Danksy ‘n ruimhartige borgskap van Sanlam gaan gehore in ander dele van die land ook die geleentheid kry om die bekroonde KKNK-produksie, Faan se trein, te ervaar – 30 jaar nadat die toneelstuk oorspronklik opgevoer is.
Die splinternuwe opvoering, onder spelleiding van Albert Maritz, is by vanjaar se KKNK met die Kanna Herrie-toekenning bekroon nadat die gehore dit as die gewildste produksie ingestem het. Op sy beurt het Paul Eilers, in die titelrol, met die Kanna-toekenning vir beste akteur weggestap.
Nou gaan Sanlam se borgskap help om speelvakke by die volgende kunstefeeste en venues moontlik te maak:
Hoërskool Durbanville-ouditorium 14 – 16 Junie
Inniboskunstefees, Nelspruit 29 Junie – 3 Julie
Rendezvousteater, Pretoria 6 – 9 Julie
Volksbladkunstefees, Bloemfontein 12 – 17 Julie
Aardklopkunstefees, Potchefstroom 27 Sept – 1 Oktober
Besprekings vir die opvoerings in Durbanville is reeds oop. Belangstellendes kan vir Elsa by 082 5788 655 of Trudie by 082 565 1401 skakel.
Die eerste opvoering van Faan se trein, onder regie van Cobus Rossouw, is in 1975 deur 80 000 mense gesien – en dit nog voor die nasionale toer begin het. Daarna is die klassieke stuk deur impresario’s opgeraap en nog tienduisende mense het dit gesien.
Paul Eilers, wat as jong man lid was van die legendariese Johan Fourie-toneelgeselskap, vertolk nou die rol van Faan, Frik Oosthuizen se verstandelik gestremde seun.
Maritz beskryf die Oosthuizens se storie as eenvoudig. “Maar in hul eenvoud simboliseer hulle, ironies genoeg, basiese waardes. En in Faan se pittige humor lê die tragedie opgesluit wat enige mens aan die hart sal gryp.”
Lewer kommentaar