|
Gedigte kan HIER gestuur word.
Digters AnoniemForum vir die bespreking en beoordeling van gedigte in hierdie afdeling.
Digters Anoniem ...
Mesklip
(opgedra aan Manie Kennedy)
O Mesklip,
hoeveel heimweë skuil nie in jou naam nie?
Hoeveel vrae lê nie opgesluit in jou koringlande nie?
Ja Mesklip,
jy die kern van soveel naweke, die
bron van soveel gelag -
die ketting van so baie vriendskappe.
Hoeveel vure het nie in jou hart gebrand nie,
baie egos hang steeds tussen jou koppies.
Weet jy hoeveel diep spore lê in jou paadjies?
Soveel sweet is getap tussen jou harde klip.
Weet jy hoeveel goue oomblikke blink in jou skatkis?
Weet jy van al die seisoene agter daardie koppie? -
tyd was kosbaar, elke uur het sy goue raampie gehad.
Daar by jou het elke week sy goue deksel.
Weet jy van al die namiddae op die stoep? Steeds hang die reuk van vars koffie en pyprook in die lug. Steeds trek die geur van "vaal potjie" deur die harte van almal wat daardie oomblikke gedeel het.
Hoeveel trane loop nie nou oor jou blomme nie?
Die pers- en oranje kombers nou 'n swart-en-wit foto. Die Namakwa-daisy-fotos in my album nou deel van gister.
Die beeld van groen en goue lande is nog ryp in my geheue - die blydskap van die oes soos 'n vars
herinnering. Ek onthou ou hande wat werkskaf aan
die ou bekende windpomp en trekker wat behoort
aan gister, wat nog steeds wag vir môre - wat nooit daar sal wees nie.
Nee, Mesklip, jy sal nie weet nie of dalk sal jy,
maar jou hekke is nou gesluit, naam bordjies
uitgeruk uit grond met bekende spore wat ook
diep getrap is in die harte van mense wat agter
gebly het.
Jou hart klop nie meer nie, jou gesig 'n onbekende masker. Nooit weer sal jou vure brand nie, die reuk vervang deur ou stof.
Jy's weg saam met twee mense vir wie ons so lief
gehad het. Jou skaduwee is nou 'n hartseer
donkerte. Geen skuilte meer vir die moeë siel nie.
Jy's nou nie meer 20 km van my nie - daar's nou
'n leeftyd tussen ons.
As ek terugkom, sal ek jou herken?
... Nee, seker nie, want die kern,
jou mense, is die "missing pieces"
wat jou "ons Mesklip" maak.
Mag ons vrede in ons harte kry,
Vrede wat jy ons nog altyd kon gee ...
Oom Manie, ons mis jou. Nooit
weer sal ek jou tussen die skape
sien nie - daar waar jy op jou
gelukkigste was. Nooit weer
sal jy saai of maai, maar die tyd
saam met jou het ook sy oes gelewer -
ek sal dit vir ewig koester.
Jeanette van Rooyen
|