AFDELINGS
Boeke
Dagboek
Diere
Flieks
Forums
Foto's
Gedigte
Gesondheid
Grappe
Kook
Motor
Musiek
sêgoed
Seks
Teater
Trivia
Tuin
Verhale
Webcams
Wenke
DIENSTE
Advertensies
Eensames
Woordeboek
|
Dagboek Kunstefeeste Musiekdagboek Teaterdagboek Radio SkoonveldMallies le Roux se nuwe CD, Radio Skoonveld, het die gees, geskiedenis en hedendaagse samesyn van Suid-Afrika deeglik vasgevang. Die liedjies, wat almal deur Mallies geskryf is, se temas sluit onder meer in "Daai's my kwela vir Mandela", "Tolla se song", "Paarl", "die Gangster" en "Auckland Blues". Laasgenoemde gaan oor Suid-Afrikaners wat die land verlaat het en nou in Nieu-Seeland woon, maar elke dag hul geboorteland mis. Die Mbekweni Youth Restoration Choir jeugkoor van die Paarl het saam met Mallies die opname gemaak en musiekkenners meen dit gaan plaaslik en oorsee 'n groot impak op emosies hê. "Ek het die liedjie al vir verskeie mense gespeel wat nou oorsee lewe en in meer as een of twee gevalle het die trane geloop. Wanneer mens daarna luister voel jy sommer goed oor die feit dat jy nooit van plan was om jou land en sy mense te verlaat nie," sê Mallies. "Daai's my kwela vir Mandela" is opgedra aan ex-president Nelson Mandela. Dit vereer hierdie ikoon se groot rol in die reënboognasie op 'n vrolike en sentimenteel musikale manier wat wêreldwyd mense se ore sal streel. Maar dit is nie waar Mallies se lofliedere eindig nie. Hy het "Tolla se song" geskryf kort nadat die geliefde komediant van Namakwaland, Tolla van der Merwe, 'n paar jaar gelede in 'n motorongeluk oorlede is. Mallies was gek oor Tolla. "Tolla van der Merwe was een van die intelligentste en spitsvondigste mense wat ek nog ontmoet het. Die tye wat ons saam deurgebring het by verskeie optredes sal ek nooit vergeet nie," sê Mallies. Mallies is 'n Paarliet wat al etlike jare betrokke is in die wynbedryf en bestuur sy eie menslike hulpbronne besigheid. Hy het ook 'n liedjie oor die Paarl se ontstaan in die koloniejare en die dorp se rol in die geskiedenis van Afrikaans geskryf. Mallies se Radio Skoonveld CD word op 14 Oktober by die Paarl Rugbyklub tydens 'n musiekoptrede vrygestel. Kaartjies is te koop teen R75 per persoon en sluit 'n ete in. Belangstellendes kan met Zinna le Roux in verbinding tree by 083 243 3405, ook vir die koop van die cd. Dit is sy derde CD, terwyl een van sy liedjies ook deel vorm van die CD Alternatief op sy beste, 'n versameling van liedjies deur Afrikaanse liedjieskrywers en musikante soos Johannes Kerkorrel, David Kramer en Anton Goosen. Daar is al verskeie kere in koerante en tydskrifte na Mallies verwys as die Afrikaanse Bob Dylan, veral weens die stories en sosiale kommentaar in sy liedjies. Hy het geen formele musiekopleiding nie, maar kan vier instrumente speel, naamlik kitaar, klavier, bekfluitjie en dromme. "Musiek is vandag vir my net 'n groot plesier en omdat ek 'n vrees het vir vlieg ('n tema van een van die liedjies op Radio Skoonveld) tree ek nie baie op nie. Indien mens dit nou en dan doen en nie as daaglikse werk nie, verskaf dit genot," sê Mallies. Mallies se sin vir humor sal altyd prominent wees. Radio Skoonveld is opgedra aan almal wie se motorradio's al gesteel is en dit is die laaste liedjie op die CD, maar moenie te hard luister nie. |
Musiek |