|
(Alle materiaal wat op Roekeloos.co.za verskyn moet slegs op sigwaarde aanvaar word. Daar word geen waarborg gegee of geimpliseer oor die korrektheid van die inligting nie.)
Hierdie afdeling se inhoud verskuif binnekort na Seks 101
Vrae en opmerkings kan HIER vir Marthie gestuur word. Alle korrespondensie sal as vertroulik hanteer word. Vrae sal egter NET in Marthie se afdeling beantwoord word. Lesers moet asseblief geduldig wees. Die afdeling is uitsluitlik bedoel vir die uitruil van inligting ter wille van beter volwasse seksuele opvoeding en / of hulp. Gebruikers het die geleentheid om van Marthie se dienste gebruik te maak buite hierdie afdeling. Gebruik asseblief hierdie vorm om 'n afspraak met Marthie te maak.
Seks en jongmense
**** ********* skryf: "Ek het vriende in graad 8/9/10 en 11.
My vraag: Wat moet jongmense hulself afvra voordat hulle tot 'n seksuale verhouding oorgaan. Byvoorbeeld: Is dit vir my belangrik om te weet dat my maat al voorheen seks gehad het? Hoe verskil die verskillende ouderdomme se gevoel oor seks."
Die eerste vraag behoort te wees: Wat beteken die woord seks vir my? Jongmense dink gereeld aan seks as die oomblik wat die penis die vagina penetreer. 'n Seksuele verhouding het vele fasette. Die penis en vagina is net een moontlikheid. Daar is ook ander dinge soos wedersydse masturbasie en orale seks. Waar jy ookal begin, daar is wel 'n paar dinge wat jy jouself moet afvra.
Kom ons maak sommer 'n lys:
- Is ek bereid om nou al te sterf? Want dit is jou voorland as jy die HIV-virus onder lede kry. Sonder 'n kondoom kan jy netsowel 'n geweer teen jou kop hou.
- Weet ek met wie hy / sy al geslaap het? Die een is maklik - jy kan nooit weet nie. HIV is nie al wat jy kan optel nie. Daar is verskeie seksueel oordraagbare siektes wat jy kan opdoen. Kontak met die verkeerde persoon kan jou met 'n leeftyd van infeksie laat. Maak nie saak wat jy besluit nie, 'n kondoom kan jou 'n leeftyd van hartseer spaar.
- Wil ek dit werklik doen? Indien jy voel daar is druk op jou moet jy daai lorrie sommer nou stop. As jy skrik, skrik asseblief wakker. Die storie eindig nooit goed nie. Geen mens behoort seks te hê omdat hulle voel daar is druk op hulle nie. Dis eenvoudig af!
- Ken ek my eie liggaam? Wie klim in 'n kar en ry sonder dat hy ooit al agter die stuur was. Dieselfde met seks. Dit gaan nie net daaroor om 'n stywe rathefboom in jou hand te hê nie. 'n Lelike botsing is jou voorland indien jy nie goed geskool is in alles van soen en masturbasie tot die werking van die vroulike liggaam nie.
- Vir wie wil ek dit doen? As dit nie vir jouself en die ander persoon is nie, los! Seks is nie masturbasie nie. Dis waarvoor jy hande gekry het. Mens gebruik nie iemand om jou eie seksuele behoeftes te bevredig nie. As iemand druk op jou plaas om seks te hê is dit alles behalwe 'n goeie vriend.
- Verwag ek ons verhouding gaan beter wees na seks? Dis twak. Jy moes dit al meermale gehoor het. Glo dit nou maar, seks gaan hom nie meer van jou laat hou nie. Studies het al getoon dat soveel as 30% van mense het NOOIT weer seks met die persoon met wie hulle die eerste keer seks gehad het nie. En slegs 'n klein hoeveelheid vroue hou van seks die eerste keer.
- Kan ek hom / haar vertel wat ek seksueel wil hê? Indien julle nie eers daaroor kan praat nie, hoe wil julle dit reg doen?
- Voel ek gemaklik sonder klere voor hom /haar? Dit dui nie net op die noodsaaklike gemak in julle verhouding nie, maar ook oor hoe gemaklik jy is in die geslagsrol wat jy moet vertolk.
- Is hy / sy eerlik met my? Geen twee persone kan werklik intiem wees sonder om absoluut eerlik met mekaar te wees nie.
- Is dit teen ons geloof? Nie een van julle behoort ernstige kulturele of geloofsoortuigings te hê oor 'n verbod op seks voor die huwelik nie. Dit kan mens agterna knou en emosioneel aftakel. Los eerder die seks voor jy die saak vir jou uitgemaak het.
- Kan ek met iemand gaan praat oor seks in my familie? Almal behoort ten minste een persoon te hê met wie hulle die onderwerp openlik kan aanraak.
En onthou die beste seks is die wat albei persone graag wil hê en voor gereed is. Indien julle voel dat seks opsioneel is vir julle verhouding, dan is julle dalk halfpad gereed vir die volgende stap. Moet ook nie dan sommer in die bed spring nie. Begin by masturbasie en vat dit van daar af.
|