,
AFDELINGS
Boeke
Dagboek
Diere
Flieks
Forums
Foto's
Gedigte
Gesondheid
Grappe
Kook
Motor
Musiek
sêgoed
Seks
Teater
Trivia
Tuin
Verhale
Webcams
Wenke
DIENSTE
Advertensies
Eensames
Woordeboek
|
Dagboek Kunstefeeste Musiekdagboek Teaterdagboek ![]() Die Groter DorsHaydee HollanderChrisman (b)aard tussen Afrikaanses en musiekmakers, joliges en staatmakers. Hy sing onbevange (die jonger aanhangers van die sogenaamde alternatiewe musiek se benaming) en onverskrokke oor die dinge wat hom na aan die hart lê. Lees oor "die dinge" hieronder en maak self jou mind op, of hy hoort tussen die alternatiewes en of hy liewer op sy koppie moet bly sit. Of as jy erns het met musiekmakers, skrywers en kunstenaars en hulle pogings tot entertaining, tjek hom in die toekoms by Lucit in Rietondale of Aardklop van 27 September tot 1 Oktober. Chrisman se kitaar en liedjieboek is sy staf, die Noorde sy berg of koppie vanwaar hy sy verdigsels, skryfsels en musiek aan almal wat ore het, opdis. Roekeloos het hom voorgekeer by die waterput. Lucit Theatre Garden se Gideon van Eeden bedryf al jare die gekombineerde teater en restaurant in Rietondale, Pretoria. Die line-up vir die volgende paar weke lyk so: Eers 'n paar vrae aan die sjef en restaurateur. Gideon, gee jou indrukke van Chrisman as kunstenaar? Gideon: Chrisman se motivering lê in sy passie vir musiek, sy sensitiewe omgang met taal, en volwasse uitkyk op die lewe. Dit maak van hom 'n man met integriteit, eerlikheid en opregtheid. Vertel ons iets van Lucit wat niemand weet nie! Gideon: Ek het verlede jaar R195 000 aan musikante uitbetaal. Hiervan was R24 000 uit my sak aan musikante wie se konserte nie goed bygewoon was nie. Laasgenoemde het my omset só opgestuur dat ek nou in 'n nuwe tax bracket is en noodwendig moet tax betaal daarop. Om die rede nader ek nie meer musikante nie, hulle bied hulleself aan. Jou gunsteling Baard-liedjie? Gideon: Moet bieg ek het nog nie veel na Chris se musiek geluister nie. Chrisman beskryf die keuse van musiek wat hy by Lucit sing as effe Afrika, baie blues, somtyds stout en sexy, tog ook tragies en nostalgies maar deurgaans eerlik en eg eietyds. "en 'n baardman sal onder julle opstaan. chrisman baard, is dit jou stage naam? chrisman: chrisman baard, twee woorde, sônne hoofletters, ja. Daar's klomp redes daarvoor. Een is dieselfde rede wat mense aangee vir seks naamlik dat álmal dit dan doen. Dis maar 'n ding in die alternatiewe Afrikaanse musiekbeweging. Sedert die 1980's al. Antjie Krog het laasjaar by die Van Wyk Louw-gedenklesing by die Randse Afrikaanse Universiteit ook daaroor gepraat, en eersdaags in Rapport dryf ek ôk bietjie die spot daarmee. My geval is een van 'n dubbele lewe. Bedags 'n respektabele lewe, werk tussen en vir baie nice mense. Die meeste van hulle weet nie van my musikale avonture nie en sal nie hou van die goed wat ek sing nie. Maar my respektabele lewe betaal my blyplek en neon-pienk 1976-Beetle en studieskuld en hamburgers en Three Ships. Daar staan mos in die Bybel iets soos 'n mens kan nie van gigs alleen leef nie. My musiek is ook nie so mainstream dat ek dit ooit voltyds sal doen nie. Ek wil ook nie, my ander skryfwerk geniet ek só, ek wil nie een van my lewens toemaak ter wille van 'n ander nie. Om die waarheid te sê, my musiek en my skryfwerk voed mekaar op heel interessante wyses en net die mense heel naby aan my weet 'n ietsie daarvan. Ek's soos 'n kat met meer as een lewe. Dit is ook my motto "una vita non basta". Dié is 'n sêding in Rome óór Rome, wat ekke my eie gemaak het en beteken één lewe is nie genoeg nie. (Dis nie 'n stelling oor reïnkarnasie nie). Slaap dus maar min en prop jou ure vol die lewe is te kort en cool om net een te wil lei. Daar is ook iets eksistensieel in dié lewensfilosofie. Ek het twee keer kanker gehad, en as hy weer kom, sal ek dit waarskynlik nie nog 'n keer máák nie. Behalwe die letsels aan die lyf, laat so 'n ervaring 'n mens anders dink en voel ook. Ek wil nóú lewe. Soos Koos Kombuis in die Afrikaner se volkslied van die 1990's, Almal wil 'n huisie by die see hê, gesing het: "môre is te laat vir my". (Die ding van sônne hoofletters, is sommer maar net omdat name eintlik nie belangrik is nie, soos Shakespeare al gemymer het. Stage names is verder, op 'n manier ook 'n brand, en omdat ek nie hou van die alles-is-geld-mentality van die wêreld waarin ons leef nie, probeer ek maar op dié klein hoofletterlose manier iets daarvan ondermyn.) Hoe cope jy met die kanker? Jy sing nie eintlik daaroor nie? chrisman: Dit was eers 'n piepklein maligna melonoom wat hulle sommer maklik kon uithaal. Toe, 'n jaar later, was die kanker skielik in 'n klier in my nek, wat 'n groot storie was met 'n jaar se chemo daarna ('n duur manier om gewig te verloor, daai!) Daarna was daar weer 'n scare of twee, maar gode sy dank, elke keer niks. Darem nou 'n klomp jaar al skoon, maar altyd no guarantees. Kan ook nie lewensversekering kry nie. Dis nie iets wat in my lirieke uitkom nie maar dit is not by design; lirieke kom mos maar soos hulle kom. Tog, die eksistensiële inslag in my lirieke en lewe het baie met dié twee ervarings te make. Dit is maar hoe die Franse filosowe soos Satre en Camus ook gemaak het: as jy bereid is om die onafwendbare finaliteit van die dood vierkant in die oë te kyk, kan jy op 'n manier daartoe kom om voluit te lewe. Verdoem daartoe om vreugde te vind. Die Christelike geloof het presies dié ding ook in hom ingebou, maar dit lyk nie aldag of Christene daarvolgens lewe nie. Val te maklik vir daai "power of positive thinking"-crap. Hoe oud is jy? chrisman: For ever! As jy chrisman baard in vyf woorde moet opsom? chrisman: Eiewillig, onafhanklik, kreatief, sensueel, krities. As jy chrisman baard in vyf sinne moet opsom? chrisman: Oor eiewillig: ek hou daarvan om my eie gedagtes te dink en - al is dit soms half aspres - op ander uit te try. Oor onafhanklik: ek's nog altyd 'n loner, en doen dinge op my manier wat maar moeilik is in 'n mens se tienerjare, maar as jy eers oor daai krisisfase kom, gee dit jou baie vryheid. Oor kreatief wees: ek wil tog nie my lewe lei soos almal in society s'n nie; ek móét, om sin te maak, dinge anders doen, op mý manier, en musiek is een van die maniere waarop 'n mens jou andersheid kan uitleef. Oor sensueel: waar Afrikaners altyd administrasie en denke hoog ag, het ek mettertyd die otherwise logika van die lyf begin ontdek. Oor krities: 'n mens moet tog nie alles glo wat mense voorskryf nie; om die waarheid te sê, as almal dink iets is reg, moet jy maar wéét iets skort êrens, en dit gee my 'n helse kick om daai onderliggende acceptances bloot te lê en soms te ontmasker. Vertel van Vyfgang chrisman: Die show se naam is Vyfgang. Die chef/eienaar van Lucit sit 'n vyfgang-maaltyd op tafel en ek sing in vyf van die musiekstyle wat ek geniet. Ek noem die style rofweg "effe Afrika", "baie blues", "somtyds stout en sexy", soms ook "tragies en nostalgies", maar altyd "eerlik en eg eietyds". Die goed wat die lewe die moeite werd maak, is goeie kos, goeie geselskap, en goeie musiek. Goeie kos sal daar altyd by Lucit wees; die goeie geselskap moet mense saambring of self voor sorg en die goeie musiek - wel, as jy hou van musiek wat darem iets sê, ook op 'n humoristiese wyse (maar nie daai lawwe-lawaai grapkas-tipe humor nie), dan sal jy waarskynlik hou van my musiek. Waaroor handel jou liedjies (meestal)? chrisman: Goed wat aangaan om en in my, in society, in die politiek, in my denk- en liefdeslewe. Hier en daar kan ek ook soppy raak met 'n plain love song. Maar selfs dán is my love songs anders - meertalig, of meer eroties. En mense weet dit is vir chrisman wat hulle hoor, regtig-egtig, nie 'n bemarkingsfoefie op ritme, soos boy bands en girl bands nie. Moeilik om hulle te kategoriseer want meeste songs pas binne meer as een hokkie, afhangend van watter kant jy kyk. Internet-junkie gaan byvoorbeeld oor die internet-kultuur; Sala kahle Afrika oor wat die mynwese aan swart gesinne gedoen het en Te/regstellende aksie oor wat rasse-politiek tans aan whities in Suid-Afrika doen. Al drie songs lees ou issues op nuwe maniere, hulle is dus sosiaal-gerig en maak die powers-that-be bietjie boos. Internet-junkie en Te/regstellende aksie het bietjie humor bygemix en Te/regstellende aksie praat ook lelik. My blues songs gaan dikwels oor die sin van die lewe (Die Engeltjie rock, Aandgesang), maar dan moet jy iets weet van godsdiens, Afrikaans-wees, die issues van ons tyd en land om alles te vang. Ander songs gaan oor hoe mense leef soos Mode-gek en Confessions van 'n hyper-opinionated bastard waarin ek ons selfbeheptheid probeer uitlig en ligweg mee spot. Ek dink nie ek kan my eie songs kategoriseer nie. Vra Amor of Patricia of Juanita; dalk kan hulle.... Skryf jy jou eie musiek en liriek? chrisman: Ja. Wel, op 'n manier. 'n Mens is mos maar slagoffer van die musiekgenres waarbinne jy werk wat sekere goed aan jou opdring, en ander goed weer lekker moontlik maak. En tensy jy dieselfde wil sê as allie-anner, kan jy ook net woorde maak wat êrens jou binneste ingedring en daardeur gemaal het. Ek lees baie wyd, en diep (dit wil sê, fyn - ek háát die vluglees-kultuur - en wéér-en-wéér, en krities), en praat intens met pêlle wat beteken 'n klomp idees en woorde en woordspelinge en stuff word deel van my binnegoed. As 'n song by my "aankom" (dis maar hoe dit voel: meestal gebéúr 'n song sommer skielik met my), dan trek dit voordeel uit al hierdie raamwerke. Ek het dus honderde sulke invisible friends wat onbewus saamwerk aan my musiek. Maar as jy bedoel: skryf ek die woorde en iemand anders die note, of waisa wersa: nee. Ek doen al's self. (En waar ek dié "waisa wersa"-spelling gesteel het, weet ek nie meer nie. Snoek? Kombuis? Toast?) Maak jy jou nie skuldig aan rymdwang nie, dis tog verlede tyd, taboe? Johnny en Jack's nie van dieselfde plek Johnny kan sy baadjie deur die jare verkleur Johnny, soos die setlaars, is uit 1820 750 mils kan jy lekker skink chrisman: Natuurlik is dit rymdwang, ja. Maar dis nie ék wat die rym dwing tot sy werk nie. Dit is die rym wat haarself op my kom afforseer. Daai hele song het in 'n paar minute op my ge-dawn, van A tot Z. Toe die eerste blues-note daardie Saterdagmiddag val en die idee van 'n whisky-song by my opkom, toe borrel die woorde van êrens uit. Darem hier en daar met 'n bietjie hulp van die labels op die bottels Johnny en Jack wat voor my op die tafel gestaan het. Maar ek gaan soek nie woorde wat rym, en probeer dan sinnetjies maak dat hulle inpas by mekaar nie. Die skryf is te vinnig en die rush te groot vir my om die woorde so te manipuleer. Shop Shop Shop het lekker skop. Daag jy die establishment uit? Wie is die establishment? chrisman: Dis eintlik 'n ligte song, daai. En ja, dit spot met ons hele kultuur wat net wil koop, en alles meet in Rande. Die establishment is mos óns: die wat meedoen aan alles en wonder wat fout is met dié wat wat ookal nie saamdoen nie. (Die "watookal" kan jy vervang met stuff soos "4WD's ry", "rakbie kyk", "G-stings dra", "shooters down", "tan by Plet".) Ons is almal 'n klomp boggers: ons dink almal moet maak soos ons maak, anders is jy weird. Terwyl dit die weird mense is wat ons help. Vandaar byvoorbeeld dat skilders sulke randfigure is terwyl hulle leef. Later as hulle tyd verby is, kom die res eers by, en dán eers word hulle waardeer. (Met uitsonderings, alkante toe, natuurlik.) Die tema van Shop, shop, shop het hom weer 'n keer aan my kom opdring 'n paar maande gelede met die song Alles is te koop, want in 'n minder populêre styl is, maar baie meer intens. In Mode-gek 'n paar weke gelede weer, maar in blues, meer humoristies, en direk op vrouens gemik. Ek like geld niks. Ek sou 'n goeie Kommunis gemaak het, behalwe dat die Kommies ôk maar 'n dom establishment was, wat gedink het almal moet soos hulle dink, anders maak hulle jou vrek. Ek was verlede jaar in 'n tronk (as besoeker) in Vilnius, waar eers die Nazi's en toe die Kommies die locals getorture en vermoor het, oor hulle anders durf dink het. Ek het so 'n wrok in my voel opkom, oor wat mense aan mense wat anders dink, doen. Net daar het 'n song in my kop gespring, maar ek kan dit nie op my akoestiese kitaar speel nie - ek het big noise nodig om súlke emosie uit te druk, Fokofpolisiekar-style noise. En Suid-Afrikaners van vandag gaan ook nie van die lirieke hou nie, byvoorbeeld: Jy sê jy hoort tot die 'alternatiewe Afrikaanse beweging'. Wat behels dit om alternatief te wees, is dit nie 'n modewoord nie? En is jy anti-Jurie, anti-stroop en anti-Min? chrisman: Dis al daai anti's wat jy noem, en nog 'n paar meer ook! Maar eintlik werk die woord alternatief nie meer lekker nie. Baie van dié tipe musiek is nou plain mainstream rock, wat toevallig in Afrikaans gesing word. Ek dink die wortels van dié uitdrukking was polities, téén die regering van die 1980's. Maar ook: ánders as "Carika en Sonja, Juanita en Rina" ('n reël uit Confessions van 'n hyper-opinionated bastard). Luister-liedjies is dit ook nie juis nie, hoewel soms tóg nog. Labels is maar labels: hulle maak vinnig-praat moontlik. Maar jy moet hulle nie te ernstig opneem nie. Seriously. Is jou musiek op CD of op tape of iets? chrisman: Ek het verlede jaar 'n demo gemaak, maar die kwaliteit was so swak ek het maar die ding weggeneuk. Wat CD's betref, vat ek nou die slow and thorough road. Ek soek vir my 'n kwaliteit CD-maatskappy, een wat bereid is om die nodige geld (wat ék nie het nie) in te stoot in die opnames en bemarking en musiekvideo's. Ek weet hulle gaan dan meer geld uit die deal uit maak as ek (een van die redes hoekom mense hulle eie CD's produseer), maar dis oraait - dis deel van die game. Ek het genoeg materiaal vir drie albums en as 'n enterprising maatskappy my Engelse songs nog saam op 'n ander CD sit en oorsee bemark, kan dit net lekker wees. Ek wag dus half zen-like op 'n saamvloei van my musiek en 'n goeie CD-maatskappy wat daarmee gel. Waar tree jy nog op (buiten Lucit)? Gigs en datums? chrisman: Die meeste van my shows is in en om Pretoria. Tukkies se kampus moes my tot dusver die meeste verduur. Ander vaste planne is Potchefstroom met Aardklop-tyd, en net voor dit - op 21 September - 'n show in daardie bakermat van die Afrikanerdom, Pietermaritzburg. Einde Januarie volgende jaar, minstens een gig weer in Stellenbosch, en dalk een in Kaapstad. Tussenin lê nog 'n hele boel possiblies en probabilities. Mense moet maar die plaaslike koerante dophou, en op my website kondig ek ook altyd my nuutste gig aan. Meestal kom 'n gig as 'n dynserige skim, wat óf onbepaald uitgestel word, óf baie skielik vervroeg word tot "kan jy oor twee ure hier wees?" Sing jy covers? chrisman: Nee. Nooit nie. By een solo show, Cool Runnings in Centurion, het ek nog nie my mond oopgemaak nie, toe skree 'n jafel hier reg voor, "Sing Meisie-meisie!". Dis vernietigend, dié ge-aandring dat jy ander mense se goed moet sing. Sangers wat net covers sing maak makliker geld maak dis wragtig g'n lewe om dit te doen nie. Ook die lot wat aanhou Sarie Marais en Jan Pierewiet dat dit by jou ore uitloop. En die organisasies wat kunstenaars dié kinderliedjies uit volle bors met smiles by award ceremonies maak sing, en op backtracks-maat daarop laat foxtrot. Ek kan nie verstaan dat mense hulle daarmee ophou nie. Die een goeie ding wat dalk daaruit voortspruit is dat dit 'n groot genoeg critical mass aanhangers van Afrikaanse musiek losmaak en dat daar iewers 'n gaatjie is vir mense wat oorspronklik is. Maar aan die ander kant weer, om Sarie Marais en Jan Pierewiet oor en oor te mass market doen die volk ôk g'n guns nie. As dieselfde moeite met oorspronklike en vernuwende musiek gedoen word, sal daar groter hoop wees vir 'n Afrikaanse musiekkultuur wat met leaps and bounds groei. Is dit hoekom jy en die groep Pretoria uitmekaar is? chrisman: Dit was een van die redes. Die res van band Pretoria het covers gedoen, maar ek kon net nie. Daar is 'n paar ander redes ook, maar sulke post mortems oor klein bands is nutteloos. Ek hou van post mortems (oor bands ens). Dissektasie is my tweede naam. Hoekom is julle uiteen? chrisman: Die kort version loop so: daar was creative differences (dis nou 'n cliché daai!), naamlik oor die covers-ding. Maar ons sou dit kon oorbrug. Punt is binne een week waai die baskitaarspeler, want hy voel hom te oud of iets vir die res van ons, en 'n liedjieskrywer/ sanger/keyboard speler waai ôk, want sy girl sê hom af en hy gaan Kaap toe (of dis die version wat ek gekry het.) As twee mense so skielik waai, is dit maar net die einde van 'n band. Was 'n sleg tyd gewees vir dit om te gebeur: einde November en ons het 'n hele paar gigs opge-line gehad. Desember is juis die groot geldmaaktyd vir bands, en ons het baie uitgawes gehad. Wat ook sad was, is dat die band regtig baie potensiaal had: vier songwriters in die groep met heel verskillende style aanvullend tot mekaar. Ons heel eerste oudisie, by die Lighthouse op die Oosrand, het so goed afgegaan dit het sommer 'n gig geword waarvoor ons betaal is. Maar nou ja, Pretoria is verby. Ek het vrek baie geleer uit die ervaring. Soos dat ek nie sommer weer voltyds in 'n band wil speel nie. Soms het ek behoefte aan back-up vocalists. Ek het twee doo-wah-girls gehad twee jaar gelede, en dit was baie nice. Hulle kon my songs anders én beter laat klink. As ek 'n vroulike back-up vocalist kan kry om van tyd tot tyd saam met my op te tree (nie te jonk, goeie stage presence en een wat kan mondfluitjie speel), sal dit lekker wees man maar nou's ek eers 'n one man show. Besit jy een van die volgende en hoekom (of nie): instrumente, TV, video of dvd-speler, gekombineerde TV/dvd, surround-sound system, I-pod, lisensies van een of ander aard? chrisman: Twee kitare en 'n vrot mondfluitjie uit die dae toe ek beginne musiekmaak het. Een televisiestel, een VCR vir laataand stoof op die rusbank. Kan DVD op my laptop kyk, maar het nog nooit. Te arm vir surround-sound; min nut vir I-pod. Het 'n TV-licence maar onder protes want ek dink dis 'n obvious kroekspul dat jy één stasie befonds en die res moet subsidieloos opsnork. Die telekommunikasiebedryf in Suid-Afrika is swak, en werk téén die mense wat dit juis moet bedien. Het jy buurtwag? chrisman: Nee wel armed response en die polisie hier by ons rond is nogal effektief. Het hulle nodig gehad die afgelope paar maande: vier pogings tot inbraak net in die eerste helfte van hierdie jaar. Wat is die verband tussen jou en equadoor? chrisman: Equadoor is die plek wat my website ontwerp en voed. Piepklein, maar juis daarom uiters nice. Rudi, die baas van dié plaas, is 'n towenaar met web-bemarking. Ek freelance (skryf) ook soms vir hulle. Hulle't nou 'n paar goeie breaks gekry, om vir musiek-shows op televisie die webdienste te verskaf. Watter tydskrifte en koerante lees jy? Onlangs 'n interessante boek gelees, plays gesien? Lees jy Afrikaanse boeke? chrisman: Op die web, Beeld, die New York Times en 'n paar spesialis-nuusdienste. Op papier, Rapport, Die Wêreld, die Sunday Times, en my gunsteling: die Mail & Guardian. Was 'n gereelde Time-leser, maar die verskriklike Amerikaansheid van selfs die international edition het my begin onderkry. Dus Time is not on my side anymore. Dan, as iets my oog vang in 'n boekwinkel of 'n bibioteek sal ek dit ook optel, van Finansies & Tegniek en Sarie tot die Rolling Stone magazine tot Garden and Home enso-blah-blah-voorts. Ek is amper klaar met Edward Lucie-Smith se Sexuality in Western art. Die interessantste gedeelte was oor die orgiekamer in Pompei, gedateer 2 500 jaar gelde. Dáái boys en girls het gewéét van vry. Net voor dit 'n boek gelees oor Lautrec, die Franse skilder. Het in die week die video daarvan gesien maar dit veronderstel te veel vooraf-kennis. Nou sal ek eers na 'n Lautrec-biografie moet gaan soek. Ek lees graag Afrikaans, ja. Akademiese goed, letterkunde, en bietjie poësie ook. Ek het via 'n lang ompad afgekom op HS van Blerk se 1950-boek, Los donkies, en op die Alba Bouwer-vertaling Die Wit Buffel (1962). Hel, dis nice om daai goed te lees. Ek lees darem ook nuwe Afrikaanse goed, soos Kleinboer en Snoek en so aan. Net nie Solly Ozrovech, al sing ek oor hom in Pretoria Metrosexual. Plays sien ek soms. Die persoon van wie ek die meeste goed gesien het, is Abrie le Roux wat drama doseer by Tukkies. Ek geniet sy shows baie. Jy skryf soms vir Rapport? chrisman: Ek skryf vir Rapport oor musiek-issues. Dis maar my idees waarmee ek loop en smous in die hoop dat ek ons kultuur 'n bietjie verryk. In my ander lewe skryf ek omtrent voltyds, oor 'n hele klompie goed wat my boei, maar help my nou man, dat ek die twee lewens uitmekaar kan hou! Jy roem op jou uitgesprokenheid. Is dit net op die verhoog of gaan jy braaf wees en die volgende vrae antwood: - die mees sotlikste lied in Afrikaans? chrisman: Gee haar 'n roos. (in Confessions van 'n hyper-opinionated bastard het ek dit lekker verkrag tot Gee haar 'n kroos). Rede - te soetsappige song, te stroperig gedoen. - die tweede mees sotlikste lied in Afrikaans? chrisman: Sproeitjies, selfde rede. - die derde sotlikste lied in Afrikaans? chrisman: Kom ek maak dit sommer 'n genre-ding: enige musiek van enige groep van vier seuntjies of vyf dogtertjies wat in 'n ateljee gefabriseer word, en dan dink die producers ons moet ons benat van lekkerky oor die deuntjies wat hulle kreuntjies. In Suid-Afrika is daar elke jaar of drie so 'n groep, so lank as wat ek maar kan onthou. Ek is seker die studios het 'n standaard-besigheidsplan met die goed wat hulle sedert 19-toet nog nie hersien het nie. Die musiek wat daaruit voorkom, is sonder uitsondering kotsenswaardig. Mense moet net weier om sulke musiek te koop, cute boudjies en uitgebreide televisie-reklame ten spyt. - 'n goeie Afrikaanse song waarvan jy hou? chrisman: Ddisselblom se Nikotien en kafeïen. Moerse intro! Oorspronklike lirieke. Lekker melodie. (Die eerste keer toe ek dit hoor, was ek twee dae lank hartseer want ek was ook besig om in my kop te speel met die idee van nikotien en liefde. Hulle was net eerste, en eerste met vernuwing is nege uit tien kere beter). - 'n goeie Afrikaanse band (nie een met 'n orkes op shuffle nie)? chrisman: Tel Karen Zoid? - want sy en haar band is sinoniem, en hulle is regtig uitstekend. Maar as dit nie tel nie en ek Ddisselblom nie weer mag noem nie, dan het ek tyd vir Klopjag, en Brixton Moord en Roof. Maar nou's ek lankal verby een. Woon jy ander musikante se shows by? Wie het jy onlangs gesien of beleef? chrisman: Ja nie baie nie, maar darem. Jan Blohm is die ou wat ek mees onlangs gesien het. Hy is briljant, liries en musikaal en tegnies, en hy is so intense. Ek is genuine bekommerd daai ou gaan uitbrand of iets, en dit sal baie sad wees. Jy's 'n internet junkie. Wat dink jy van kunstedekking in die media (veral op internet) Is dit genoegsaam? chrisman: Ek werk baie met die internet omdat my ander lewe dit professioneel vereis. Die internet is ook 'n lekker nuwe massamedium om oor na te dink. Kan jy glo, toe koerante in Europa begin gewild raak, het die Deense filosoof Kierkegørd geskryf dat dit 'n virtuele werklikheid skep. Dit was nie presies sy woorde nie, maar blêddie naby. Daarom dat ek ook in 'n paar van my songs die www aanraak. Oor kunstedekking in die media? Mike van Graan skryf uitstekend oor die kunste in die Mail & Guardian; Barry Ronge ook, as hy die onderwerp aanraak. Die boeke-rubrieke in die Afrikaanse pers vind ek ook goed; sommige film-resensente ook. En as Barfly van samusic.co.za krities raak, is dit baie nice. Waarskynlik is daar 'n hele boel goed in die elektroniese media waarvan ek nie weet nie. 'n Mens moet darem so vier of vyf ure 'n nag slaap ook. CD-reviews in die pers wissel baie in kwaliteit. Dit sou nice wees as Afrikaanse musiekmakers mekaar krities kan beoordeel, en mense dit as kunstenaars kan vát dat hulle geëvalueer word. Natuurlik gebeur dit informeel, maar nêrens juis in die openbaar, volgehoue en volwasse nie. Letterkundiges doen dié analise-ding op allerhande grênd maniere. Ek gebruik my Rapport-artikels om soms my opinie te gee (byvoorbeeld dat 'n Koos Kombuis / Jurie Els duet vir my net so ondenkbaar is soos 'n Jurie Ferreira / Johannes Kerkorrel corporate gig), maar ek is so 'n randfiguur in die musiek-industrie, niemand hoef my ernstig op te neem nie. Wat wil jy bereik met jou musiek? chrisman: Ek het nie 'n vyfjaarplan of iets so Stalinisties nie. Ek skryf musiek en tree op omdat dit vir my verskrrriklik lekker is. Dit gee my plain-weg 'n kick. Ek sal bly wees as ek mettertyd 'n paar CD's die lig kan laat sien, iets tasbaars en blywends. Dit sal baie nice wees as ek 'n gereelde gig by 'n plekkie hier iewers in Pretoria kan kry, om sê maar, elke Vrydagaand op te tree, en dan by 'n kunstefees of so. 'n Mens ontmoet sulke interessante mense op dié manier. Maar al bereik ek niks van daai goed ooit nie, maak dit nog sin om te sing, en hier en daar iemand te laat nadink, of met selfherkenning te laat smile. Die vordering in my eie musiek is ook baie lekker - om agter te kom hoe dit gaandeweg verander, en te beleef hoe nuwe issues skielik in my songs uittap. Dink jy Diana en Kerkorrel se dood is sinister? chrisman: Ek dink alle dood is sinister. Meer sinister as Diana se dood is die kultus wat daar rondom ontwikkel het. Argeoloë van oor 'n duisend jaar gaan Lady Daai se aanhangers verwar met die antieke godin Diana se aanbidders (en dan lyk die twee Diana's nogal na mekaar). Maar as jy bedoel, dink ek Umkhonto we Sizwe sit agter die Prinses van Wallis se dood, en die Mosad agter die Prins van Afrikaanse rock se dood, nee. Besoek roekeloos se Musiekdagboek of kliek op dié URL vir gigs en datums http://www.roekeloos.co.za/ritme/musiekdagboek.html |
Musiek |