|
Gedigte kan HIER gestuur word.
Digters AnoniemForum vir die bespreking en beoordeling van gedigte in hierdie afdeling.
Digters Anoniem ...
tata, my maat
net soos die nietige vlammetjie van die kers
my weg verlig in die skreeudonker nag
net so het die lewenslig uit jou uitgestraal
om my te beskerm teen 'n bose mag
tye wanneer die lewe vir my donker was
was dit slegs nodig om by jou te wees
sodat ek weer die pragtige lewensboodskap
tussen die waaroms en hoekoms kon lees
net soos daardie selfde kers se klein vlammetjie
die bloed in my koue hande laat vloei
het ook die lewenshitte uit jou uitgestraal
om so my hart met liefde te laat gloei
op ander tye wanneer die lewe koud was
en dit gevoel het of alles vergaan
het slegs jou nabyheid my die warmte gegee
om die twyfel te verdryf hier vandaan
net soos die uitgedoofde vlam van hierdie kers
steeds sigbaar brand op die skerm van my brein
net so sal ook jou uitgedoofde lewensvlam
altyd helder in my gedagtes skyn
vandag is jou vlammetjie uitgedoof, my maat
maar danksy al daardie lig en warmte
wat dit uitgestraal het met jou hier aan my sy
kan ek voortgaan in liefde en kalmte
Louis Basson
o, enkel voël in vlug
o enkel voël in vlug
moet ek vra
waarvandaan of waarnatoe
is jy op pad daar hoog in die lug
jou wêreld is so groot
en myne so klein
ek kan nie sonder vliegtuig en boot
daar uitkom waar jy met gemak verskyn
o enkel voël in vlug
mag ek vra
hoe lyk my wêreld vir jou
as jy daarop afkyk uit die lug
as ek opkyk na bo
na daar waar jy bly
sien ek jou grenslose land en o
hoe graag sou ek myself ook daar wou kry
o enkel voël in vlug
ek moet vra
wat werklik jou geheim is
dat jy my beïnvloed uit die lug
jy's so nietig en klein
ek so groot en sterk
maar die klank van jou liedjie so rein
sal 'n lewe sonder jou nooit laat werk
Louis Basson
afrikaans o moedertaal
jy't nie die skrif van die griek
of die xhosa se kliek
selfs nie die styl van sjinees
en die sis van portugees
afrikaans
vir baie is jy 'n skandaal
maar jy bly nogsteeds my taal
niks wat in my hart se kamers lê
kan ek nie in jou woorde sê
jy't nie die frans se nasaal
of die russiese skaal
selfs nie die spelling van pools
en die letters van mongools
afrikaans
jy is nie maar net nog 'n taal
jy is dan my moedertaal
dat jy dit sal word van vele mens
was, is en bly my grootste wens
Louis Basson
die spinnekop teen die hek
skaars bewus van jou bestaan
sien ek jou gewoonlik as 'n klein, swart iets
wat deur die wind vasgewaai is teen die spinnerak wat my veiligheidshek versier
smôrens as ek die deur oopmaak
is die spinnerak daar
'n brose skepping in 'n koue wêreld
soms met doudruppels oortrek
of deur 'n blaar ontsier
maar altyd is jy ook daar
die klein, swart iets
dan verwonder ek my aan die pragstuk teen die hek
en wonder waarom ek nog nooit die skepper daarvan gesien het nie
in 'n oogwink verwyder ek dan die rak met my wysvinger
en begin my gereedmaak vir die dag wat voorlê
een oggend was my wysvinger te stadig
en jy het soos blits op die hek se traliewerk gaan sit
dis toe dat ek besef het dat jy die spinnekop is
wat my veiligheidshek versier
Louis Basson
hallo, pa
hallo, pa
ek verlang na die pa-en-seun-dae
wat ek in al my vyftig jaar
nooit die voorreg kon hê om te ervaar
nooit kon ek vir pa sê
dat ek graag in jou arms wou lê
nooit het ek die kans gekry
om op jou nek te ry
nooit kon ek jou uitvra
oor die dinge wat my pla
nooit kon ons speel met 'n bal
of jy my weer optel elke keer as ek val
nooit kon jy met my stories deel
uit jare reeds lankal vergeel
nooit kon jy my straf
wanneer ek van die lewenspad af draf
nooit kon ek vir jou sê
dat ek jou vir altyd lief sou hê
ja, pa
daar was menige dae
wanneer ek vir jou baie kwaad was
omdat jy so sonder my verkas
want ek kon nie verstaan
waarom jy weg moes gaan
vandag verstaan ek
maar dit maak steeds nie op vir die gebrek
om groot te word sonder 'n pa
ja, daar is ma
en ek is baie trots op haar
want ek dink sy het besonder goed gevaar
maar sy is nie 'n man
en daar is dinge wat net ons mans kan
maar pa
ek kan darem "baie dankie" sê, o ja
baie dankie vir die meisie wat pa as vrou
geneem het om mee te trou
baie dankie vir elke gene en karaktertrek van pa
wat saam met díé van ma
gehelp het om van my ek te maak
ek glo dat pa ook op die resultaat trots sou raak
Louis Basson
doer op die spens se vloer
ek smeek my bleek
want die baas lê en raas
met die nooi in die kooi
sy sê sy wou net hê
ek moes die doos appelkoos
en die emmer vla spens toe dra
maar toe sien ek die kantien
'n hele magasyn vol brandewyn
en begin toe suip
tot ek op die vloer rondkruip
hy't my amper doodgeslaan met die seeppotspaan
toe ek hom sê dat ek sy vrou wou hê
om hom te vra wat hom dan tog so pla
sy't my net gevra om die goed te dra
en dit het ek gedoen sonder 'n soen
maar toe verskyn die brandewyn
ek reken toe, sjoe, ek sal net proe
maar daar pak vergeet my bewustheid beet
en dis waar die dop my toe vloer toe skop
- Louis Basson
die koerantverkopertjie
by die kruising van twee strate
waar voertuie in dolle vaart verbyflits
en 'n malende mensemassa op die sypaadjies voort storm
staan die jong seun met koerante onder die arm
by 'n baksteen en munte wat sy kluis vorm
asof in 'n lied sing hy die koerant se naam
bokant die stadsgeraas uit
terwyl sy geoefende ogies elke gesigsuitdrukking afvra
vir 'n teken van 'n moontlike klant
om so die nuus na die publiek oor te dra
van smôrens vroeg is hy reeds op sy pos
ongeag van wind en son en reën
gewapen met 'n vriendelike groet en 'n pittige sêding
probeer hy om sy koerante te verkoop
en so liggaam en gees bymekaar te bring
hy voel veilig by die kruising
waar soveel kulture en tale ontmoet
sy geld en koerante lê oop en bloot in almal se sig
maar niemand sou ooit probeer om iets van hom te steel
nie eens 'n skelm sou sy hand hier teen hom lig
snags by sy ouerhuis
is hy 'n verskrikte seun soos elk van die ander
hier waar hy juis veilig moet voel, is pyp en petrolbomme
geweervuur, messsteek, moord en verkragting
veel meer bekend as 'n glimlag, 'n handdruk en blomme
- Louis Basson
miskruiergeduld
kleine miskruiertjie
jy is so onbelangrik volgens my standaarde
ek regeer die ganse wêreld
en jy stap daar onder rond, plat op die aarde
ek probeer elke dag van my lewe om suksesvol te wees
in die dinge wat ek doen
en jy stap en rol 'n stuk mis van 'n bees
kleine miskruiertjie
tog is daar iets wat ek by jou kan leer
al is jy so nietig en klein
want jy het iets wat my werklik fassineer
dit is die pragtige geduld waarmee jy jou stukkie drol
oor die ongelykte aarde
tussen bosse en klippe deurrol
- Louis Basson
ware demokrasie, ware vryheid
oor baie jare heen het ek tale bestudeer
en my telkemale na die woordeboek gekeer
sodat die woorde wat ek soek
presies beteken soos in daardie boek
een so 'n woord was "demokrasie" gewees
'n pragtige woord, want daar het ek gelees
dit staan vir vryheid, gelykheid, menslikheid
regverdigheid en nog vele ander "heid"
ek weet nou wat "demokrasie" beteken
maar nou is daar 'n storm in my ontketen
ek verstaan nie die woorde wat end in "heid"
want ek lewe nou in 'n heel ander tyd
toe die boek gedruk is, het "vryheid" gesê
vry om te lewe. vry om 'n huis te mag hê
vry om te werk, vry om skool toe te mag gaan
vry om te ontspan en nog "vrye" verder aan
nou het ek tot my grote spyt ontdek
dat "vryheid" beteken vry om te vrek
vry om te steel en ook vry om te moor
vry om te alles wat die land versmoor
as dit dan nou is wat "demokrasie" beteken
sal ek baie graag die eerste petisie teken
wat ons weer terug sal neem na 'n vroeëre land
en ek weer tale kan leer met my eie verstand
- Louis Basson
afrika my vaderland
afrika
vasteland
niemandsland
van ver af kom hul aan
om hul vlaggies hier te plant
nguni, sotho en san
jaag hul diere oor die land
van holland, frankryk, portugal
stap die bleekgesigte aan wal
afrika
donkerland
woestynland
om ruilhandel te drywe
groente, tabak en graan
vir vleis en ivoorskywe
kom meer mense hier aan
plaas en dorp word aangelê
dat elk sy stuk grond kan hê
afrika
oorlogsland
vryheidsland
nasies word uitgeroei
baie lande kom tot stand
mens en dier begin te stoei
vir 'n plekkie in die land
uhuru moes die vrede bring
soos hul hul vryheidsliedjies sing
afrika
geboorteland
lieflingland
sal hul ooit kan verstaan
waarom jy so kosbaar is
waar kom ek dan vandaan
dis jy wat my moeder is
vandag kan ek my lied ook sing
mag uhuru vir ons vrede bring
- Louis Basson
die meisie by die kruising
sy's nog maar skaars laerskoolmateriaal
maar is reeds vlot in die man op die straathoek se taal
waar sy vuil en verslete geklee
'n glimlag aan elke verbyganger gee
met 'n vonkel van hoop in die oog
hou sy die karton met die boodskap omhoog
terwyl sy flink tussen die motors deur beweeg
so rats soos 'n kat in 'n baie noue steeg
is dit werklik 'n glimlag wat sy daar gee
of is dit 'n trek van pyn soos die kokende teer haar naakte voetsole smee
en daardie vonkel in die oog
lyk ook nie baie droog
is dit nie dalk 'n traan
uit verlange na 'n ander bestaan
dalk om ook soos die kinders te lyk
wat na haar vanuit hul ouers se blink motors kyk
die antwoorde hierop sal ons nooit weet
want ons het lank reeds van ons kinders vergeet
ons weet van die dinge wat met hulle gebeur
maar ons is te belangrik om ons aan hul probleme te steur
ons is immers besig om te presteer
daar is net nie tyd om met hulle te kommunikeer
mag ons tog net betyds wakker word
voordat ons laaste kinders oor die afgrond stort
- Louis Basson
aandgebed
Vader, bewaar my vannag
hier waar ek lê en wag
op die breek van die nuwe dag
en skenk my asseblief die nodige krag
om alles te kan vermag
wat die nuwe dag
van my verwag
amen
- Louis Basson
|