|
Gedigte kan HIER gestuur word.
Digters AnoniemForum vir die bespreking en beoordeling van gedigte in hierdie afdeling.
Digters Anoniem ...
Ingrid en Ek
Daar's net brood en melk op my tafel
terwyl jy weer by die deur staan en weifel,
soek ek tevergeefs
in die groot seemans - atlas.
Jou paaie lê in gedigte,
binne die sakke van my reënmantel.
Ek wens jy kon sien, die nuwe vlag
wat wapper op die dek in volle prag;
nie meer gebombardeer deur geredekawel.
Die dood het gesege in jou siel -
nostalgie soos 'n gesatineerde see
en jou gedigte word die surrogaat in my hart.
Dis weer neëntien Julie
en ek staan op Drie-ankerbaai,
weer op 'n soektog
na jou in die groen kelpvelde.
Maar nou is dit net Ingrid se sereniteit,
stil in haar seemans - graf
En ek lê al weer en tjank
oor alles wat my ontgogel.
Was eens, maar ook maar net 'n mens
Du bist,
You are,
Jy is,
Was eens, maar ook maar net 'n mens.
Met titels en lourierkranse versier jy, jou naam.
Pronk heeldag daarmee voor jou gehoor.
Die wat nes jy wil wees,
of wil hul regtig?
En kom kruip die skemer vanmiddag nader en
jy terugkeer na jou huis.
Bly jou titels by die deur,
loer jou eretoekennings senuweeagtig deur die
skrefies van jou kombuisvenster se gordyne.
Jy weet, die een by wie jy elke oggend
staan en koffie drink.
Die een by wie jy lank terug deur,
drome gedroom en verloor het.
Eenklaps gooi jy die koffie
in die wasbak uit.
Jy skink eerder iets sterker,
dink jy by jouself.
terwyl die reeds leë bottels
soos bakens oral verspreid staan.
Jou siel het jy verkoop.
In die naam van kennis,
maar dis nie wie jy wou wees,
of was dit?
Met "Braso" poleer jy, jou stralekrans.
Dis vyf voor agt en jy moet ry.
Al weet jy dis net nog 'n dag
waarin jy die waarheid gaan vermy
dat vanaand die duiwel weer
jou siel gaan kry.
Dis hier, net hier
Dis hier, net hier
waar die N1 'n swart streep
deur goue grasvelde sny tot,
op die horison.
Terwyl transportlorries sukkel, oor die built,
lyk hul nes shongololos na die rëen.
Dis hier, net hier, by populierbome en Vaalrivier,
dis hier, waar my hart begrawe lê.
Met shongololo se kind aan my sy
vat ek die pad terug stad toe en
vir 'n eon sekonde gaan lê die wind
en ek besef meteens ...
Dis hier, net hier, waar GOD my, uit die aarde
met sy hande, geskep, gevorm, gemaak het,
tot wat ek vandag is, hier en nou.
Gemaak van 'n koppie rooigrond sodat ek
altyd nederig na die land sal terughunker.
'n Grashalm, buigbaar en broos, tog as ek
afbrand, ek weer terug sal groei.
En. twee donsveertjies van 'n swaeltjie onder die brug
en 'n tikkie goud sodat ek sag en poleerbaar moet bly.
Die sig van 'n vaal valkie,
'n skeppie Vrystaatwind
en 'n knypie skaapwol
waarmee ek myself kan
toegooi in Sy genade, vir as ...
die winterwind oor hierdie vlaktes begin rol.
Michelle van Zyl
Abundance
Soms ... net soms ...
Wil ek weet hoe dit voel,
om regtig te kan voel.
Hoe iemand voel, hoe jy voel ...
Sodat ek kan verstaan.
Jy skink vir my tee uit jou beste koppies
vra omverskoning, die melkbekertjie se oor het gebreek.
Spottend lag jy en sê:
"Hy is kwaad vir my, jy weet,
maar die oor het ses plekke gebreek
ek kan hom nie regmaak nie.
Hel! Dis al wat ek nou nog kort."
Jy gaan sit terug, moeg sug jy.
En vir 'n nano-sekonde voel ek,
voel ek, hoe jy moet voel as jy die mure
om jou hart laat tuimel.
Ek sien jou hande raak, asof vir die eerste keer.
Ek sien hoe jy hul gebruik, dag na dag, om te bou,
en breek, soms. onbewustelik.
Vir 'n oomblik sien ek jy is moeg.
Moeg baklei, moeg probeer,
moeg om hierdie waansin te probeer verstaan.
Uit die stof van die aarde neem jy klip en erts.
Smelt, bou, breek en slyp dit af,
tot die mooiste beeld.
Al bevind jy jouself in transito
op 'n plein tussen iets en êrens.
Ek sien vir die hoeveelste keer
die sagheid om jou wang.
Ek sien die pyn, dit wat jy nooit wys nie,
in die ligte plooitjie langs jou oog.
Ek hoor die woorde, dit wat jy nooit sê nie,
hoor ek op die hoeke van jou mond.
En soms ... net soms ...
voel ek jou hitte, die wat jy nie deel nie,
maar wat tog smag om vasgemeer te wees teen iemand
en wakker te kan word in 'n veilge baai.
En met alles wat ek sien wil ek sê:
"Toemaar, ek brei vir jou 'n jassie vir jou melkbekertjie,
'n wit en bloue ... wat dink jy? Dit sal help vir abundance ..."
Michelle van Zyl
Frangipani in my hare
Vandag bind ek myself aan hom.
Met 'n ring, tot die dood ons skei.
Sit 'n frangipani in my hare,
dis soos my ma dit wou hê.
Stilletjies gaan sit ek by haar graf
drapeer op granietblad
varkore, aronskelke en
'n stringetjie ivy, net vir geluk.
Saggies hoor ek op die wind
weer die klanke van Demis Roussos
ruik die geur van haar gemmerkoekies
van uit die groot kombuis.
En vir 'n rukkie luister ek na die woorde
op die wind van, "Forever and ever"
Dan saggies, half fluisterend, vertel ek haar
van die koek en die drama met die rok
en lag so bietjie, want sy sou dit so geniet.
Ek weet sy sal daar wees, het alreeds 'n skelm
plekkie vir haar aan die bruidstafel gaan dek.
Al is dit net 'n bord wat ek en sy sou kon sien.
Later stap ek in die kerk af,
die simfonie speel die alombekende klanke
en vir net een oomblik, sien ek haar
langs hom staan, by die kandelaar
glimlaggend, tevrede.
Ek het geweet sy sou kom,
al weet ek dis net ek wat haar kan sien.
En ek draai my kop effens
sodat sy die frangipani kan sien.
Michelle van Zyl
Kiekie
Oppad huis toe tel ek vir jou
'n kiewiet kuiken op.
Bring hom saam sodat ons hom
hans groot kan maak, soos ons eie.
Ek doop sy naam, Kiekie;
Want, Kiekie lyk so bietjie "cheeky"
nes jy.
Druk hom in my hemp se sak
sodat hy warm kan bly.
Gaan koop vir hom Pronutro en
Kiekie ry saam in die Checkers-trollie.
Spykerbeentjies en donsveertjies.
'n Regte rammetjie-uitnek,
hardloop hy oral rond
bestudeer almal en alles
en skree kliphard.
Ek gaan "Google" vir jou
alles oor hierdie voëlspesie -
Venellus Coronatus
Crowned Plover
Die Kiewiet
Vang miertjies op die voorstoep.
Jy gaan hom moet leer pik
want, nou is jy sy mamma.
Volgende oggend vroeg, albei van julle
nog snoesig toegedraai in jul bed.
Bind ek 'n rooi strikkie om sy nek.
Saggies klop ek aan jou deur
met 'n bottel vol swart miertjies
'n bakkie Pronutro en 'n kiewietkuiken
in 'n mandjie en sê ...
"Pappa het vir jou ietsie gebring:
Sy naam is Kiekie, want hy lyk so bietjie
cheeky, nes jy."
Michelle van Zyl
As jy my net kon raaksien
Jy sou weet as jy my net kon raak sien dat,
stil oomblikke soos dié
ryg ek in soos krale
hang dit in die venster
sodat die son die kleure vang.
My hart is 'n hawelose skuiling
lankal al verkwansel op 'n veiling.
Is ek ...
meer as my pyn,
meer as my stories,
meer as my trane,
meer as wat jy dink.
As jy my net kon raaksien
sou ek vir jou sê ...
Ek wag vir jou.
Wag, op 'n sein,
wag, dat jy my roep
wag, sodat ek
jou kan kom haal.
Ek breek myself in 'n duisend dele.
Gee aan elkeen 'n paar ore
sodat hul jou moet kan hoor.
Tot op die hoogste desibel,
tot die kranse antwoord gee.
Roep net en ek sal kom.
Sonder huiwer of weerstand
jou wegneem tot verby die maan
se silwerkant want, sonder jou
verklaar ek my siel,
'n oorloggeteisterde gebied.
Kyk ek af na my hande, dié
wat smag om aan jou te raak
vir net 'n moment jou teen my
te kan vashou een te word in
'n tydstip van absolute heerlikheid.
Al weet ek, dis net idealistiese wense wat wapper,
soos lakens in die wind.
Sal jy my asseblief tog raaksien ...
Michelle van Zyl
Stroom-op
Ek wens ek het geweet
hoe ek myself kan verander
na dit wat jy wil hê ek moet wees.
So hier is 'n gedig vir jou ...
Net vir jou, sodat
jy om hemelsnaam
net kan ophou.
Want niemand kan mos 'n vinger wys en jou blameer nie.
So kom ek sê jou wat.
Vir diegene wat my
amusant vind.
Slaan maar my liggaam, totdat
ek wegkwyn tot in die sand.
Deur grond en rots
deursyfer tot op
jou watertafel.
Omring my met water sodat ek kan
transformeer, jou aanhou bly fassineer,
my hande in webbe laat ontwikkel, my vel skubbe, stadig moet vis raak,
nes jy dit wou hê.
Sodat ek die lewe
Stroom-af kan swem
en net een slag rustig kan raak
"go with the flow"
want kompleksiteit is mos
my middelnaam.
My arms, al stomp baklei teen jou aanslag
probeer ek die hemelruim aanraak om
my sterreteken te verander en te plaas
in die konstelasie van die vis.
Maar jou sterre bly onreikbaar ver
en ek word bewus ek is wel,
"Compus mentos"
by my volle positiewe verstand.
Dat niemand 'n vinger sou wys en jou blameer nie.
My hart, die een wat jy heel uitruk
met pypies en kamers in jou hand hou,
my woorde die wat eindeloos weergalm
in die leë gange van dit wat eers was.
Jy, jy wat alles so maklik verdraai
sodat dit jou kan pas en jouself
vir die hoeveelste maal verraai
Vir jou wil ek sê ...
Ek is 'n mens en nie
'n blerrie vis,
en ek is net afgepis.
Michelle van Zyl
Huis van herinnering
Die dag se weervoorspelling
net na die nuus met Riaan:
Bewolkte weer, met plek-plek,
donderbuie oor die Hoëveld.
So het my siel ook 'n wolkbreuk laat val.
My leemtes opgevul met al die
trane wat 'n menslike liggaam kan gee.
Die aand raak lank en slaap
bly vanaand weer weg soos,
gister se vergete herinneringe.
'n Rëenroeper skree iewers in die tuin,
buitekant die huis, ons huis, jy weet die een
waarin net ek agter gebly het ...
Onthou jy, nes ek, ons laatnagpraatjies,
ure se gesels en lag oor "niks"
Soos 'n delwer van ouds
het ek jou geproklameer as my eie.
Diamante gaan soek in die
groewe van jou lyf.
Jou lag het ek gehang soos broekie-lace
al om die geute van ons huis.
Ek wat speel met jou hare en skelm
vlegseltjies maak soos die van
'n lipizzaner.
Jou kobalt-blou oë soos dié
van Winsor Newton olieverf.
Plaas ek soos sateliete op
my ewenaar en vra ek net nog eenkeer
stuur vir my jou radiogolwe sodat ek
kan sien wat in jou hart aangaan.
Al is dit dan net vir oulaas ...
Ek wonder, sit en wonder hier op die stoep,
eens ons stoep of die reënroeper vanaand
net so hard by jou, in jou nuwe huis kom skree het.
Michelle van Zyl
Kamma-kind
Kan ek vanaand jou kamma-kind wees
as die vrese van die grootmenswêreld
soos 'n hond aan my deur kom krap.
Kan ek kom wegkruip in
die holte van jou skoot
as ek net nie kans sien om
die fragmente van my gisters
soos skrapnel stuk-stuk
weereens bymekaar te tel.
Kan ek vanaand jou kamma-kind wees
as ek so alleen is dat enigste ding wat
my stiltes breek die kriek onder my yskas is.
Kan ek by jou kom inkruip en lepel lê as die
onrustigheid van my vooruitsig vir môre
kerm soos die eggo van 'n kiewiet wat hees
in die na-nag skreeu en my are kom droogsuip
en al wat ek kan doen is net bang wees.
Kan ek maar vanaand jou kamma-kind wees
al is dit net vir 'n kamma-kamma rukkie
Michelle van Zyl
|