|
(Alle materiaal wat op Roekeloos.co.za verskyn moet slegs op sigwaarde aanvaar word. Daar word geen waarborg gegee of geimpliseer oor die korrektheid van die inligting nie.)
Hierdie afdeling se inhoud verskuif binnekort na Seks 101
Vrae en opmerkings kan HIER vir Marthie gestuur word. Alle korrespondensie sal as vertroulik hanteer word. Vrae sal egter NET in Marthie se afdeling beantwoord word. Lesers moet asseblief geduldig wees. Die afdeling is uitsluitlik bedoel vir die uitruil van inligting ter wille van beter volwasse seksuele opvoeding en / of hulp. Gebruikers het die geleentheid om van Marthie se dienste gebruik te maak buite hierdie afdeling. Gebruik asseblief hierdie vorm om 'n afspraak met Marthie te maak.
55 Maniere om romanties te wees
Almal soek altyd raad oor hoe om vuur in 'n verhouding te blaas en die antwoord is eenvoudig, wees bietjie meer romanties. Een klein dingetjie elke dag kan 'n reuse verskil maak. Dit hoef nie groot of buitensporig duur gebare te wees nie, net klein dingetjies wat wys dat jy aan hom of haar dink.
Indien jou verhouding bietjie koud is of jy net soek na meer idees om die romanse aan te vuur kan jy met die volgende lys onder jou kopkussing slaap. Doen een dingetjie per dag en die koudste hart sal begin warm klop. Daar is verseker iets op hierdie lys vir Valentynsdag.
- Indien sy 'n boek lees of nuwe tydskrif gekoop het skryf "Ek is lief vir jou!" op een van die blaaie waar nog gelees moet word.
- Skryf "Ek is lief vir jou!" op die badkamerspieël indien die vertrek toegestoom is.
- Bied uit die bloute aan om hom 'n massering te gee.
- Skryf 'n gedig en gebruik Google Translator om dit in Frans of Italiaans te vertaal. Skryf dit nou met die hand op 'n mooi stukkie papier en plaas dit op jou geliefde se kopkussing. (Maak net seker jy ken die oorspronklike weergawe uit jou kop uit.)
- 'n Stukkie sjokolade op die kussing werk net so goed.
- Verkondig dit luid op 'n openbare plek: "Ek is lief vir jou Hansie / Grietjie!" (Onthou om jou geliefde se naam te gebruik in plaas van Hansie of Grietjie.)
- Maak vir haar 'n CD met haar gunsteling liedjies.
- Wanneer jou geliefde na 'n vermoeiende dag by die huis kom is daar 'n skuimbad getap met kerse, sjampanje en romantiese musiek.
- Daag onverwags by haar werk op met middagete uitgerus met 'n piekniekmandjie vol van hul gunsteling eetgoed.
- Of laat blomme aflewer by haar werk.
- Laat 'n romantiese boodskap op RSG lees vir jou hart se punt. (Onthou om vooraf 'n e-pos te stuur sodat hulle kan luister.)
- 'n Romantiese aandete faal selde.
- 'n Kommetjie met warm water, seep, room, 'n handdoek en miskien 'n masseerolie is al wat jy nodig het om jou liefde se voete te was.
- Stuur sommer nou 'n SMS wat sê "Ek is lief vir jou!"
- Op 'n ander dag kan jy 'n e-pos met 'n romantiese prentjie stuur wat sê "Ek is lief vir jou!"
- Koop 'n mooi kaartjie en pos dit vir haar.
- Kort daarna is daar 'n laaaang liefdesbrief vir haar in die pos.
- Gebruik 'n foto van jou om 'n poskaart te maak en vir haar te pos.
- Wys 'toevallig' een dag vir jou geliefde daardie foto van hom wat jy "al so lank" in jou beursie dra.
- Los 'n stukkie papier met 'n boodskap onder sy motor se ruitveër.
- Soek 'n klein weggesteekte stukkie muur by julle huis waar jy 'n hartjie kan verf met julle voorletters in.
- 'n Groot soen wanneer sy dit die minste verwag. (Onthou net dit werk nie so lekker in die kerk nie.)
- Hou hande vas in die agterste ry in die fliek.
- Ontbyt in die bed is ook 'n ou wenner.
- Hou 'n braai vir al julle vriende, waartydens jy 'n boom uitpluk en plant as simbool van julle liefde.
- Julle is iewers by 'n braai wanneer jy almal stilmaak en sê jy het 'n belangrike aankondiging: "Ek is lief vir Hansie / Grietjie!" (Onthou die Hansie / Grietjie reël)
- Skep 'n geheime kodewoord vir die volgende braai waarvan net julle twee die ware betekenis weet, soos byvoorbeeld 'warm' en dit beteken 'Ek wil jou hê'. Dan kan julle dinge sê soos "Sjoe die vuur is 'warm'!" of "Dit was 'n 'warm' dag vandag."
- Sê sy moet 'n oornagtassie pak wanneer sy by die huis kom na werk en vat haar na daardie hotelkamer wat jy bespreek het.
- Plaas 'n klein advertensie in die koerant waarin jy jou liefde verklaar.
- Blinddoek haar en neem haar na 'n plek waar een van julle eerste afsprake was.
- Maak asof dit Valentynsdag is in die middel van die jaar.
- Wanneer hy op 'n sakereis gaan versteek jy klein notatjies in sy tas en klere.
- Los 'n mooi nota op die yskas.
- Help hom / haar met een van daardie huishoudelike take waarvan hulle niks hou nie.
- Gaan stap 'n ent terwyl julle hande vashou.
- Pluk 'n blom vir haar langs die pad indien julle iewers stap.
- Skep 'n gereg en vernoem dit na hom. (Maak net seker dit smaak na wense.)
- Skryf 'n boodskap vir haar op jou lyf met verf. ('n Mens kry spesiale verf hiervoor, die dakverf gaan nie werk nie!)
- Gebruik jou rekenaar se mikrofoon om vir haar 'n gedig op te neem en dit op CD te sit.
- Wanneer sy gaan slaap is 'n bedkassie vol van klein goedjies wat almal een of ander spesiale betekenis vir julle het.
- 'n Mooi foto in 'n raam is ook 'n klassieke gunsteling.
- Almal weet dat mooi onderklere werk.
- Min mense weet dat satynlakens wondere verrig vir die gemoed asook enige verhouding.
- Skenk iets vir liefdadigheid in haar naam.
- Doen iets saam wat julle laas gedoen het toe julle jonk en simpel was.
- Maak 'n plakkaat waarop jy een ding verheerlik van jou maat waarvan jy baie hou.
- Begrawe 'n gedig vir haar in die tuin en maak asof jy dit uitsnuffel. (Gaan net werk as sy ook teenwoordig is en nie net die hond nie.)
- Wanneer hy die toilet beset klop jy aan die deur en sê: "Ek is lief vir jou!"
- Vat saam een dag verlof en doen iets waarvan julle hou. Noem dit julle liefdesvakansiedag.
- Stuur 'n liefdesgedig vir Roekeloos.co.za en laat hom weet wanneer dit gepubliseer is.
- Doen daai een ding by die huis wat sy al sooooo lankal wil hê jy moet doen.
- Doen alles vir hom vir een dag. Maak asof hy niks self kan doen nie.
- Stel belang in iets waarvan hy baie hou. Vra hom om jou meer te vertel.
- Skryf "Ek is lief vir jou!" op die toiletrol.
- Skryf "Ek is lief vir jou!" op blikkieskos.
Hierdie lys is so goed, dit kan maar met 'n waarborg uitkom.
|
Seks
A
B
D
E
F
G
H
I
J
K
L
M
N
O
P
R
S
T
V
W

|