Clover Aardklop staan op stewige pilare

’n Kunstefees kan nie met twee bene oor die weg kom nie.

Om te oorleef en te groei steun dit op vier pilare – die kunstenaars, die borge, die media en gehore. Sonder dié vier pilare sou Clover Aardklop nie vanjaar sy veertiende fees kon ingaan nie. Met Clover wat nou as naamborg ingekom het, weet ons ons is op die regte koers. Dit getuig van vertroue uit ’n nuwe oord, terwyl die talle getroue borge deur die jare met hul volgehoue ondersteuning bewys dat Aardklop ’n produk is waarin ’n mens kan belê.

Die waarde van ’n naamborgskap moet nie onderskat word nie – veral in die kunste-omgewing wat tradisioneel aan die agterspeen suig. Met Clover aan boord vir die volgende vyf jaar kan ons ’n groter bydrae lewer tot die bevordering en die uitbou van die kunste.

Clover Aardklop is ’n omvattende fees wat baie ervaringe vir die feesganger bied, maar ons kernbesigheid bly die kunste. Dit is immers die kunstenaars wat ’n mens laat lag, laat huil en op vele vlakke betower – hetsy dit toneel, musiek, dans, visuele kuns of watter genre ook al is. Die kunstenaars is die hart van die kunste en verdien ons ondersteuning.

Maar sonder die ondersteuning van die media kan ons nie die boodskap uitdra van wat Clover Aardklop alles vir feesgangers bied nie. Ons bedank hulle vir die belangrike rol wat hulle as boodskappers vervul.

Steve Booysen
Steve Booysen
En dan kom ons by die gehore. Dit is uiteindelik vir die feesgangers wat ons jaar na jaar met sorg ’n program saamstel en ook aandag gee aan al die feestelikhede wat rondom dit aangebied word. Clover Aardklop bied iets vir jonk en oud. Dit is plesierig en verrykend. Dit is vir my ’n vreugde om al ons rolspelers by die 14de fees te verwelkom. Elke liewe een lewer ’n bydrae om van Clover Aardklop ’n sukses te maak.

– Steve Booysen, voorsitter

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar