,
Webwerf bepalings en voorwaardes
roekeloosroekeloos.co.za
Web www.roekeloos.co.za

AFDELINGS
Boeke
Dagboek
Diere
Flieks
Forums
Foto's
Gedigte
Gesondheid
Grappe
Kook
Motor
Musiek
sêgoed
Seks
Teater
Trivia
Tuin
Verhale
Webcams
Wenke

DIENSTE
Advertensies
Eensames
Woordeboek

TEKEN IN
op Roekeloos se
gratis weeklikse
nuusbrief!

Roekeloos
vir jou
Google Toolbar

Musiek

Dagboek Kunstefeeste Musiekdagboek Teaterdagboek

Terug in skubbe

Terug in skubbe - Brixton Moord en Roof OrkesDie CD is al klaar weer 'n halfjaar oud, en eintlik moes hierdie review al lankal geskryf gewees het, maar dit was moeilik. Dis nie 'n album wat jy met drie luisterslae kan verteer nie. Elke song hier is nie net 'n hoofstuk nie, maar 'n kortverhaal op sy eie. En saam maak hulle 'n bundel wat jou jare later steeds plesier gaan verskaf.

Die Brixton Moord en Roof Orkes se debuut album (Spergebied, 2002) staan op 'n manier nou mooier in perspektief. Daai ene was stewig sonder om te wou hoofseun wees - meer soort van bibilioteekprefek. Terug In Skubbe is ook nie hoofseun nie, want vir hoofseun is hy nie soet genoeg nie, maar veel eerder 'n renegade eerstespan rugbykaptein, wat ongekende dinge vir sy dorpie doen soos electric kitaar speel op Sondae-middae, dalk selfs girls van oor die 'kleurgrens' vry oor die saal van sy 250cc (50's? Whatever).

Ja, Terug In Skubbe is 'n meneer. En hy klink ánders as Spergebied. Die mees opvallende verskil is die bykomende stem van baskitaarspeler Brixton Barnard, wat hier 'n handvol van die songs lei - dalk aangevuur deur sy sleutelrol in sy ander band, Trike, se progressie oor die afgelope jaar.

Andries (Roof) se stem het self gegroei, saam met die band se selfvertroue - iets wat my skielik by verlede jaar se Augustus Oppikoppi opgeval het. Die BMRO laat wiel nou, Andries grom en byt nou na die mikrofoon soos 'n bulldog na 'n Barbie-pop met Bovril op. Verby is die dae van skugter sit en folkrock uitdraai. Hierdie CD se klanke is ver meer gevarieerd, die melodieë (die tunes nou, ek meen) varser, daar's harde stukke, sagte stukke. Daar's tyd vir ponder by die bar en dan donder op jou bike.

Gepraat van bikes - Spoed gaan presies hieroor, oor die gebrand van die pad onder jou wiele, die jaagtogte na plekke, nie vir die bestemming nie, maar vir die jáágtog (fok die 'journey' - daar's soms net bloot dinge binne jou wat moet lós). Dis ook nie sommer elke song wat die Katbergpas vereer nie.

Stoute Esmé Eva Kwaad help om van Sussie Se Sweep 'n ware mini-seksriller te maak. Dis duidelik dat die BMRO-manne gevaarlike girls ken. Somewhere on the outer edge of civilization, Sannieshof beckons, maters. Kry julle padkaarte uit.

Getrou aan die BRMO-manier het al die lede 'n sterk hand in dinge. Tromslaner Moord Greeff laat homself ook deeglik geld met sy lirieke, wat met openingsnit Vis (en more or less titelsnit, met Terug In Skubbe wat na DJ Opperman toe verwys) byvoorbeeld sekere dinge onomwonde stel:
"Sit my weer in pels/ ek wil blaf soos 'n hond/ opgewonde raak oor my eie stront/ wie wil nou met vrinne gesels?"
Inderdaad. Alle grappies is op 'n stokkie, fok die gemoedelik-lokale braai. Dis 'n great begin tot die album en 'n kort memorandum dat wat volg nie 'n rondfokkery is nie, maar die ware kolhaas, afgeslag en vel aan't droogword oor die doringdraad.

Tussendeur laat Kapelaan Pat Plank dinge plesierig gons met sy kitaar, wat veral op Kleurvolle Tradisie (wat 'n song!) die olie is wat die hele enjin laat sing - en daar's 'n great moment waar broer Brixton hom voorstel aan die luisteraar en hy dan 'n kort, bondige (hier's genadiglik geen gedraadtrekkery nie) solo'tjie inpas voor Brixton weer verder profeteer in sy mompel-messias stem. Op Stil Ou dreig die Kapelaan weer met Van Halen-oomblikke, die song wat tussen Brixton en Roof se stemme begin vibreer wanneer hulle die chorus strike, die Kapelaan wat hom looi, Moord wat streng toesig hou van agter. Tight, kêrels, tight, die BMRO-garage is oop vir besigheid en hulle werk net op ysterkarre.

Die wat vertroud is met Trike (en as jy nie is nie, maak 'n plan), sal weet dat Brixton (Drikus) Barnard op die oomblik sonder twyfel een van Afrikaans se beste songwriters is. Hy gaan stilweg sy gang, maar hy maak seker dat sy quality control goed is - daar's nie 'n swak Drikus song daarbuite nie (wys hom vir my - ek't R5 en twee maatlose sokkies om mee te part).

Benewens die poëtiese aard van sy lirieke, het hy ook 'n fantastiese droë humorsin wat hier en daar ekstra stronke in die hamermeul gooi. "Ek's eintlik hier vir my toaster," laat weet hy op Kleurvolle Tradisie, "en Morkels se belofte / . / Wat ek breek kan ek terugbring".

Dan's daar nog die storie van Paul van der Zandt ("suiker het deur jou gebrand" - befok!!!), 'n drummer wat sy stokkies opgehang het vir "die babakakblues", waarin Brixton 'n hele wêreld van Joburg bands en klubs aan die luisteraar skets met enkele behendige hale. Beste van sy lot is egter Trane van 'n Terroris, wat al menigte fan by 'n gig laat stilstaan het in sheer awe vir die man se manier van dinge sê: "ek is 'n kakiebos-ellende / . / en by my vakansieoord / . / kan ek jaarliks met 'n braaipak en 'n slaaisak in my eie kak vergaan". Ensovoorts ensovoorts.

Dagboek van 'n Swerwer is hul knik in die rigting van Koos du Plessis, met die musiek geskryf deur sy dogter, Karla. Met dronende orrel en al baai hulle die song in heel nuwe lig, presies hoe 'n cover gedoen moet word as jy daai kant toe lol. Vat nota's minnesangers met kuiwe, vat nota's.

Dan's daar nog Roof Bezuidenhout ook - en ons is al amper uitasem teen hierdie tyd, maar hy bly die man met die langste baard in BMRO. Die lede van BMRO het almal ander dinge ook aan die gang - Roof het laasjaar 'n baie goed-ontvangde solo-album (Insomniak se Droomalmanak) uitgereik, die Kapelaan looi ook in Miss September en Plank saam met broer Brixton. BMRO is dus so half hul gemeenskaplike grond, waar hulle idees en letsels van ander trips kan kom uitstal en meng en oorpaint.

Terug in Skubbe is die resultaat hiervan - dis 'n volwasse stuk werk, vark sonder die vet, 'n perd wat net ken van bloots ry. Vat maar Terapie as voorbeeld - hier staan Roof voor in die linies, die band hier om hom met glimmende pangas en dinge: "my oë kyk weer reguit na die hoofpynpil/ en die stemme in my kop het nou ophou gil". Ek't mos gesê dis rou vleis en sorghumpasta vanaand.

Julle weet waar's die CD-winkel.

(PS. Dis jammer oor die cover, waarvan ek nie so 'n groot fan is nie. Dit lyk asof 'n selekant in modderige water teen 'n vinnig bewegende motorruit vasgeswem het. Die fonts is ook baie onduidelik. Gaan vat tips by die ouens wat Jack Hammer se nuwe een verfraai het.)
Koop / Buy Terug in skubbe....
of
Koop / Buy Terug in skubbe MP3's ... (net een of almal)



Musiek
A
B
C
D
E
F
G
H
I
J
K
L
M
N
O
P
R
S
T
U
V
W
Z
MUSIEKVIDEOS



  Artikels direk



Subscribe to RSS headline updates from:
Powered by FeedBurner