In hierdie produksie, die vyfde vollengte Sussie-show, bekyk ons die wêreld, maar veral Suid-Afrika, deur Sussie (Marion Holm) se unieke bril.
Die klankbaan en visuele gevoel van die produksie is dié van ‘n sirkus, waar Sussie wonder wie die ringmeester is, want sy weet wie’s die narre, die trapese kunstenaars, die goëlaars en die leeutemmers. Maar waar de hel is die ringmeester wat alles beheer?
Die produksie begin met Cobus, ‘n dronk man, wat op ‘n rustige, reënerige Kaapse aand met sy Corsa bakkie volspoed in Sussie se huis vasjaag. Cobus spring agter die stuurwiel uit en hardloop weg, maar hy is so dronk dat dit net tot by die garage maak. En Sussie se bure – meeste van wie sy nog nooit ontmoet het nie – bring kampstoele, dop en sambrele om die petalje te beskou.
Wanneer die polisie uiteindelik hulle verskyning maak, is die enigste vraag wat hulle vra: ‘Mevrou, het jy geSIEN dat hy die kar bestuur het?’
‘Nee’, sê Sussie, maar dis sy bakkie, daar lê hy moederloos gesuip, wie dink jy het die bakkie bestuur.’
‘Wel, Mevrou dan het u nie ‘n saak nie. As u hom nie geSIEN het nie, dan het hy nie die bakkie bestuur nie.’
En Sustertjie verstaan nie. En deur haar soeke na die waarheid, verken sy ook ander aspekte van die Afrikaanse sirkus wat nie vir haar sin maak nie:
Hoe kan ‘n Juf. Malherbe, wat nie ‘n ons kreatiwiteit in haar siel het nie (‘Jy’s pragtig, Sustertjie, pragtig.’) oornag verander in ‘n Afrikaanse dansdiva en miljoene maak met haar nuwe album Juffrou gaan jou raps, jou rakker?
En die vet kind van langsaan, wie se linkerhand Sussie nog nooit gesien het nie, want dis permanent in ‘n McDonald’s sak ingeprop. Wat is die patologie van kos in sy lewe?En hoe gaan haar irritasie vorendag kom oor daai klein dingetjies wat die mooiste dag net so ‘n tikkie slegter maak?
Cirque du Sussie wys ons wat ons elkeen se rol in hierdie moderne sirkus is. Is jy dalk die ringmeester?
(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)
Related posts:




Bespreking
Kommentaar word nie toegelaat by hierdie bydrae nie.
Kommentaar is gesluit.