Sanger, skrywer en kosliefhebber Willie Strauss se nuutste kabasert is getiteld Daar is ’n engel in my koskas.
In die eiesoortige styl van die kunstenaar, wat bekend geraak het om die tema van engele in sy werk, vertolk Strauss die keer die rol van die nuwe eienaar van die huis in Malherberstraat 20. Buurvrou Anna sleep ’n stoel nader en vertel vir hom die vorige eienaars, Gawie en Magriet, se storie – wat hy in die vertoning weergee. Die rooi van die granate in die tuin en die ongewone pers vlek teen die sifdeur word simbole wat die lief en leed van ’n gewone gesin uitbeeld.
Algaande deur die vertoning ontvou die eiesoortige liefde van die De Waal-gesin en word dit duidelik dat Gawie en Magriet spesifieke situasies totaal verskillend ervaar. Die nuwe eienaar word geraak deur die lewe van die gesin wat voor hom in die huis gewoon het, en wanneer hy na die granaatboom by die agterdeur kyk is dit of daar engele in die blare dans en die boom sy rooi vrugte as liefdesoffer aanbied.
Gawie praat met die groente in sy agterplaastuin, maar nie met sy vrou Magriet nie. Magriet werk bedags en ontsnap saans van die werklikheid deur tydskrifte te lees en sepies op TV te kyk, terwyl die egpaar se twee rooikopseuns by die bure gaan speel wanneer die stilte in die huis te erg raak.
Eendag ontdek die nuwe intrekker ’n boks vol resepte in die solder wat hom bewus maak van die ongewone liefdesband tussen Gawie en Magriet. Die storielyn word aangevul met nuwe liedjies deur Strauss, Roelof Colyn, Johann Slabbert en Fanie Fouche. ‘Boom’ is een van die laaste liedjies wat Christa Steyn saam met Strauss spesiaal vir die vertoning geskryf het.
Maar wie is die engel in die koskas werklik? En waarom kom daar elke Februarie die wonderlikste geure uit die huis in Malherbestraat wat algaande deur die hele buurt versprei? Malherbestraat 20 se geheime word bekend namate die storielyn ontvou.
Die bekende beeldhouer Sanna Swart is weer deel van Strauss se produksie deur ’n unieke beeld wat as dekor element op die verhoog ingespan word. Vyf-en-twintig bronsgietsels van die beeld sal eksklusief tydens die speelvak van die produksie te koop aangebied word. Martie du Toit het die skildery van Willie gemaak wat gebruik word vir die plakkaat van sy kabasert.
Die regisseur van Daar is ’n engel in my koskas is akteur en sanger Jacques Botes terwyl die musikale regie deur die talentvolle Roelof Colyn hanteer word.
27 Maart: Pierneef Teater, Pretoria
30 Maart: Lady Grey (tydens die jaarlikse Passiespel)
3- 6 April: Neelsie Teater, KKNK (Oudtshoorn)
Wat ‘n pragtige verhaal! Dit loop oor van MENSwees en knop-in-die-keel-oomblikke, maar die humor is fyn en superlig! Willie weet hoe om met woorde te speel en te werk. Roelof is ‘n absolute klawermeester en Jacques se puik regie maak van hierdie stuk ‘n MEESTERstuk! Welgedaan aan elkeen hierby betrokke!