Daar is geen traan in hierdie oog nie, geen hartseer in die lug nie. Wél, nie waarvan ons weet nie.
Nie wat ons soek nie – ook nie wil hê nie.
Daar is geen pyn sonder tug nie, nie ‘n oomblik van stil wees nie want stil is in ons dood gekerf – tot op die senuwees, ‘n terggees.
Daar is geen skaam in die gedwee wees, geen leiding van die lam nie. Wie wéét – sou sonder ‘n wankeling kon loop.
Daar is geen skuld sonder die leuen nie, ‘n rusie sonder die hou nie – waar my witgeknarsde kneukels deur die dowwe kombuis lig breek en jou onderlip te pletter laat, laat ek jou meer dink oor die soeke na die hemel.
Daar is geen woorde sonder sin, droef sonder skroom nie. Daar is geen wens sonder smart nie. Daar is nie ‘n pasgebore sonder hoop nie en op sterwe stoet gedaan in die heelal sal ons drome droom, en heenkome soek sonder te vind.
Weerloos neem dog afskeid, maar sonder vrees is ons niks.
Driestemmig skree sy terug, in koulik-gilgeluid soos die stomdemoon op die TV-skerm, kreun sy van die pyn. Onophoudelik soos die neul van ‘n kind, staar sy soos ‘n dommeding deur my koue hart en vra om vergifnis, sy was ons voete – sy was die hoer. Terug smeek ek ‘n middelvinger haar rigting in en spoeg haar in die gesig. Vuilgoed! Juig ek saam met die res van die onortodokters en sif preutse.
Ek moet nie, maar ek wil.
Snaakse paar vingers gryp saggies om die kosyn vas waarna twee groot, bruin, verskrikte ogies volg opsoek na iets wat beweeg. My oë beweeg nie, niks beweeg nie. Alles staan botstil in die donker gang.
“Waaaar is jyyyyyy?” – vra die driestemmige wese, beeldskone gedrog met lang swart hare, gewaad so koud soos die vure in die hel maar tog so soet soos hemel self.
Ek antwoord nie, eerder bedag. Die Driestemmige staan, nog stééds soekend na iets – soos ‘n slang se tong wat lek-lek sy prooi soek skiet haar verlammende oë die gang deur, seker van my. Sy weet ek haal asem, die einste lus van ‘n dooie.
“Waaaar is jyyyyyy?” – vra sy weer. Die keer gulsig en met ‘n roggel. Weereens huiwer ek om te beweeg.
Soos sy stadig vorentoe beweeg, van een muur na ‘n ander en haar oë wild die donker gang deur soek, probeer ek agteruit beweeg, tevergeefs. Sy stop doodstil en staar stip na my; deur my; in my. “Mmmm. Daar is jy, ek het skoon gedink jy het van my vergeet, tog nie. Waarom so stil? Miskien verskrik?” vries sy die stilte met haar stemme.
“Laat jouself nie in verdoemenis nie, jy weet jy soek wat ek het. Die Donkermaan. My Donkermaan. Kom nou swakkeling, eet die vrug wat sondaars laat vomeer.” sê sy met daardie onaardse stem.
Ek weet wat ek soek, en dit is alles hier. Reg voor my staan die gedrog van lus kan jy my niks vertel. Die verkeerd gaan eindig in alles wat so reg is.
Sy ruik heerlik. Soos die van ‘n siel, koud. Oud en stowwerig soos die van ‘n kelder. Die een wat gesluit bly in jou gedagtes. Daardie een gevul met vuil geheime wat ons almal koester in die donker en oor giggel as niemand ons sien nie. Daardie skurwe dinge wat jy self nie eers van weet nie.
“Moet jouself nie so lank in onsekerheid laat dwaal nie!” Skree sy met woede my rigting in.
Die geskree … Die geskree kan ek nie verwerk nie. Dit is ‘n dolk deur my nier.
Sy gly oor die vloer, ongeveer twee sentimeter van die grond af sweef sy sonder ongemak tot reg voor my. Ek kan sien hoe die blink, bruin oë verdor en pikswart vlek, briesend skree sy – “MOET JY SO VOKKEN PATETIES WEES, SWAKKELING?!”
Ek hou van jou naak sonder rede, ek hou van jou kwaad sonder vrede, ek haat jou as jy skree in die donker waar die vuilgoed lê en wag sal jy op my gil en gek skeer, jy haat my ek weet dit.
Ek wil soos jou kommer wees, sonder enige pla sal ek jou skaad! Met graagte wil ek jou verafsku, jou haat soos die sere in my keel.
Met ‘n slag, ruk ek haar nader en byt. My voortande gly soos ‘n warm mes deur botter in haar wang in en met ‘n ruk, skeur ek ‘n hap vleis uit haar oulike gesiggie. Sy steier terug en begin waansinnig gil. Net so blitsig soos die begin, stop sy.
Sy begin koud giggel en met haar kop gesak steek sy haar wysvinger uit na my en sê in haar drie stemme – “Bastaard u. De eindeloze pijn en u haat me wegens liefde? Dit is slechts het begin van uw hel. U proefte mijn vlees maar ik zal van u bezitten! U zult met me in de vurige diepten van hel branden! Daar zullen wij in hartstocht tot het eind van het begin van het eind ineenstrengelen!”
Verstar is my oë vasgenael in die spieël. Vir ‘n oomblik het ek tyd verloor en my hande pyn soos ek die wasbak stadig los. My kop wil bars. Bliksem – dink ek ewe by myself, dagdroom se moer.
Aan beide kante van my mond loop ‘n dun straaltjie bloed. Ek moes my lip raak gebyt het. Ek laat sak my kop en driehonderd gesigte van oud flits deur my gedagtes, vêraf hoor ek haar gelag en daar …
in die wasbak lê die stuk wang …
bydrae: Düvlen
(Stuur jou verhale na bydraes by roekeloos.co.za)
Related posts:















Bespreking
Kommentaar word nie toegelaat by hierdie bydrae nie.
Kommentaar is gesluit.