|
Gedigte kan HIER gestuur word.
Digters AnoniemForum vir die bespreking en beoordeling van gedigte in hierdie afdeling.
Digters Anoniem ...
Nico
My "fragile" stukkie mens
Weerbarstige ou Krulkoppie
Ons is een mens, ek en jy
saam verweer deur 'n seisoen van seer
en sagkens omhels deur die ironie
Soms is jou klein handjie hier in myne
Dan verpletter die "reality" my hart
Gister se naiewe bruin ogies
Is vandag so pynlik selfstandig
Maar jy bly so "fragile"
En daar is dae wat ek na jou kyk
Dan word my oë sommer eensklaps vol
Die emosie 'n pynlike snik in my bors
En deur my trane is jy "fragile"
Het jy maar net geweet
hoe hardhandig die lewe soms kan wees
Dat drome soms nie bewaarheid word nie
En dat die "Glitter" nie vir altyd blink nie
My Niklaas
As ek tog net jou hartseer ook kon dra ...
Jou kon spaar van 'n stukkende heel hart
Chris-Mari de Klerk
Iets
Die lewe is
'n obsessiewe gesoek na iets sinvol
Iets wat jou hart snags laat klop
- die verstikkende leemte hier binne verjaag
En wanneer jy jou oë sluit
En die intensiewe donkerte jou oorval
Is dit die flikkering van iets
daar ver in die onbekende
die soeke na 'n rede om te oorleef
word 'n eindelose gesmag
na iets wat dalk nooit bestaan het nie
'n kosmiese "iets"
ons kom tot die slotsom
dat daar meer moet wees
as ons doellose lewenswyse
'n groter plan
'n betekenisvoller "Iets"
Chris-Mari de Klerk
Slapende Engel
As jy slaap kan ek my verkyk aan jou lang wimpers
Jou sagte rooi wange, sproetgesig
Ek trek my vingers deur jou hare
Om seker te wees dat hierdie perfekte engel regtig bestaan
Ek lê my neer langs jou
En luister na jou ritmiese asemhaling
- Dit spoel oor my soos sagte barokmusiek
Terwyl jy iewers verweg in jou onderbewussyn speel
Die reuk van jou vel is verslawend
Jou aanraking versmoor my woordeskat
en wanneer jy my soen
verkrummel die stukkende wêreld daarbuite
My vrees om jou te verloor is nie werklik ongegrond nie
Verstaan jy nie dat ek elke keer moes groet nie?
Of dat die wegstap van my verlede soveel rou spore los
En dat die herinneringe my soms verteer
Ek wens jy slaap so rustig langs my vir ewig ...
Dan was dit dalk nie so seer
Om my hart voor jou neer te lê
Net om te besef dat jy dit glad nie begryp nie ...
Chris-Mari de Klerk
draai draai draai
Die lewe is so 'n wasige spiraal
Draai draai draai
Dis die spasie tussen hart en hoof
Soms weet jy waar jy is en wat jy voel
maar ontmoet jou emosie en intellek mekaar
ooit werklik?
Waar is die grens van die liefde
En hoeveel is ooit genoeg?
Kan die musiek ooit weer gespeel word
Met dieselfde oorgawe van gister?
Is die onvoorwaardelike nie dikwels
Net 'n sluier van selfsug nie?
Of word die hartseer oornag daardeur oorval?
En is daar 'n roete
Wat die bitter put oorbrug
En die donker verjaag?
Ek kyk soms Op
En verstaan nie beker van pyn
Waaraan ek so gereeld moet sluk
Of die galg van selftwyfel
Wat my snags kom wurg
Dan hardloop ek weer weg van Hom
Want ek sien 'n frons in my hart
My hand is te klein vir Syne
En ek draai draai draai
Chris-Mari de Klerk
Hoe skryf mens?
Hoe skryf mens 'n gedig vir Hom?
Is dit waardig genoeg om Sy grootheid te kan beskryf?
Sal my woorde voldoende wees vir Sy heerlikheid?
My skryfstyl is maar eenvoudig.
En ek skryf oor dinge wat seermaak
En issues wat ek sukkel om mee te deal
Sommer simple Aardse dinge.
My letterkunde en woordeskat
Maak nie voorsiening vir Sy Grootheid
En Sy liefde nie
My geskooldheid is onvoldoende
Ek wil so graag Eer bring aan my Majesteit,
My Alfa en Omega
Vertel van Sy onvoorwaardelike liefde
My talent is tog Godgegewe.
Maak my self-twyfel dan sin?
Chris-Mari de Klerk
vrees
Dis baie keer so moeilik om die rasie agter als te begryp
Of die helder sonstrale raak te sien
Wanneer ek skop die stywe greep
Van vrees wat daagliks hier om my hart kom klou
Vrese wat soos drogbeelde in my gedagtes kom spook
Wat die bekende sagte plekkies weer kneus
Dit maak jou kreupel
En laat jou half deur die lewe strompel
My trane van gister skiet so maklik voor die irisse in
En laat die blou soos 'n see vertoon
Dit verblind my tydelik
En herinner aan als wat so pyn
Vrees is 'n ou bekende in die spieël
En keer elke dag terug na sy selfgekose pos
Om saggies te kom liefkoos
En my te omhels met 'n ewige seer
Sy teenwoordigheid maak jou siek
En laat geluide in jou kop dans
Dit laat jou hulpeloos
En steel jou trots
Chris-Mari de Klerk
Sonder skoene
Elke nou en dan voel ek 'n vloed van haat wat my siel deurspoel
'n monster wat op 'n manier my dors les
Ek ervaar 'n uiterste emosie van onsettende woede
Dis die spykerskrif op my liggaam
Soms is dit onbeheersd
Maar daar is ander dae wanneer die dogtertjie binne my beter voel
Hulle se humor is 'n teken van onderdrukte woede
Ek is die oneindige grapkas
My glimlag is 'n innerlike grynslag
'n Donker skadu wat my soms net wil versmoor
wanneer ek dink aan die seer wat my siel soms net wil uittrek
woed die storm weer
As my gedagtegang soms te ver wandel
en verlore raak in die donker see van verwyte
Pak 'n tydelike waansin my denke
En ek stap.sonder skoene
Chris-Mari de Klerk
|