‘n Plaasgesmeerde botterbroodjie teen ‘n gewigtige dertig gram – ‘n onnosele blik in die toekomstige vadermoord, deur die wit van my glas melk. Hoe stondig staan ek en bespiegel my troos soos my baarmoeder rondkruip op die vloere van ons Hel. Die liewe Heer sal weet waarnatoe ons heen gaan. Verstoer staan Sewekop en luier sy vrot asem in my nek, diep wonder ek waar my sober homself bevind. Vêr tog so vêr hiervandaan – in die uithoeke van jou eensaam staan die witgedwaasde filantroop en bevredig homself op my podium van trane. Hier en daar en plek-plek verkak ‘n nasie homself, terwyl die bose dikgevrete in hul woeste, weste winde hul sakke vol koring prop – sak en pak jou stuk gemors, los ek myself aan een, die gekletter en geklap van soveel monde laat my tog so alleen.
Komies dog so preuts babbel die Plagipolitikus aan’t een – oor die staatlose-prikkelpop en sy sinnelose beleid. Demoonkraties wees en stil-stil verdwyn, waarom ja waarom word ek verwyt?
Waarom word ek verwyt?
Is daar die stilte soos op die Magaliesberge se kruin, waar die geritsel in die grassies onder my bewussyn verdwyn? Is daar tog net nog eenkeer vir my ‘n oseaan waar die golwe rond baljaar, al is die stiltetyd in my kamer so swaar soos die heimwee in my swakkemoed en steier sal ek niet. Soos ek steier, sal ek niet. Dor soos die oneindige droog van soveel siele wat dors my drome rond ruk is daar tog ‘n groenigheid in my karoo? As jy begin sal jy nooit eindig want seker soos seer is, sal die gewete kom pla. Die dronkenskap laat jou mond wapper in ‘n warrelwind van gedagtes wat geen punt het nie – geen einde soos waar jy begin het nie. Nêrens te sien.
Met moed in my een hand en ‘n gedagte in die ander, trek ek eensaam en alleen die Witgod uit ‘n ampul, op hoop dat daar weliswaar ‘n sonde is wat my hart kan troos. Hoe traag sink ek die 18 gram naald weg met ‘n 20 milliliter spuitnaald agterna, in ‘n groen gevlekte aar wat my siel gaan bedaar. Die pyn verdwyn soos mis voor die oggend son. Dit word alles so stil soos gister, waar ek veilig by my moeder kon lê diep weggebêre onder vlees in ‘n sak vol water, ek kon dryf, vlieg en spartel en niks kon my seermaak nie want niks kon my sien nie. Al wat ek kon hoor was die gemompel en geraas aan die anderkant. Daar waar mense sterf. Nou sal ek self moet leef en nou sal ek self moet sterf, saam-saam met die hawelose, saam so sal ons sterf.
‘n Verruklike oomblik skuif my berge, en ek sien my moeder gee mee. Met die kors wat plek-plek oopbars en haar bloederige magma wys. Die pyn en lyding is hier. Dit is toe die enorme, mensgemaakte eweknie met ‘n wit gewaad voor my neerkniel, met die gesig van Set uitgekerf na die beeld van ons vrees, staar die gedoente my stip in die oë en bulder só dat die oseaan bedaar:
Kyk nou net hoe swak is jy.
Sonder om te skaam is jy in jou dood
vry …
‘n Siel dog soekend nou na leed.
Daardie stiptelike noodkreet na iets.
Vergesogte jou stommerik
die liewe lewe is nou verby.
Die tyd is hier,
soos die Hel se vuur.
Dit is die laaste uur
dit is die laaste
uur.
bydrae: Düvlen
(Stuur jou verhale na bydraes by roekeloos.co.za)
Related posts:















Bespreking
Kommentaar word nie toegelaat by hierdie bydrae nie.
Kommentaar is gesluit.