// jy lees ...

Ek, Sisiphus

Eerste toneel

‘n Geknars soos iemand wat homself omdraai op ‘n gruisblad is hoorbaar. Dan ‘n sug en die geluid van iemand wat teen iets aanbeur. In die agtergrond, vêr, die geluid van naderende voetstappe. Alle geluide word meteens stil.

MENS : Net ‘n oomblik, asseblief. U is my laaste uitweg. Ek is op soek na iemand, en u is die eerste persoon wat ek raakloop sedert ek by Hulle weg is. Ek is gestuur om … Ewenwel, ek moet eers die persoon kry wat ek soek. Dit is ook so donker hier! Hulle het darem gesê dat ek hom maklik sal herken: gespierd, waarskynlik nat van die sweet. Nie juis ‘n goeie beskrywing nie, maar darem. Ek wonder of …

SISIPHUS : Daar is baie tyd, maar ek is haastig. Miskien is dit vir my wat jy soek. Nou ja, dan het jy my gekry.

MENS : Die ander het my in hierdie rigting beduie. Snaaks. Noudat ek daaraan dink, kan ek nie besluit of die spul vriendelik was of nie. Niemand raakgeloop oppad nie. Daarom is ek so bly om u te sien. Ek soek na iemand met die naam Sisiphus. U ken hom?

SISIPHUS : En as jy die man vind, wat dan? Wat kan hierdie man vir jou sê of doen wat Hulle nie kan nie? Buitendien, dit is ‘n eienaardige plek om iemand te kom soek.

MENS : U moet besef, u is eintlik reg. Maar dit is moeilik om te verduidelik. Dit sal u ophou, en u is haastig. Ek het ‘n boodskap vir die man, ‘n baie belangrike boodskap, u verstaan. Glo my, ek sou nie deur alles gegaan het om hier te kom vir iets onbelangrik nie. Dit was nie maklik nie. Om Hulle te oortuig was moeilik. Ek weet nou nog nie waarom Hulle ingestem het nie. Maar ek dwaal af. Weet u waar ek die man kan vind?

SISIPHUS : Jy soek na my. En jy sê jy het ‘n boodskap. Van die ander af? Hoekom kom hulle nie self nie, of is dit te veel gevra? En tog, van waar anders kan ‘n boodskap kom? Van haar af? Nie na wat alles gebeur het nie. En jy sê dis belangrik. Niks is belangrik nie, want alles is. Jy sê jy het baie deurgemaak om hier te kom? Dan sal jy nie omgee vir nog ‘n bietjie ongemak nie. Stap saam!

Weer die geluid van iemand wat teen iets beur. ‘n Knars van klippe wat teen mekaar skuur. Stelselmatig word die geluid meer veraf.

Tweede toneel

Al wat hoorbaar is, is die hygende asemhaling van twee mense wat merkbaar uitasem is. Verder die geskuifel en geknars van klip-teen-klip. Dit meng met die voortslepende voetval van twee mense.

MENS : Ek kan nie meer nie … Is dit nou regtig nodig? Hoekom … Hoekom wil u nie hê dat ek die boodskap aan u oordra nie? Ons kon dit mos daar onder afgehandel het en …

SISIPHUS : Nee, ons kon nie. Maar jy moet geduldig wees. Nog net ‘n paar tree. Dis snaaks. Waarom soveel moeite vir ‘n boodskap wat geen sin kan hê nie? Maar, nou ja.

MENS : Maar u weet nog nie …

SISIPHUS : Moet ek weet? Meer nog: wil ek weet? So ja, jy moet eenkant toe staan. Die klip is swaar!

‘n Groot geruis word hoorbaar. Klip breek en spat weg namate die rots na benede stort. SISIPHUS gaan staan en vee die sweet van sy voorkop af.

SISIPHUS : Jy stap saam, neem ek aan? As ons onder kom sal jy verstaan. Toe, wat is die boodskap wat kwansuis so dringend is?

MENS : Eintlik is dit besondere nuus. Soos ek al gesê het, dit was ‘n skoot in die donker. Ons was van mening dat ons nie ‘n kans het nie, maar ons moes net probeer. En, moet ek sê, dit het nogal makliker gegaan as wat ons gedink het. U lot het ons almal gepla. En toe besluit ons om te probeer om … Ag wat, om ‘n lang storie kort te maak, Hulle het besluit om u situasie te heroorweeg na aanleiding van ons pleidooie en my toe afgevaardig …

SISIPHUS : NEE! (Hy gaan staan)

MENS : Miskien is heroorweeg die verkeerde woord. Hulle optrede was eienaardig … maar hulle het my nogtans toegelaat om te kom en …

SISYPHUS : Ek sê NEE!

Hulle stap weer.

MENS : Hoe kan u so sê? Dink net, u situasie kan moontlik hersien word. Hierdie absurde bestaan … u verdien dit nie. Geen mens kan so leef nie. Dit druis in teen alles wat menslik is; teen die menslike aard. Dit is hoekom ek hier is. Maar waarom sê u nee? Daar moet ‘n rede wees, en ek voel dit moet ‘n goeie rede wees. Niemand sal tog …

SISIPHUS : Jy kan nie verstaan nie. Jy kan slegs maar begin verstaan. Maar teen ons onder kom sal jy ten minste meer weet as nou. My situasie heroorweeg? En wie het Hulle die reg gegee daartoe? Ek het nie gevra daarvoor nie. Nee, jy moet my nog sê hoekom julle soveel moeite doen met my. Maar voor jy dit doen, eers dit: sien jy die rots daaronder? Miskien nie – dis donker, maar jy raak gewoond daaraan. Dit word naderhand deel van jou, net soos die rots. Dinge het verander … Die nuus wat jy het is belaglik! Snaaks, dis met die afstap dat ek kans kry om hieroor te dink. Vir julle is denke ‘n probleem, nie waar nie? Denke veroorsaak dat julle twis; denke maak die slimmes onder julle pessimisties en die onnoseles bly, is ek reg? Kortom, julle denke pla julle, is ‘n las! Dis toe nie so ‘n groot seën soos julle denkers en profete dit wou uitmaak om te wees nie. Maar hier is dit anders. Aanvanklik was dit dieselfde, maar mettertyd besef mans dat daar alternatiewe is, dat definisies van inhoud kan verander. En dan word alles sinvol, selfs die sinlose soos julle daaraan dink. Julle het ‘n vêr pad om te loop! Nee, jy mors jou tyd met my. Jou sinvolle wêreld met sy sinlose idees wag vir jou. Wat soek ‘n lewende mens hier? Dis ‘n snaakse plek om jou tyd te verspeel, gesien die tyd wat jy in elk geval hier sal deurbring. Maar dis juis hier waar ek julle almal een voor is. Sin is nie vir my ‘n probleem nie, maar wel vir julle. En wat Hulle betref; hulle het nog nooit nodig gehad om die vraag te vra nie, so ek is ook hulle een voor. Verstaan jy?

MENS : Dis onbegryplik, maar ek hoor wat u sê. Net ‘n vraag: Hoe het u tot hierdie standpunt gekom? Dit is vir my moeilik om dit in te sien, en buitendien, ek moet rapporteer …

SISIPHUS : (Sarkasties) Ek hou van ‘n pligsgetroue mens. Julle sal nooit kan ophou redeneer nie, arme goed! Daardeur voel julle belangrik, probeer julle jul vrese besweer en eintlik word dit net meer. Ja, my bestaan is absurd, soos julle dit definieer. Maar nie vir my nie. Die betekenislose in julle taal het ‘n kategorie van sy eie gevorm. Hier is geen kategorieë nie. Alles is soos dit is. Julle bestaan is net so absurd, maar julle versier dit met taal, met kuns en met wetenskap om julle eie leuens weg te steek vir julself. Maar as jy eers die sin in die ooglopend sinlose raakgesien het – ek gebruik nou al julle terminologie om te verduidelik, kan jy glo! – dan is die afwesigheid van sin juis die sinvolle. Elke kolletjie op daardie klip is ‘n wêreld op sy eie, en die stryd, die lyding om bo uit te kom, juis dit is sinvol, omdat dit nie is nie. Die berusting hierin, die blydskap daarin … onuitspreeklik. Maar dan, my dood lê nie vir my voor nie …

MENS : U dood is u lewe?!

SISIPHUS : Jy kan maar so sê.

MENS : Maar dis ‘n ondraagbare las …

SISIPHUS : Elkeen vind uiteindelik weer sy eie juk – julle net soos ek; miskien meer as ek, maar daar is ‘n verskil. Julle aanvaar dit nie. Julle sien dit as ‘n struikelblok, as iets wat oorkom moet word. En daarmee teken julle die kontrak vir julle eie ongeluk. Dan noem julle iets tragies …

MENS : Ons is amper onder, en u moet nog vir my sê: waarin lê u geluk, u tevredenheid met u situasie? Dit bly vir my moeilik om te verstaan.

SISIPHUS : Jy sal nooit heeltemal kan verstaan nie. Slegs dit: Ek het ophou vrae vra. Of liewer, dit is nie meer vir my nodig om vrae te vra nie. Ja, ek het die lewe liefgehad, die lewe soos julle dit ken. Juis daarom is ek hier. Maar my situasie hier is net so in orde. Ek het vreugde gevind in dit wat vir ander sinloos voorkom, juis omdat ek dit nie probeer interpreteer of verander nie. Dit is die eenvoud daarvan. En tog is dit vir julle mateloos kompleks. Jy het saamgeloop na bo; saam die volle omvang van my bestaan meegemaak. Ek het gesê jy sal nie kan verstaan nie. Maar jy weet nou beter …

SISIPHUS gaan staan met sy hande langs sy sye. MENS staan eenkant, kyk op die grond voor hom, en toe in die rigting vanwaar hy aanvanklik gekom het. Daar is ‘n effense glimlag om SISIPHUS se mondhoeke.

SISIPHUS : Dis reg. Jou wêreld is daardie kant toe. Jy het gesê jy moet rapporteer. Sê vir hulle ek is heeltemal gelukkig.

MENS : Kan ‘n avontuur so skeefloop? Ek sou dit nooit kon dink nie. Ek sê vir jou hulle sal my nie glo nie; miskien dink hulle ek lieg vir hulle en dat ek nooit hier uitgekom het nie. Maar die ander sal tog seker vir hulle sê …

SISIPHUS : Neem ‘n klip van die berg saam as bewys. Sulke klippe kry mens nie in jou wêreld nie. En ek ken klip. Dis eintlik ‘n metafoor, weet jy. De …

Hy tel ‘n klip op en hou dit uit na MENS.

MENS : As dit maar sal help … As dit maar vir my sou help. Ek glo nie ek is dieselfde as toe ek hier aangekom het nie. Ek sal maar probeer om … onverstaanbaar … Maar dit maak tog ook sin … Ek groet u.
Onverstaanbaar … maar dis waar.

Hy mompel iets by homself soos hy wegstap. Na ‘n paar tree kyk hy om. SISIPHUS is reeds besig om teen die klip aan te beur.

Derde toneel

Die groot saal is vol mense. Buite kan die geruis gehoor word van hordes wat probeer om te sien wat binne aangaan. Hier en daar die bevele van diegene wat probeer om orde te skep in die chaos. Die verhoog is dwars in een hoek gebou. Vir die afgelope 10 minute probeer iemand iets afkondig van die podium af, maar die geruis van stemme smoor alles dood. Daar is soveel mense dat hulle alle in-en uitgange volstaan. Die persoon op die podium gee die stryd gewonne, wink iemand nader en fluister iets in sy oor. Die maak hom vinnig uit die voete. Beamptes slaag intussen daarin om die deure van die ingange gesluit te kry.

Die persoon op die verhoog probeer weer praat; die keer met dreigende gebare. Hy moes iets reg gedoen het. Nogtans neem dit enkele sekondes voor die reuse skare mense bedaar en hy met moeite iets kan uitkry, eintlik uitskreeu.

AMPTENAAR : Ons moet begin. Asseblief tog mense, gee my ‘n kans! Ons weet u is angstig; ons almal is. Dis nie aldag dat iemand van die ander kant af … (die skare stem hardop saam) Asseblief, gee ons spreker ‘n kans. Asseblief! …

Hy wink ‘n ander amptenaar nader – die een het ‘n bulderende stem.

AMPTENAAR 2 : Ek gaan ons spreker aan u voorstel. Orde, asseblief. Kom ons neem mekaar in ag. Almal wil hoor …

Hy sien dat verdere woorde nutteloos is. Hy wink die man wat die heeltyd eenkant agter ‘n skerm op die verhoog staan, kru nader. Soos ‘n groot, lomp dier word die skare in fases stil soos die voorste groep die gebeure op die verhoog agtertoe deurgee.

Die spreker stap na die podium toe en kyk oor die skare. Hy merk op dat die mense tot by sommige vensters inhang, en hoe iemand selfs probeer om van die dakluike oop te beur.

SPREKER : Ek kan nie sê dit is ‘n voorreg om hier voor u te staan nie. My afvaardiging was wel ‘n eer, maar die nuus wat ek het … Eintlik weet ek nie hoe om dit te sê nie. Ek het my taak suksesvol afgehandel, of, so suksesvol moontlik. Terloops, daar sal geen kans wees vir vrae aan die einde nie, bloot omdat daar te veel sal wees. Om terug te kom tot die punt: (Die skare raak agterlangs woelig omdat die mense daar nie goed kan hoor nie) Hy stel nie belang in die heroorweeg van sy situasie nie. (Die skare mompel onderlangs – ‘n dreuning). Geensins nie! Hy het my feitlik kwalik geneem dat ek probeer het. Nee, hy het my kwalik geneem. Ek weet u beskou dit as ongelooflik, maar werklik, dit is soos dit was. Sisiphus is tevrede met sy lot. Hy het baie gesê oor Sin, oor die betekenis daarvan. En oor denke en die samelewing, u en myne. Ek het dit neergeskryf toe ek tuiskom. Miskien moet ek liewer my notas aan u voorlees, dit sal die maklikste wees.

Die spreker haal ‘n pak papiere te voorskyn. Vir ‘n volle vyftien minute lees hy voor terwyl die skare nie roer nie. Net so af en toe ‘n dreuning, waarskynlik veroorsaak deur die intelligentes onder hulle wat ‘n opmerking maak wat dan verdere reaksie ontlok. Selfs diegene wat hulself en deur ander as die woordvoerders, die elite van die samelewing beskou word, sê feitlik niks nie.

SPREKER : Daar het u dit! Kan u dit glo?! Hier is die klip wat hy …

Skielik word ‘n roering agter, by een van die deure, ‘n steurnis. Die spreker hou op praat en probeer kyk wat aangaan. Moontlik ‘n desperate toeskouer wat probeer om nader aan die verhoog te kom. Die voorste luisteraars staan op om te kyk wat agter aangaan. ‘n Individu is besig om met mag en mening vorentoe, in die rigting van die verhoog, te beur, tot groot ontsteltenis van die skare. En hy skree iets wat nie sin maak nie.

INDIVIDU : Laat my deur, laat my deur, deksels! Die man is mal! En sterk! Daar lê reeds twee wat nie gou weer sal opstaan nie. Hy wil die spreker sien, en nou dadelik. Die polisie is oppad, maar ons kan hom nie self terughou nie. Hy’s mal, sê ek julle. Hy sê sy naam is Sisiphus en hy sê die klip sal bewys … (Hy hou iets in die lug)

SPREKER : Sisiphus! Goeie genugtig, dis tog nie moontlik nie. Dit is seker ‘n grap; ‘n grapmaker, ja. Maar die klip; dis dieselfde as myne! Mag die gode ons genadig wees! (Hy lag oor sy woorde). Laat die man deur, en bring die vreemdeling in.

Chaos ontstaan. Almal praat en skreeu gelyk. Die individu bereik die spreker en praat dringend en met handgebare met hom. Die spreker se ongeloof is van sy gesig af te lees. Agter in die saal word ‘n persoon binnegestoot en van persoon tot persoon aangegee vorentoe. Al wat uit die rumoer hoorbaar is. is: “Sisiphus, dis Sisiphus!”

INDIVIDU : Dis hy, dis die man! (Hy wys na die gespierde blok van ‘n man wat in die middel van die vertrek staan. Die skare maak ‘n kring rondom hom. Hulle sien dat hierdie man nie gewone krag het nie.)

SPREKER : Sisiphus! Maar hoe? …

SISIPHUS : Jy! Dis jou skuld! Nee, dis julle almal se skuld! Alles begin weer van voor af. Julle skurke! Hulle het geluister, en kyk nou … Julle en Hulle, ‘n onheilige sameswering!

SPREKER : Ek kan u verseker … dis tog onmoontlik …

INDIVIDU : Sien, hy’s mal, mal sê ek julle!

Die skare raak stil toe Sisiphus praat.

SISIPHUS : Ek, Sisiphus, was gelukkig daar en julle het dit vir Hulle gesê! Toe straf Hulle my op hierdie wyse. Maar ek het nuus vir Hulle … en vir julle, julle almal. Ek is julle almal een voor, en julle weet dit. Ek was waar julle nog moet kom. En ek het geleer, baie geleer en daarvolgens sal ek lewe, ook hier. Julle almal, elkeen van julle, sal nog kom toustaan by my deur; by my kom pleit. Arme, onnosele goed!

Die spreker wou iets sê, maar kan niks uitkry nie. Ongeloof en, as mens mooi sou kyk, vrees, spreek uit die gesig van die individu. Die skare is doodstil. Die eerste persoon het stadig omgedraai en by ‘n agterdeur uitgestap. Ander het sy voorbeeld by van die ander uitgange gevolg. ‘n Gees van verslaenheid hang in die lug. Diegene wat self daar was, sal vir jou kan sê dat daar daardie aand nog mense was in die saal. Hulle het bly staan of sit net waar hulle was. Sommige sal dalk selfs die twee goedgeklede mans onthou wat daardie aand op die stadsplein in mekaar vasgeloop het.

PERSOON EEN (Selfbewus) : Verskoning. Jy weet nie dalk waar die man wat soveel opskudding vanmiddag veroorsaak het, hom bevind nie? Die man genaamd Sisiphus …

PERSOON TWEE : Nee, ongelukkig nie. Snaaks, jy is die derde persoon wat my dit vra. Miskien moet ek saam met jou stap as jy nie omgee nie. Darem ‘n storie, nè ….

bydrae: Johan Schoeman

(Diegene wat nie geskool is in Filosofie nie mag baat vind by die skakel http://en.wikipedia.org/wiki/The_Myth_of_Sisyphus – red)

(Stuur jou verhale na bydraes by roekeloos.co.za)

Share and Enjoy:
  • del.icio.us
  • Google Bookmarks
  • laaik.it
  • Ping.fm
  • RSS
  • Digg
  • FriendFeed
  • Google Buzz
  • Live
  • MySpace
  • Twitter

Related posts:

  1. Raak groot

Bespreking

Kommentaar word nie toegelaat by hierdie bydrae nie.

Kommentaar is gesluit.

Switch to our mobile site