|
Gedigte kan HIER gestuur word.
Digters AnoniemForum vir die bespreking en beoordeling van gedigte in hierdie afdeling.
Digters Anoniem ...
die meisie, my muse
meisie met
die mooi oë ...
wens ek kon
meer - selfversekerd -
en onaanraakbaar
soos jy wees
meisie met
die hartseer oë ...
wanneer het jy
jou - vermoë -
om te vlieg
verander in lewensvrees?
meisie met
die moeë oë ...
wie het so
by jou - gesteel -
jy het amper niks
meer oor om te gee
meisie met
my oë ...
ons vang mekaar
gedurig in die spieël ...
ons wil eintlik huil,
maar dan lag ons eerder verleë
Maryke de Zeeuw
sy soene
in die lente
van ons liefde
groei die woorde
by jou en ons
monde uit, soos
'n oorgroen kruietuin
met amper té veel kleur ...
'n kruietuin wat nie gesnoei
hoef te word met 'n skêr
- 'n demper, beheerder, inhibisies of pretensie - nie,
maar steeds
met soveel teerheid
en agting
en eerlikheid
gekoester en gepamperlang
moet word ...
vir ons om ten einde saam
op die metaforiese stoep
van ons lewens te sit en
vir mekaar se mosgroen, amper onkruidagtige
- maar steeds geurige -
lywe te sê:
ek het jou liewer
as sonskyn en water!
Maryke de Zeeuw
michael judas van zyl
jy is
die
verlore seun ...
seun, jy is
verlore
jy het
omgedraai
en weggeloop ...
van jou Here
na gillende gehore
jy is
die
verlore seun ...
virewig verlore
vir my
verlore seun
- gaan huis toe! -
as jy jouself
dalk langs die afdraaipad
kan kry
Maryke de Zeeuw
droomboskind
kinta ...
hoekom is
daar nie meer
vlinders in jou
oë nie?
meisiekind ...
glo jy die hemel
kan op aarde óók wees -
liefde kom nie net
van Bo nie
hart-se-punt ...
ek kan sien hy
en sy alewige apatie
is besig om jou
hart-te-breek
liefdeskind, my droomboskind ...
dié gaan so seermaak,
maar hier is vir jou my skerpste spelde
waarmee jy jou vlerke
weer kan vassteek
Maryke de Zeeuw
foto's in teer
kyk net na jou ...
kyk net na jou hart en siel
kyk net na jou foto
en hoe ek sit en dit verniel
kyk net na jou ...
kyk net na jou lag en huil
kyk net na jou foto
en hoe maklik dit vir my hande is om jou beeld onwetend te bevuil
kyk net na jou ...
kyk net na jou mond en oë
kyk net na jou foto
hoekom lyk dit amper asof jy in my glo?
kyk net na jou ...
kyk net na jou hart en seil
ek kyk na jou foto:
kan jy ook sien hoe dit my verniel?
Maryke de Zeeuw
tula, tula
ek wonder
hoe sou
dít gelyk het ...
dié se vlinder-velletjie geruik het
ek wonder
wat sou
'n rosie-soentjie vir my beteken het ...
as ek my liefde - en die begroting - sit en bereken het
ek wonder
wanneer sou
die tekens van die tye begin wys het ...
nadat ons tweetjies se paaie so onverwags gekruis het
ek wonder nou nog
hoe fluisterend ... verdwynend ...
dié se eerste gilletjie geklink het ...
toe ek die oggend daarna 'n giffie gedrink het
Maryke de Zeeuw
rooi kleurstof nr.10
...selfs my liggaam
is besig om jou te verwerp
en uit te woed (in die vorm
van rooi kleurstof nommer 10)
...en my voedselbolusse
ruk,ruk,ruk aan
my buik en ingewande
aan die gedagte dat ek jou ooit weer moet sien
...my pupille vergroot,
my asem jaag, my hart klop verwoed
en (dieselfde) rooi kleurstof
suis in en uit my ore
...jy was gemaak uit liefde...
en daar was bloed.
jy gaan dood...
en daar was bloed.
jy het my van jou afgesny...
daar was bloed...en
ek wens jy was nooit gebore.
- Maryke de Zeeuw
onderhoud met 'n geheelonthouer
ken jy
die
betekenis
van ekstase?
of is jy
een van daai koues,
apaties en neusoptrekkerig
vir daardie frase..?
ken jy
die
betekenis
van asemrowend?
of is jy
een van daai gryses,
vaal en anti-sosiaal,
altyd geheelonthouend..?
ek vra weer, ken jy die betekenis?
- Maryke de Zeeuw
en die see het bedaar
(vir Ingrid Jonker)
ek het gisteraand
langs die strand gaan stap
en iets omtrent die see
het my nader getrek...
miskien was dit net die donker
ek het doodsluiters
die water ingestap
- gevoel hoe my klere teen my lyf vaskleef -
en vir 'n oomblik, net 'n oomblik
was ek Ingrid Jonker
verstoot, verlief, verneder:
valkenburg...
vir niks, verleë, vereer
maar tot op die einde
net verlore
ek kon weer terugkeer
na my warm, veilige huis toe,
maar nie jy nie Ingrid...
al die mooiste skatte, woorde en legendes
word weer en weer en weer vanuit die see gebore
- Maryke de Zeeuw
Distorsie
ek wil geboorte skenk
aan die
perfekte
verhouding
ek wil liefde maak
-met iets-
sonder
weerhouding
ek wil swanger raak
met die
perfekte
porsie
...en toe die kraampyne kom
lê daar
-weereens-
voor my
die perfekte aborsie
- Maryke de Zeeuw
Sondeval
beminde bruid
in haar wit gewaagd
loer met oë vol trane
en 'n mond oop met afwagting
deur haar sluier
beminde bruid
in haar room gewaagd -
net sy alleen weet wat aangaan,
onder al dié opgehemelde reinheid
kon sy hom nie weier
beminde bruid
in haar grys gewaagd
bid dat sy vanaand vir
haar man skoon en
onaangeraak kan wees
beminde bruid
in haar swart gewaagd
stap haar belowende toekoms tegemoed
en loer weer deur haar sluier wat oor haar kop hang soos 'n swaard,
soos die sonde van die vlees
- Maryke de Zeeuw
|