat hulle in my loopbaan sit nie. Ek leer só baie by hulle.”
Viljoen skryf ook musiek vir die ander kunstenaars verbonde aan SMP.

“Ek was nog altyd baie lief vir musiek gewees, en van skooldae af speel ek in bands,” vertel hy. “Ons is ‘n musikale gesin en almal geniet dit om musiek te maak. Ek het my eerste liedjie al op 12 geskryf.” Sy pa is die “Mozart van Montagu” gedoop toe hy skaars nege jaar oud was, en Viljoen se ma, Betsie, is ‘n pianis in die kerk. Sy suster, Elisabeth, is die departementshoof van musiek by ‘n privaatskool in Pietermaritzburg.

Ná skool het Viljoen toerisme aan die Kaapse Technikon gaan studeer, maar die musiek het nooit agterweë gebly nie en hy het saans in klubs opgetree.

Toe hy eers begin werk, was dit net te moeilik om deur die dag te werk en elke aand tot ná middernag die kitaar te slaan.
Sy eerste album - Jou wêreld wag - wat hy self gefinansier het, het in 2007 verskyn.

Hy het in 2008 by SMP aangesluit, en sedertdien kyk hy net vorentoe.

“Dis ‘n baie opwindende tydjie wat nou voorlê … my album word nou bekend gestel, dan gaan ek KKNK toe, en daarna sing ek die volkslied op Nuweland wanneer die Springbokke teen Italië speel.”

(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)

Share and Enjoy:
  • del.icio.us
  • Google Bookmarks
  • laaik.it
  • Ping.fm
  • RSS
  • Digg
  • FriendFeed
  • Google Buzz
  • Live
  • MySpace
  • Twitter

Related posts:

  1. Soos goeie wyn
  2. KKNK 2009: Dis ‘n nuwe wind wat waai
  3. Oomblik van Waansin
  4. Wind
  5. Benoemings vir die Suid-Afrikaanse musiektoekennings 2010

Bespreking

Kommentaar word nie toegelaat by hierdie bydrae nie.

Kommentaar is gesluit.

Switch to our mobile site