Webwerf bepalings en voorwaardes
roekeloosroekeloos.co.za
Web www.roekeloos.co.za

AFDELINGS
Boeke
Dagboek
Diere
Flieks
Forums
Foto's
Gedigte
Gesondheid
Grappe
Kook
Motor
Musiek
sêgoed
Seks
Teater
Trivia
Tuin
Verhale
Webcams
Wenke

DIENSTE
Advertensies
Eensames
Woordeboek

TEKEN IN
op Roekeloos se
gratis weeklikse
nuusbrief!

Roekeloos
vir jou
Google Toolbar

Musiek

Dagboek Kunstefeeste Musiekdagboek Teaterdagboek

Koop/Buy Woorde op 'n Wynboks...

Woorde op 'n Wynboks

Woorde op 'n Wynboks

Toast Coetzer

Soos baie ander musikante van vandag, word Abel Kraamsaal ook geborg deur 'n kommersiële entiteit, as dit die regte beskrywing is. Abel word - die logo is duidelik aangebring op sy CD en ook op sy kitaar - geborg deur Cruciale, so mens verwag onmiddelik dat hiermee gepaard sal gaan alles van stang-in-die-bek seks aangevuur deur goedkoop tequila tot moontlik amateur-vandalisme soos die skending van nasionale gedenkwaardighede, sê maar nou strontoue eikebome, op en af of kruis en dwars deur die lengte en breedte van Dorpstraat, Stellenbosch.

Ten slegste, sou jy 'n vertrapte lewer verwag.

Voeg hierby 'n vinnige kykie na song-titels soos "Kaalgat in die Reën", "Anderkant die Hel" en "Saad van 'n Psigopaat" en jy vind dat jou vuis reeds bal, want hier kom mos nou woede, hier kom punk, onherbergsame uiteringe van 'n ongeskikte tyd uit saam met jou vriende in die vuil waters van die nag se grag (met 'n lekkende boot en vingers wat smelt).

Maar Woorde op 'n Wynboks is eintlik glad nie so erg geskoei op die braakland nie. Op die oppervlak is dit eintlik half mak, want die verwerkings - hoewel besonder kundig en vlytig uitgevoer - is soms baie stereotiep, met veral van die elektriese kitaar wat bietjie gebruik klink. Maar wag, verstaan my reg, die liedjies hier is puik, al is daar net agt.

"Horison", "Rooi Radar" en "Vreemde Strand" is rustig verby, sprekend dalk van Kraamsaal se getroude lewe, of ten minste van die siel van 'n tevrede man. Die songwriting is eenvoudig en spaarsamig - elke woord tel hier, baie soos op Valiant se Maanhare - en Kraamsaal het die vermoë om fyn waarnemings met 'n wye net uit te gooi, want hierdie liedjies laat jou onmiddelik goed voel, al is daar nog geen bloedspatsels op jou t-hemp nie.

Dis egter nie heeltemaal deurlopend so 'n gemoedelik-lokaal geplas-in-die-vlak-water nie. Net soos die skisofreniese omslagontwerp (blaai deur die boekie en word vermaak deur 'n oorvloed fonts van verskillende groottes, wisselende knalle en nugter weet wat, vyftien ontwerpidees halfgebak in een Swiss Army Roll) is daar plesierige dorings in die teks te bespeur. "Kaalgat in die Reën" is op die oog af bloot stout, maar 'n lyn soos "die donderweer onder jou vingernaels" dui op iets veel meer onheilspellend. Net so met "en los my net alleen as ek aan die droppings van society stik" uit "Los My Net Alleen".

Dan's daar die prettige "Saad van 'n Psigopaat": "vee jou gat af in die straat"; "steel jy kakpapier by die werk?"; "veg jy vet of veg jy VIGS?". Ja, dis heel duidelik dat Abel Kraamsaal baie te sê het en hierdie kort album is 'n goeie aanduiding dat ons nog interessante dinge van hom kan verwag. Daar's huidiglik 'n hele groep jong ouens (en vrouens) met kitare en issues op die hart wat die verhoë verdring regoor die land, en Kraamsaal is daar naby die voorpunt rond, Cruciale in die kies, liedjies aan't opmaak.

Hoekom is sy naam dan Kraamsaal? Nugter weet. Marknavorsing bewys dalk dat goed wat met 'n 'k' begin goed verkoop: Kombuis, Kramer, Kerkorrel.

Valiant Kwart, iemand?
Koop/Buy Woorde op 'n Wynboks...



Musiek
A
B
C
D
E
F
G
H
I
J
K
L
M
N
O
P
R
S
T
U
V
W
Z
MUSIEKVIDEOS



  Artikels direk



Subscribe to RSS headline updates from:
Powered by FeedBurner