|
Gedigte kan HIER gestuur word.
Digters AnoniemForum vir die bespreking en beoordeling van gedigte in hierdie afdeling.
Digters Anoniem ...
Die Buitestaander
Jy Vlug
weg van die wêreld se lig
terug na jouself,
net so skuins voor elf
En iewers in jou kop
bots god en mens
in die ruimte tussen hier en daar
Vra jy vrae en wonder jy:
Kry dit dan nooit klaar?
Johan Schoeman
Argeoloog
Siel,
jy vlug terug
in die diepe lyf
En kom loer
oor die rand van die oë
net as jy rede het
Johan Schoeman
Elke Dag
Stukkend
In die donker nag
eenkant
leef ons
en smag
na môre se stil gedagte
Strompel na plesier
skeef, delikaat
en ril vir 'n wêreld
wat ons onskuldig
opvreet
Johan Schoeman
Noodkreet
Swanger noodsaak bars
pleitend
uit die tonnel van die gees
en skrei:
Digter!
Jy en die storieman stry
oor die beste manier
om die onsêbare te sê
En intussen ly ons
die Gewones
onder dinge wat gesê moet word
Johan Schoeman
Twee is een
Dialektiek van die Kyk
nie meer net ek
maar ook jy
En met die wegstap van hier
brand 'n vuur in my
Van al die gisters,
ek en jy
Sê my,
sal jy huil
as ek bly lê?
Sal jy, soos verwag word
blomme bring
En by die graf wag
totdat almal weg is
Dan bid
in die rigting van Niks
en omdraai ...
Johan Schoeman
Jané
Die kamer is donker
die bed deurmekaar
Blindings getrek teen die lig
en 'n advertensie flits
lok jou om oor die drumpel te vlug
In hierdie skemer lig
veg 'n muwwe reuk
om die grens na bewussyn oor te steek
En die wiel draai en stig
in die donker lig
'n wêreld van kolle teen haar rug
Dis waar, die waarheid lieg
in 'n kamer wat stink van bieg
en wat tog ook blink
Twee lewens gevang in die oudste spel bekend
waarvan die erns en tragiek
hulle altwee gaan skend
Johan Schoeman
Lem
Dit was donker toe dit gebeur het;
die eerste keer toe dit uit die bos getree het
Wat dit was het ek nie geweet nie
toe herken ek hom, en sou nooit weer vergeet nie
Hy kom uit die donker van die bos
en sy jas hang los
Met pante waaraan die eensaamheid rem
Ek het hom al male sonder tal probeer tem
min wetende van die lem
wat die prys is as jy hom laat inkom
Hy het weer gekom, die ding uit die bos
en sy jas, kon ek sien, was nog steeds los
Hierdie keer het ek hom maklik herken
maar sy naam, die wou hy nie aan my beken
Hy het homself sommer binne genooi
en snaaks, sy voorkoms was ... mooi
Ons het gesels, ek en hy
gestry selfs, sonder om end te kry
Ek het gedink ons was nou al vriende,
maar ons kon mekaar nie vind
Hy was te slu en te sterk
en ek het te laat gesien hoe hy die dolk trek
Johan Schoeman
Wakker wees
Buite, deur die donker deur
beur
die lig skryend
deur die twee-oog poorte van die syn
Skep dit bane van wit lig
deur die bewussyn heen
die Pyn
Johan Schoeman
|