Webwerf bepalings en voorwaardes
roekeloosroekeloos.co.za
Web www.roekeloos.co.za

AFDELINGS
Boeke
Dagboek
Diere
Flieks
Forums
Foto's
Gedigte
Gesondheid
Grappe
Kook
Motor
Musiek
sêgoed
Seks
Teater
Trivia
Tuin
Verhale
Webcams
Wenke

DIENSTE
Advertensies
Eensames
Woordeboek

TEKEN IN
op Roekeloos se
gratis weeklikse
nuusbrief!

Roekeloos
vir jou
Google Toolbar

Musiek

Dagboek Kunstefeeste Musiekdagboek Teaterdagboek

Die Karaoke-en-Kerrie-Nasionale-Kuierfees

Amelia Mulder

(insluitende die ANNA-toekennings ['n anagram vir my eerste naam])

(foto's: Amelia Mulder)

Om mee te begin kan ek ongelukkig geen kritiek lewer op enige hogere kuns wat by die fees aangebied is nie, aangesien ek dit nie bygewoon het nie. Ek vergoed gewoonlik hiervoor deur na die dramaproduksies te gaan wat voor of na die fees my dorpie aandoen. Dis gewoonlik goedkoper, koeler en word in regte, egte teaters aangebied. (Kuns het klaarblyklik ook geen plek op 'n kuierfees nie).

Skokkendste akkommodasie op die dorp: Hierdie prys gaan aan die SANW-kampterrein, waar 'n mens soos klokslag halfvyf in die oggend (ja, jy lees reg) wakker gemaak word deur die weermag se oefenroetine. Dit behels uniformige sang en bevele wat luidkeels uitgeroep word. Hierdie marteling duur twee ure, waartydens mens noodwendig 'n nood ontwikkel en verby al 40 jong manne moet seil in jou pajamas om by die ablusiegeriewe te kom. Weereens baie dankie aan die barmhartige verkleurmannetjie wat my die volgende dag alternatiewe verblyf aangebied het!

Binnelanders
Kyk ma, mense van die Binneland!

Onvergeetlikste gebeurtenis: Ongetwyfeld die insident met die "ongeïdentifiseerde man" en Amor Vitone se borste. Ek het dit ongelukkig nie self gade geslaan nie, maar volgens omstanders het sy hom genooi om saam met haar op die verhoog te kom dans, waarna sy hom 'n spreekbeurt gegee het en hy beweer het dat sy die "mooiste fokken tiete op die fees" het. 'n Voëltjie het gefluit dat die man, hoewel ongeïdentifiseerd, nie so onidentifiseerbaar is nie en in sommige kringe na verwys word as (iets in die lyn van) Nasionale Kaalvrou, alhoewel hy nie patrioties, ekshibisionisties òf transseksueel is nie. My vriendin Rooi Jakkals reken egter dat Lucky Joe ('n gespoenefiseerde skuilnaam) se girlfriend eintlik die wonderbralikste borste had, terwyl ander weer reken diè eer kom 'n sekere langharige, tromspelende sanger toe.

Opgewonde oor die band
Opgewonde oor die band?

Mees overrated fenomeen: Beslis die Bok van Blerk-lied, "De la Rey". Hulle kan eintlik die 2007 KKNK daarna herdoop. Net waar jy kyk en hoor was T-hemde, koerantberigte, gesprekgroepe en na-aapsels van hierdie song te kus en keur. Selfs die AWB het in die openbaar die lied vir hulself gekaap deur 'n allemintige tien plakkate te druk en oor die dorp te versprei, met hul kenteken en "Ons De la Rey" daarby. Die man self (dis nou Van Blerk, nie De la Rey nie) was ook daar en rekordgetalle bewoë bewonderaars is na sy vertonings opgesweep. Hy het nuus gemaak deur die (nuwe) Suid-Afrikaanse vlag op sy bors te dra en sy fans het nuus gemaak deurdat hulle nou na sy hele CD geluister het en dus uiteindelik ook die ander liedjies se woorde kon saam sing.

Machiel Roets en sy band
Machiel Roets (tweede van regs) en sy band

Skitterend in hul afwesigheid: Steve Hofmeyr (ek verneem hy het wel een vertoning gelewer en toe weer die hasepad gekies, nadat hy die KKNK 'n paar jaar gelede heeltemal afgesweer het) asook die opspraakwekkende eks-redakteur van Die Krit, Jaco Botha.

Bitterlik gemis in hul afwesigheid: Fokofpolisiekar

Feeskos: In diè kategorie gaan daar nie pryse uitgedeel word nie, aangesien dit alreeds vir 'n vegetariër soos ek bykans onmoontlik is om iets behoorliks in Oudtshoorn te ete te kry, om nie eers te praat van die hoeveelheid mense wat gekla het oor hulle feesmagies nie. Ek het wel egter 'n pluimpie uit te deel vir die Kango Wijnhuis se kaasbord, waarsonder ek dalk my gewig op laerskool kon geëwenaar het.

Beste bar: Gaan beslis aan die MK89 Kango Wijnhuis bar, waar dit altyd skoon was, daar nooit lang toue was nie, 'n mens na DSTV kon kyk op 'n aantal skerms en 'n botteltjie bier slegs R8 gekos het. Die toilette was ook voortreflik. Wat meer kan ek sê?

Beste babelaas bestryder: 'n Bruisende Berocca gevolg deur 'n lang teug van 'n dubbel ram-en-kouk.

Beste plakkaat: Willim Welsyn en die Sunrise Toffies. Goeie een ouens! Nou kort julle nog net die regte publisiteitsagent wat sal verseker dat dit die voorblad van Die Krit ook haal. Lyk my politiek verkoop hierdie jaar beter as seks. Dammit!

Beste merchandise: Vir seker die MK89-keppies, wat so gewild was onder tieners dat dit my laat voel het soos een van Nicholis Louw se agtergrondsangers wanneer ek in die straat afgestap het daarmee.

Beste vry: Daar word jammerlik geen pryse toegeken hierdie jaar nie.

*Toekennings kan nie verruil word vir kontant nie en is onderhandelbaar (wel vir kontant). Geen skuilname is gebruik nie, behalwe die naam van die skrywer, wat 'n absolute versinning is uit vrees vir moontlike retaliasie deur verregses of Joost van der Westhuizen.





Musiek
A
B
C
D
E
F
G
H
I
J
K
L
M
N
O
P
R
S
T
U
V
W
Z
MUSIEKVIDEOS



  Artikels direk



Subscribe to RSS headline updates from:
Powered by FeedBurner