|
Gedigte kan HIER gestuur word.
Digters AnoniemForum vir die bespreking en beoordeling van gedigte in hierdie afdeling.
Digters Anoniem ...
Sandkasteel
Eens was ek die seesand
en jy die opgewonde kleuter.
Jy het my gebou,
soms onsamehangend, skeef en krom.
Jy het rondom my drome gedroom van
torings, gewels, hoeke en hoepels,
volgens jou wil en gedagtegang.
Jou spog en jou trots.
Jy het my gespeel,
my telkens opgebreek en vertrap.
Geen eindresultaat
'n antwoord op jou skeppingsdrang.
Jy het my sommer net gelos
sodat die gety kon styg en
koue, gulsige branders
my stukke vir stukkie kon verpletter.
Totdat nks oorbly nie.
Maar vandag is ek nie meer 'n sandkasteel.
Ek is die sand in die uurglas
en ek kan deur die gleufies
van mensekennis
genot uit die lewe put.
Met die wete dat almal,
nes ek in my uurglas,
'n glaskasteel familie is
wat nie durf 'n klippie gooi.
© MLV
Spoortjies
Spoortjies in die gloed
wat stomend uitstyg na hoogtes
waar gevoel weerkaats in oë
en teerheid dieptes ontsluit.
Spoortjies in die glans
wat sagkens ontvou na hemele
waar emosies glinster oor lippe
en intensies liefde bevry.
Spoortjies in die sfeer
wat asems laat snak
waar naaktheid jou klee
en aanraking jou wese voed.
Spoortjies in die onthou
wat triomfeer in ruimte
waar eenwording skitter in vlees
en passie siele absorbeer.
© MLV
Gewigtig
Wanneer oë nie meer lewe gestalt
en wenkbroue bloot rame word.
Wanneer lippe stom klanke toonset
en woorde bloot saamgestelde letters word.
Wanneer ore die amputasie van gehoor assisteer
en tromme bloot instrumente word.
Wanneer hande verlammend verdwaal
en gevoel bloot instinkte van ander word.
Wanneer bloed deur sukkelgange beur
en die hart bloot 'n transport depot word.
Dan ontspring vrese in naak geboortes en geklede sterftes.
Dan kerf angs deur naelstringe en ook die doodskleed.
Dan word gelatenheid bevrug en owerspel in gedagtegange gebaar.
En ek ontmoet die gewigsmaat van lewensvolume.
En massas vertoef in die waarheid van my seer.
© MLV
Verbindingslyne
My binnekamer 'n kommunikasie buffer
waar spore van gebede voetpaaie teen die plafon uittrap.
Strompelend in die buitelig
verbrokkel die naelstring wat hoop aan my verbind
en ek pleit met uitgestrekte hande
na verskuilde boodskappe in abstrakte sterformasies
Ek huil saam met loeiende winde
as my stem pleitend wegsterf oor kimme
en sigvelde blindelings in vertes verskiet.
Smagtende vryheid skarrel na 'n gebondenheid
waar vrae en antwoorde konnekteer
met denkpatrone in vreemde ordes van die kosmos.
My hoof geboë, o my God!
Maak die skerwe van verlore moed bymekaar
en versier die hart van my verstand ...
My hart ontvanklik, o my God!
Laat aardskuddings deur my newels dwing
en klee my met insiggewende begrip ...
My verstand geopen, o my God!
Ontsluit die grense van my menslikheid
en herskep die polsende lewenslyn van my gebede ...
© MLV
Speeltyd
Jou woorde
lei my deur gange waar gedagtes vrywillig verdwaal
en jy bekoor my met 'n warm melodie van hoort.
Jou woorde
saai betowerende wanordes waar ek geboeid wag
op nog 'n porsie van jou sprankelende self.
Jou woorde
voed die vrugte van al my vertakkings
en ek blom in verwondering oor jou speelse aanrakings.
© MLV
Kom ek vertel jou
Kom ek vertel jou ...
van asemtuigies
van skreefoog ontwikkeling waar mens ten dele sien
van toonhoogtes in die emosionele volwassenheid van ewige studente
van baie stof wat nog in onbruik lê vir die skepping van mensedinge
en van gedagtes wat in die hemele steeds nie hul voete op moeder aarde kan hou nie ...
Kom ek vertel jou ...
van die sonopkoms waar waterdamp aktiveer word
van die volmaan waar sterre landingstroke ontgin
van jou beeld in my denkekamer waar ek my helde en heldinne afstof
van lesse in die gatsak van my geheue
en van die gees wat nog asem oorgehad het nadat asem in ons neuse geblaas is ...
Kom ek vertel jou ...
van wanneer die skoonheid van iemand se nugtere denke eenvoudig asemrowend is
van wanneer die asmatiese gevolge daarvan die verdraagsaamste vorm van swaarkry is
van wanneer jou betekenis vasgegiet word in letters ter ere van net een jy
van wanneer jou menswees saamsmelt met 'n aangename kennis van die onuitgesproke woord
en van wanneer die alfabet ver te kort skiet om gevoel en emosies te laat lewe ...
© MLV
In my mensehand
In my mensehand
'n lewenslyn met vele vertakkings
in rigtings onbekend.
Siener illiustrasies irrelevant
in die werklikheid van vandag.
Vanuit die knus moederskoot
tot in tye van die dood
hande wat meeleef
in my bakhand menswees
wat pal om genade smeek.
Uit palms word note komponeer
met deuntjies soms so vals,
tog is die onhandigheid
die voorbereiding van offertafels
wat my siel ontbloot
terwyl ek nadenkend herkou.
Hande wat my drakrag demonstreer
as prikkels aan my vingerpunte
rooiwarm boodskappe
in my bloed vibreer.
Hande wat my leefwyses reflekteer
en my sigveld en gehoor
in hul vermoëns ondersteun
as ek tas na rede en sin
terwyl ek my Heer dien
en my liefde bemin.
Hande wat my keuses ondersteun
as ek astrant eiehandig
my lewe op die hande probeer dra,
weg van die klouende armoede aan selfverryking
om sodoende tot my volle potensiaal groei,
en as miljoener my hande saam te slaan
oor 'n menselewe welgedaan!
© MLV
Dis verby
Dis verby.
Ons afskeid dwaal sleepvoet om hoeke.
Ons skeiding in die pylvak van 'n verlore wedloop.
Dis verby.
Ons sukkelgang deur splinters van oomblikke.
Ons kruiptog deur vervaagde passiespore van ouds.
Dis verby.
Ons soeke na ankers in vergete spatsels van omgee.
Ons roepe na stemme waar woorde trane amputeer.
© MLV
Hoe dan nou?
My volk en vaderland,
vele harte wat in ysigheid brand.
My nasie en taal,
gedagtes wat in hongersnood dwaal.
My familie en vriend,
in verdeeldheid steeds onwetend gediend.
Van swaarkry kan niemand ons vertel,
al staan ons meestal in beheer van ons eie hel.
Ook nie van droom en glo en hoop,
al staan ons aardsheid in gange van die dood.
Nog minder van aansien en trots eens so opreg,
al staan ons vingerwysend in soeke na die Weg.
O my God, die kindjie leef,
'n nuwe toekoms om na te streef.
O my God, die oumens se asem is nog daar,
blikke op wat was word net nie klaar.
O my God, die gewetes mor en kla,
'n erewag van spoke wat siele na offertafels dra
© MLV
Beeldhouer
Jou hande die spreekbuis van jou reis.
Dit praat die taal van tere emosie.
Onder jou aanraking vorm toonbeelde van 'n meesterstuk.
Jou hande die instrument van jou dade.
Dit spreek van diepe gevoel.
Onder jou getuienis verweer selfbeheer tot vurige passie.
Jou hande die doelgerigte skepper.
Dit vervat die somtotaal in ware omgee.
Onder jou beeldhouwerk is ek soos klei in jou hande.
© MLV
Beskut
Toegevou in tere vibrasies
skuil ervarings van ek en jy
waar die vertaling van hartetaal ons beskut teen erosie.
Toegevou in asemrowende evolusie
ontwikkel eenwording van ek en jy
waar die skepping van wentelbane ons aantrekkingskrag reguleer.
Toegevou in die ego's van sterre
groei die vryheid van ek en jy
waar die aanraking van siele as getuienis van ons liefde dien.
© MLV
Grepies
Sekondes gelede
het nog 'n eeu onder ons neuse verstryk
en tas ons na die kleinnood in minute
wat hulself reeds oor dekades versprei.
Ons wil klou aan waardelvolle ure
en mis die gloed in jare se mag.
In dae smag ons na nog 'n bietjie tyd
terwyl maande net gedagtegange word.
En weke word in gelyke eenhede omskep
om eenvoudig as weke voort te roteer.
Subtiel transformeer maande
na dae eens in 'n omstandigheid.
En die jare word hervul
soos wat die eens geboeide ure vervaag.
Dekades nou die gevangeneskap
waar minute steeds sluimer en slaap,
terwyl eeue die geskiedenis
in sekondes omsluit.
© MLV
Legkaart
Legkaart stukkies oor berge en dale heen,
herkoms onder voetsole versteek
deur die bloed van voorvaders te vermeng.
Bouers soek na eenheid
in die vae stippels van raamwerke wat skeur
as die monde ter voeding opinies in skadu's herkou.
Versamelings oor alle windrigtings verspreid,
rigtingwysers in 'n spookbedryf begrawe
soos sienings tas in die veselglas oë van 'n poppespel.
Argitekte soek na kolleksie
in die horende denke van gesante sonder vlerke
waar swaar wolke nadenkende storms beloof.
Halfklaar prentjies van 'n denkbeeldige beloofde land
wankel in die hande van beginners
waar asems ontsnap uit kriteria wat tonge verlam.
Ingenieurs soek die juiste filosofie
in klouende bevrugting vermom as wensdenkers
terwyl stofstorms geskep word uit die verassing van lewende lyke.
© MLV
Feesmaal
Saggies vroetel
'n net-net ritselwindjie
takkies tot 'n roerdans plesier.
Sonstrale skerts
vrolike deurmekaar patroontjies
op 'n grastapyt van lowergroen.
Voëlgesang jubel
'n kwetter-fluit wysie
waarop skoenlappers fladderend dans.
Koel waterstrome kabbel
fyn simbaalklankies
oor klippe blink gemaal.
Die orkes en dansers
genaamd natuur,
ritmies begelei deur 'n Meester dirigent,
offer 'n lushof vir elke sintuig,
waar elke oog wat wil sien
en oor wat wil hoor
hom kan verlustig
aan 'n daaglikse vyfgang feesmaal.
© MLV
Seerkry
Jou tred verstil,
vrees vir die volgende oomblik
van gister wat sal terugkom.
Jou stilte word jou skans,
afhanklik van omstandigheid
in tere gevoel.
Al wat oorbly is die
afstand van siel na verganklikheid.
Hoorbare leeghede en
verlange om jou eie siel te verstaan.
Hoekom's groter as jyself.
Die taal van jou hart prewel
dit maak nie saak nie
maar onsekerheid diep agter jou oë verskuil.
Dink jy werklik alles het
sonder sukkel gekom,
sonder seerkry.
Jou stilte sal jou vrede word
en jou treë 'n oorwinnaarstred.
© MLV
Gedagtes aan jou
Wandel ligvoets
deur welriekende paleise
gebou deur duisende onthou spoortjies
wat met kartelpatroontjies
in edelgesteentes omsoom word.
Trippel-trap voetjies
op 'n luilekker ontdekkingstog
sweef van deur tot deur
en open genotvolle visies
gegiet in totale verwondering.
© MLV
Biografie
Aardsekind -
hoe ver gelede dan!
Daardie ewige dors wat
selfs hierdie woestynplant verdor het.
Slegs die verafgeleë hoop op eendag se bui reën.
Maar dis dan nou, ja vandag!
Want 'n wolk het neergedaal
en die mis het opgetrek.
Soveel verwondering dan oor hierdie
magnetiese krag -
'n krag soveel sterker,
soveel magtiger as die aardse swaartekrag.
Want hoe veerlig voel ek nie alreeds
in hierdie almagtige wete
van ewige rus.
Huppelkind -
verlustiging in die goue daeraad!
O nietige mens,
hoe kon jy jou ooit indink -
hierdie moontlikheid van die onmoontlike.
Maar weens die natuurlikheid van jou natuur
moet jy swig tot stof.
Stof tot nadenke
oor die dorre nagtelike uur.
Skielik deel jy aan 'n dagbreek,
'n bewys dat geen habitat
onaanpasbaar is nie.
Juis hierdie gedurige herinnering
maak ons deel van 'n
kragtige en magtige
en o so oorvloedige liefde.
Mensekind -
jy het huis toe gekom!
Dank aan die tuisteskepper,
die wil vanuit die poort in die ooste.
Roem op die hemelse atmosfeer,
instrumente en tipiese knegte
onder vrywillige dwang.
Bevraagteken dan nie die rede,
betwyfel dan nie die weg.
Die twyfel lê in die vleispotte ,
die vrae in die murg van kaalgevrete been.
Die listigheid van gister se aarde
word die oopgeskeurde graf van môre se soek.
Jubel saam met ander deelgenote in samesyn
want ook ek kon huis toe kom,
en ek voel so tuis.
Vredekind -
die sewende dag word voltooi!
En kyk, die woestynplant
word 'n boom -
deel van 'n oase waar
die lewendmakende water maar altyd was.
En die swanger bekeerde siel word
wedergebore tot 'n gees te hemele.
Die kindjie slurp met lus die moedermelk
en loer grootoog na die brood uit Moses berei.
Sodat die eerste dinge kan verbygaan.
Hemelkind -
geloof, hoop en liefde!
Getuig aan die regterhand van jou God -
'n nuwe aarde is gebaar,
in en uit Jerusalem bevrug.
Nog 'n vervulling van die ewige verbod.
Verseël ten aanskoue van die hele gebou,
in goud geanker aan die vervolmaakte hoeksteen.
En die sielsaligheid bring 'n glimlag
van genoegdoening in die hemele -
ons trane is geseënd.
Ewigkind -
vir alyd sielsgenote in gees!!!
© MLV
Oestyd
Jy wandel deur my hart
en jou voetspore word my gedenktekens
terwyl ons sonstrale oes met 'n tintelende gevoel van hoort.
Jy wandel deur my wese
en jou hande word my offertafels
terwyl ons die maanskyn oes met sintuie wat gallop.
Jy wandel deur my lewe
en jou woorde word my lied
terwyl ons sterre oes met hunkerings wat pols.
Jy wandel deur my menswees
en jou aanraking word my ervaring
terwyl ons die naglig oes in ritme vir mekaar.
Jy wandel deur my verstand
en jou denke word my behoud
terwyl ons daglig oes in 'n sirkel sonder einde.
Jy wandel deur my individualiteit
en jou bestaan word my gebed
terwyl ek lig oes in liefdesgawes onbeperk.
© MLV
Reisiger
In lui sonstrale
wat knipoog
deur boomtakke wat sagkens wieg
word denke spontaan bevrug
om soos lentebloeisels
'n gemoed vol jodelklanke te baar
wat vars fonteinwater laat ontspring
oor die vrugbare gronde van wete
dat die reis op paaie van môre
deel van my einddoel en bestemming is
- © MLV
Môre
Want môre is die antwoord
op vandag se vrae
gebore uit gister.
Want môre is die eendag
van vandag se denke
uit gister se drome.
Want môre is die toekoms
uit vandag se twyfel
en gister se foute.
Want môre het 'n hoop
teenoor vandag se wonder
en gister se vrae.
Want môre is die lewe
uit vandag se besluite
en gister se lesse.
Want môre kan verander
uit vandag se leer
van gister se treë.
Want môre is myne
om vandag te begin
en die gisters te bêre.
- © MLV
Alias
'n Rondomtalie vlooimark,
kwinkslae en sweepslae
van tong in die kies manewales
verberg agter alias jy.
Beskerm deur ses en twintig lettersoldate
wat jy kan rangskik
en weer en weer
her-rangskik na eie gier.
'n Kamer kruie en speserye na welke smaak,
identiteit te kies en te keur
in 'n wêreldwye maskerade.
Operasie jy ken my nie,
verskuil in 'n wêreld van anoniem.
Maar ook 'n wonder
oor die doen en late
van aliase nes jy
in fantasie episodes
waar maskers verkieslik bly.
- © MLV
Heimwee
Die son se laaste strale
stap met trae voete oor die horison
en water weerkaats warm skakerings uit 'n kleurpallet.
Brandertjies klots teen die walle aan
en herkou aan nog 'n stukkie vaste grond.
Die vissies wat vir oulaas kom loer
skep sirkeltjies met kringe wat al hoe wyer uitkolk.
Wolkies soos watte
met aandblomme as parfuum
skommel op die maat van die aandmusiek.
Met die wind in jou hare
staar jy afwesig
na jou verrimpelde voorkoms in 'n waterspieël
en ontwaak 'n heimwee ongevraagd.
En wanneer die maan se eerste strale
'n goue voetpad bou
vir die perfekte wandeling tussen sterretjies
sien jy baie voetspore
van die onvoorwaardelike geloof van 'n kind
wat jou onsigbaar klein laat
terwyl jy groei as ontdekker
van gister se onthou en môre se hoop.
'n Stil en neutrale bestaan
waar jy bewusteloos probeer ontvlug
en tog soos 'n koue enjin luier
om langer te kan vertoef
op die drumpel van heimwee
waaraan geen woord of daad reg kan laat geskied.
- © MLV
Dagbreek
Toe die sonstrale die ooster horison sagkens oorwin
en die voëlgesang in 'n ode omskep,
toe die hemele afstand in al hoe helderder blou klee
en die engele se glanswit stralekrans
jou in gewiglose vryheid omvou...
Toe jou laaste asem sterf oor lippe wat woordeloos smeek
en jou oë die saligheid van tydlose lig opsoek,
toe is jou ewige lewe ontsluit
uit die stilword van 'n moeë hart
en die loslating van 'n sorgelose siel...
Toe het jou dagbreek 'n verlossing geword
en het jy die aardsheid gretig gegroet
met die wete van 'n ewige vreugdestog
in alomteenwoordige liefde
aan die voete van onse God...
- © MLV
Spore
Gedagtes en idees
in die geheues van ridders
wat nog nooit 'n wit perd opgesaal het nie.
Dis altyd wilde perde
wat die wind laat suis
en stof uitgalop.
En as die wind gaan lê
is daar hordes spore
en steeds 'n sug in die onderbewussyn.
- © MLV
Geredigeerd
Jy verrys uit 'n visioen van ouds
waar jou beeld op kimme ronddans
en sieners hul totaal misgis
met jou reënwoud eienskappe
waardeur jou krete na behoud
my gevestig het as jou grootste kampvegter.
Die misterie van ek en jy
wat op die melkweg se rug
ons skadu's oor die maan werp
terwyl ek jou in tere rustigheid
kan kloon en herkloon
as 'n tydlose held in beskutte gedagtegange.
Genoegdoening in wandelinge
met orion as ons sambreel,
waar kreatiewe skeppingsdrange
ons bekers vul
en ons ons dors les
in denkbeelde van saligheid.
Magneetvelde wat ons maagdelikheid
in tydlose dimensies binnedring
tot volwasse grootsheid,
waar die wetenskap van swaartekrag
ons siele nie kan bind.
En ons sweef soos arende
in die vryheid van verslaafheid
aan mekaar se menslike habitat.
En die hitte uit die aarde se kelk
laat ons vulkanies ontpop
tot onlosmakende argitekte
van lugkastele met geen gelyke.
Wankeltreë het gewyk
en ons redigeer die toneel tot perfeksie.
- © MLV
|