Forum vir die bespreking en beoordeling van gedigte in hierdie afdeling. Digters Anoniem ...
Jonker
O God,
sy was mens:
so ´n aspersielyfie
nakend in die son en winde.
Wat het winde nie al alles omgewaai nie,
see-in gewaai nie?
Was sy ´n ewe misleide klein Nonquase
in wit geïnkarneer?
Sy,
met haar andyvie haartjies,
´n o-lalaa olyfie wat sonbaai; haar baba hasie-oë,
maar
´n onversaagde gees
wat betitelde name
met die agtervoegsels .ci en .loë
later
al kwater
aan't praat, prater, praatste
van grootpraters gelaat het;
en die manne wat ook
- onder andere deur haar -
hul genepoele skrywers DNA
wou agterlaat
sonder om God te ken, en haar as mens -
nou stil .
- Johann de Jager KNP 28/5/2003
Mésalliance She stoops to conquer - Oliver Goldsmith.
Kan mens dit sagkens doen?
Sag, wetend dat onstuitbare krag
enige weerstand kan verpletter;
dus, maar toegee aan die liggaam
stadig stuwende oer-ys
wat allengs - eeue lank - bykans ongemerk,
die versamelde los klippers in sy buik
oor die beddingrotsbank skuur
om met die verlangsaamde geweld,
- die siddering van rots op rots -
´n gletser uit te vreet, te erodeer,
en, beide rots en onverbiddelike ys te leer,
dat die vertraging van geweld se skrede
en momentum
onverwags ekstase word;
die onbedoelde gevolg van ´n verwagte skielike pyn
wat tot stolspoed ge-aai, gesalf,
getransformeer word
tot ´n sidderende akmé!
- Johann de J //KNP //14/5/2,,3
Briofiete en groen drome
Van fyn groen mos
aan die klam skadukant
van ´n voorvaderlike huis, by die afleipyp;
die enkele suringkies wat tussen kieselsteentjies kop uitsteek
- steenklawer, klawer drie -
by die oorspatdruppels,
die morswatertjie waar die pyp lek,
tot by verbruinde korsmos in ´n skroeison,
onbeskutte grys ligene teen vreemd wrokkige swart rotse,
iewers, op ´n onverkwiklike ver reis, sonder hoop
op ´n klawer vier,
is maar die afstand van ´n droom,
´n kort terugreis na ontroering;
die verwondering van nog ylgevormd menswees;
die kind, die groen vrug van my oorryp spesie:
wollerige persketjie, ´n knoppie appeliefietjie in babadoeke
en geheime miniskule wesentjies wat hul versorg,
saans vir hul dans, en elikser van blommenektar brou;
´n salige verkneukeling aan dinge
wat geen rente bring aan ongeloof van grootwees nie;
geen heling vir die kwaal van selfverminking nie.
- Johann de J //KNP //13/5/2003
Afrika siklus. 1
Horing van Afrika,
dooie prooi-antiloop
in ´n draadstrik,
jou werwelkolom,
jou skeurvallei
verwelkom
die ekspedisie van my hand,
die sensuele jagter.
Sy vyf geweerdraers, vyf verspieders
soek spore van jou kleinwild,
die skugter steenbokooitjie,
die poelpetaan se skropplek en haar nes.
Ons raak oud, te oud
vir buffel konfrontasies,
die gemsbok se skerp horings;
hul raak ook skaarser,
selfs in visioene deur ´n haarkruis teleskoop,
in valputte en draadstrikke.
Die honde van Afrika word meer;
die kaalvoet jagters van die laaste droëland selakant!
Bokassa, Amin - Belial - se gees bly leef.!
Ons onthou dae
toe ons die wildebees - as bloedlustige, wéllustige leeus -
kon neertrek, strek, soos ´n liefdesverwonde vrou,
ontkrag, onder aanslag van tand en klou.
Nou reis ons in jou landskap, suidwaarts, af,
tot by die groot mere wat blou-blink,
soos die grootpens van ´n eland
in die die oop son lê; waar die blou Nyl uit hom,
soos ´n dun, slungelende derm kom
wat die woestynjakkalse gryp en sleep,
noord, deur die dorre stof van Nubië na Mansûra.
O Afrika, wie vergelyk jou nie met dood,
met snode nie; as menseskedels die grootpad bestraat
waarop jágter en sendeling, razzia rower en imperialis
al eeue lank deur joú hart trek;
waar mfekana stamoorloë slaafs hul dwinglandy voortsit,
en dit uhuru noem;
waar onbegryplike gebruike soos
maagdebesnydenis
duiwelsimperialisme van die vrouewese is;
waar leë kerke kerkers word,
bowe aardse katakombes vol doodsbeendere,
makabere gru galerye in ´n nekropolis,
waar skedels en skelette van
Hutu teen Tutsi na ´n massamoord, net so gelaat word,
uitgestal vir ´n siek wêreld wat daar wenfotos kom neem
vir media biënale, TV uitsendings tussen programmatuur
en advertensies waar daar
- laggende
- laggender
- laggendste
verryktes in groteske grimasse hul wellus adverteer,
ewe walglik as doodsbeendere in ´n massagraf.
Wie wen dan met gru fotos van ´n kleutertjie
wat grootoog
- ´n gewonde dier -
weg kruip voor aasvoëls wat sy dooie ma verskeur,
en rapporteer apaties dat die kind toe ook
- sekondes later - ásende hiënas
vóór die lens, ten prooi moes val!
Afrika, Lasarus van die wêreld wat
verkieslik
in sy
graf moet bly, onder ´n
serk verseël waarop daar staan: Sic transit gloria mundi.