|
Gedigte kan HIER gestuur word.
Digters AnoniemForum vir die bespreking en beoordeling van gedigte in hierdie afdeling.
Digters Anoniem ...
DANS MET DIE HARLEKYN
('n Selfmoordpoging)
harlekyn staan op sy kop
druk 'n tert in ouma se gesig
harlekyn trek skewebek vir die skare
wat met reënboogtande skater
harlekyn grap-grap
sit jy 'n tou om jou nek
almal skater
harlekyn! harlekyn!
altyd jonk,
altyd vrolik,
altyd sorgeloos
maar harlekyn
vir my kan jy nie flous,
want èk weet
as jy vanaand langs my kom lê
jou oë 'n maskerade is
(dan is dit net rooiwyn
vir jou lag, jou traan en jou pyn)
Martha Maria Jones
Hoekom ek hartseer is as iemand jou naam sê
is hierdie 'n liefdesgedig?
die woorde wat ek so kruipvoet
op die bladsy neerskryf,
die waarhede wat so onder my
tong deursluip
is hierdie 'n gedig
van 'n meisie wat op 'n ou
verlief was
en hom toe verloor het?
is hierdie gedig 'n verklaring?(.)
ek is hartseer.
ek kan nie jou naam hoor
sonder om weg te kyk
en hard te sluk
ek is dit aan hom
verskuldig om dit uit te klaar
HOEKOM
ek is nie verlief op jou nie,
ek nie meer jou beste vriendin,
ek is nie jou sorgelose wilde meisie nie
ek nou net 'n figuur
uit die verlede,
die meisie met wie jou wou trou,
die meisie vir wie jy lief was.
EN dit my vriend, is hoekom
Martha Maria Jones
Ek skrik toe jy dit is sy
ek lê en wag
my asem jaag
- in en uit -
(hoekom definieer ek my asemteue?)
ek hoor voetstappe
vinniges wat klink
of dit effens sleepvoet,
effens dronk
by die gang af sukkel
my asem verstil
kan dit jy wees?
my bloedverwantskap kom wit gesig
die kamer in
gooi haar lyf bo-oor myne,
warm-rooi dik water
gly van my lyf af;
bevlek my wit lakens
alles word stil,
stil soos 'n wysielose
konsertina
tydlose kinder-herinneringe verbrokkel
voetstappe wat opklink in die gang
is dit jy ...
grootmanshande,
eelte op elke vinger
en 'n swart stukkende
nommer nege skoen
is al wat ek sien
tussendeur die warm-rooi dik water
wat vanaf my afdrup
toe jy my bloedverwantskap vasgryp
Martha Maria Jones
Terminale
ek is elke dag
op 'n terminaal
wat na jou toe gaan
my tas gepak,
my pen in 'n kassie
en my boek oop
ek betaal elke dag die fooie
vir die kaartjie
en die bagasie
trek my rooi rok aan
en skryf 'n bordjie met my naam op
vir as jy my nie onthou
elke dag, vergeet ek
hoekom ek wou gaan
- bang vir wat ek dalk gaan vind
as ek daar kom -
elke dag vergeet ek
om aan boord te gaan.
Martha Maria Jones
'Mamma se rooibek mannekyn'
(Jodene)
stuimel die bult af
een voet links, die ander regs, dan gekruis
draai in die rondte en val plat op die mat
skater nou uit van die lag: ha-ha-ha
spring op en af op die bed
(moddervoete-en-al)
raak aan die maan
en vleg die son in jou hare
skryf 'n briefie vir mamma teen die muur
met die verfkwassies wat pappa gekoop het
sluip suutjies oor die mat
mamma se grimeerkassie styf
onder die baadjie toegewurm
"Kyk Mamma!" een oog pienk,
die ander blou,
lippies hanswors rooi
"lag oop bekkie vir die kamera,
Mamma se Rooibek Mannekyn!"
Martha Maria Jones
'n gedig: die waarheid van jou
'n liefdesgedig - skryf ek nooit maklik;
maar vir jou
skryf ek boeke met net die paar woorde
en gee dit diè naam: waarheidsgedig
jy het my wêreld so verander
met jou donkerbruin oë
wat op plekke kan kyk
wat verskuil bly vir ander
met jou hande wat die seer
soek en grawe,
vertroetel en regmaak,
so maklik, so asof dit jou doel was
van die begin af
met jou lippe wat my taal
so maklik kan ontsyfer en
verklaar;
lewe kan gee aan die lewelose versinsels
wat hul opdring uit my keel
dit is vir my moeilik om te sê
die woorde wat ek dink jy wil hoor
(maybe dink ek verkeerd)
miskien ken jy al die woorde
wat soms-soms so kop uitsteek
by die gediggie van my
Martha Maria Jones
'n bruid sonder kansel
'n kussing vol drome
tussen die blues
en al die ander halleluja's
kruisgevangenis van
verwoordings
ineengestrengelde figure
vreemdelinge vir mekaar
vergeet van die belofte
van God
...
my wêreld is vanaand vol
klanklose stiltes
Martha Maria Jones
as lisa dans
(vir Johan)
'n wasemagtige figuur
dans in sirkels
terwyl die skadu's vlug
die donker nag in
'n klavier
skree verdrietig sy klanke
na die maan
en begelei
die figure
wat die spoke jaag
Martha Maria Jones
stil
jy is stil!
sonder wense
stil ...
die wonder kind
simptone
van 'n verlore dromer
getuig in die ineen
hande
van 'n gebuigde priester
toegemaak in die hart
van die
skimromanser
verwond is die vrymakers
in stiltes vol vibrasies ...
Martha Maria Jones
gesigte sonder vreemdelinge -
verskuil agter
wimpers van glas
is 'n afvlerk feetjie
'n traan sonder
moed,
'n skoen en hoed
en 'n lyf so naak soos ek ...
Martha Maria Jones
on-ewig droom
jou stem rinkink in die wind
-PrentjieKind-
en
jy, jy
sprei oor my
strokie vir strokie
en ek wens
-LiedKind-
op 'n vervalde ster
... lankal verlore in jou oë
-TraanKind-
Martha Maria Jones
JOUNE (boorde vol van jou)
Tussen jou boorde
loop ek en soek na woorde,
vleg my hande deur jou wingerdstokke
tot jou antwoord myne is
My hart speel Aljander-Aljander so deur die bos
al om die hart van jou; wat my nie wil verlos
My lippe smul aan jou trosse
tol dit om en om; tot dit proe soos lief-sê-kosse
Ek soek na woorde
in jou boorde
- enige woorde -
huistoegaanwoorde
Martha Maria Jones
Valiant
(Vir P.G. du Plessis)
Ek voel deprive
van alle emotions
die platpote het my prized Valiant gevat
gesê die stuk junk hoort op die junkyard
maar hy weet nie
hoeveel ghries dit my gekos het
om daardie Valiant van my te laat brul
hoeveel aande van swoeg
en bloedsweet dit uit my getap het
om daardie bliksemse metaal
te sien glitter in die stad se liggies
as ek by die straat afjaag
soos 'n koning op sy koets
oppad na Pizza Palace
daaronder in Independence Street
- die verdomde platpote -
ek het vry gevoel op daardie metaal
langs daardie metaal
en
dit was lekker
om die wind deur my hare te voel
om net te voel
asof ek vry is
asof ek lief is
- vir iets -
al is dit net vir daardie bliksemse stuk junk
wat nou lê
en roes op die junkyard.
Martha Maria Jones
Skimromanser (vir Johan)
briefies op my kopkussing
'n versie vasgevang in 'n sms:
rooi roos blare val vanuit die blomlose hemel
af op die diamantkroon wat ek in jou wonderwoordeland gevind het,
'n vlerklose engeldans
in my drome geverf
toe jy aan my die wonderliefwoorde gegriffel het
ek is verlief op die seun
Martha Maria Jones
ongetiteld
vrolikoogkind
lyfie ontbind,
was jou ogies oop
toe die man jou ontknoop?
Martha Maria Jones
ongetiteld
'n kindjie klein en sag
vingers in 'n vuisgrepie vasgevang
om teddie se blou koppie
bangmaak geluide en skadu's
wat dans teen die dak
is alles dinge
wat kindervoete
en 'n baie blou teddie
twee-uur in die nag
aan die deur laat klop
en skree:
MA!
Martha Maria Jones
ongetiteld
maybe is ons almal star gazers
wagtend in swanger stiltes
op 'n verskietende ster
maybe wag almal net vir 'n Van Gogh canvas
Martha Maria Jones
ongetiteld
gatoorkopdeurniswoorde deurmakruis geslaan
op jou eenmanssnaar, verlangende-eggo's uit die holklanke
van jou albasterstem, stillenagheiligenag
oggend is dit blohmsnare se speeltyd in die wind
engelkind vry van menslike boeie
vang die oggendliefwoordevas
vir 'n reëntyd-dag
Martha Maria Jones
Vergeet op Drieankerbaai
eendag sal ek al die antwoorde weet
en soos Ingrid Jonker kan vergeet
my lyf verewig in 'n bamboes greep
op Drieankerbaai se strand - leek
die woorde van my kindergediggierympies
word onthou as grootwordgeheimpies,
my sister, my ma, my nasie ween
en vra om Gods-sëen
want te laat het hul besef
ek wil vergeet
ek is Ingrid Jonker!
Martha Maria Jones
jy
jy spoel oor my
soos 'n stille rivierstroom,
oor gladde rivierklippies
se naakte waarheid speel
Martha Maria Jones
ongetiteld
wind se kind
'n reus in die nag
speel tokkel klavier
met my soepel wit lyf
se dou druppels
Martha Maria Jones
Stille Rivierstroom
bergdruppletjies
spoel oor
die wêreld se aarde,
'n feetjie trek
klaasvakie se baard
en engeltjies
dans op duiwels se sterte
sonstraal kinders
lag klokkiehelder
in oggend se asem
Martha Maria Jones
|