|
Gedigte kan HIER gestuur word.
Digters AnoniemForum vir die bespreking en beoordeling van gedigte in hierdie afdeling.
Digters Anoniem ...
Vergeefse Liefde
In my hart is daar 'n plek,
met geen vensters en geen deur.
Daarin word 'n liefde gebêre
so broos soos die fynste glas.
Soms, net soms bring ek dit na vore
en vryf dit blink soos 'n spieël.
Maar dan, wanneer ek daarin probeer kyk,
wasem dit op en sien ek niks van die mooi wat was.
Sien ek net die seer van 'n gebroke hart
en trane op 'n dowwe glas.
Susan Bents
2004
Sonder woorde
Daar's soms meer in 'n kyk,
as wat ons in woorde wil laat blyk.
Soms sonder om 'n woord te sê,
word ons diepste gevoelens blootgelê.
Partykeer kos dit net 'n vlietende blik,
om die woorde in my keel vas te druk.
Dan word ek met stomheid geslaan
en ek weet jy sou sukkel om te verstaan,
as ek vir jou sou sê
die vrees wat dan in my binneste kom lê,
want dit wat ongesê bly
maak seerder as wat 'n mes kan sny.
Susan Bents
2006
Probeer
Ek breek nog soms deur die tralies van my hart
dan wil ek jou liefhê en teen my vasdruk.
Ek wil jou in my arms toevou
en so die spoke van ons weghou.
Ander dae verloor ek perspektief
dan word ek negatief,
dis dan wanneer ek nie kan sien
hoekom jy of ek God se liefde verdien.
Soos seisoene droogte en reën bring,
so bring jy ook droogte en reën in my lewe.
Soms verdor ek as jou liefde skaars en min raak
ader kere verdrink ek daarin.
Daar is tye wat ek verdwaal
en onsekerheid my hart koud laat,
maar dan as ek voel dat ek verkluim,
bid ek vir jou en vir my.
En as ek in die oggend
die wonderwerk van nog 'n nuwe dag aanskou,
dan weet ek,
daar is altyd warmte in my liefde vir jou.
Die deur van my hart word nooit gesluit
al word dit met tye toegemaak,
daar kom altyd weer 'n tyd
wat ek toelaat dat jou liefde my weer aanraak.
Susan Bents
2003
Somerkoue
Die son skyn daar buite
tog lê daar 'n koue in my lyf,
'n seer te groot vir woorde om te beskryf.
Skerwe van beloftes gemaak, vergeefs,
harte gebreek deur verwaandheid van gees.
Liefde en trou, ydele woorde gespreek sonder
gedagte aan die verborge betekenis wat dit mag inhou.
Ure se wroeging deur die nag,
trane gestort in die donker.
Wat bly oor om voor te lewe,
as dit wat jy so graag wou glo
vertrap word deur geliefdes,
beloftes gemaak word, net om dit te verbreek?
Geen taal kan beskryf, die koue in jou lyf
wanneer jy moet aanvaar
niks is vir ewig en "liefde" net ydele woorde gespreek
om die weg te baan vir dade wat jou hart laat breek.
En niemand gee om
as hulle spore van hartseer los,
wat jou gekneus en aleen deur die lewe laat gaan
Susan Bents
|