|
Gedigte kan HIER gestuur word.
Digters AnoniemForum vir die bespreking en beoordeling van gedigte in hierdie afdeling.
Digters Anoniem ...
John
Dis eenvoudig
Die wens wat ek bêre
Amper so sag soos
´n mens sal staar
na die horison vêr
wat teer die son laat sak
en glorieryk die wolke hemels
toor,
amper soos die druppels
van reën wat sagkuns teen
die ruite afloop...
soos die see
wat speels die strand lek,
amper soos die sterre wat kraakvars
borrel
of soos die maan wat gloei
en glimlag
ag, net ´n wens dat ek jou saggies
in my arms kan toevou en rustig langs
jou kan slaap.
- Ida
Preservatives added
Gekerrie is die lewe
Gepeukel en gekrui
En wonderlik die wete
Daar is ´n rak ook vir my
Gemeubel is die strate
Van ons bewustheid ek en jy
En vredeloos die aarde
Waarop ons almal bly
Versier is die mure
Van die boks waarin ons woon
En wonderbaar die sterrehemel
Wat ons nie verloën
'Preserved' en suikervry is die
trappe van ons siele
soos motors in die maanlig en
fietse sonder wiele
Gekerrie en gekreukel
Verkrummel en versier
Ons nagemaak-natuurlike lewe hier.
- Ida
´n Held
Dae se praat en luister sit ek om en gesels
Oor die nuwe held wat geruisloos sy stil verskyning
In die donker gange van my leë huis gemaak het
Wat sonder woorde vir my liedjies skryf
En sonder note vir my musiek toor
Wat sonder wolke seen op my laat neerreën
En sonder reënboogbeloftes my vashou
Wat met toe oë my soen
Wat vir my sterre in sy oë laat skyn
Wat my siel laat sing tot eer van God
En my laat vashou en glo aan sy liefde.
- Ida
Diamante en ´n wolkombers
Swart is die dag, soos mirre, soos nag
Vir die sterre blink en vol lag
Pers is die kleur van ´n dromer se tuin
Vol diamantgruis
En wit die wolke
Soos pereltrane vir die kroon
Wit is die kleur van verwagting
soos deure
Vir die hemel
- Ida
Marthie
Soos Kaapse berge na lentereën
´n stil skoonheid,
wat onbeskaamd, uitbarstig borrel.
Soos die helder vuurvlamme
van herfs se hert, ´n warmte,
wat jou nader trek.
Soos die wintersterrehemel,
´n eenvoudige bekoring,
wat bly skitter.
Soos somersonsondergange,
´n teenwoordigheid
wat menselewens raak.
- Ida
Huis Kestell
Soos donker doodse stilte,
Vasgemessel vry.
In donker kamers gekluister,
Aan leerwerk gewy.
In koue gange se koue mure
Agter geslote deure tik die ure
Sekondeliks verby.
Na ´n ooblik van wegbreek
Loskom
Vrywees.
- Ida
Ek en jy
So lek ek die sout van jou trane...
Soos jy die sout van my wonde.
En jou seer is vir my
Niks
My pyn, is nie joune nie.
Maar ons twee is saam...
opgebondel in hierdie hoekie
Eensaam,
Klein,
Koud.
- Ida
|