Ietsie oud, ietsie blou, ietsie nuut en iets geleen

Die Oude Libertas-amfiteater is vanjaar so spoggerig soos ’n somerbruid. Nie net pronk sy met ’n splinternuwe tabberd nie, maar die program vir die somerseisoen herinner ’n mens aan die gewoonte om vir ’n bruid “ietsie oud, ietsie blou, ietsie nuut en iets geleen” op haar spesiale dag te gee.

Vir die “ietsie oud” het Oude Libertas aanbiedings gekry wat al elders gespeel het, maar wat ’n mens graag weer wil sien en bly is diegene wat dit nog nie gesien het nie kry nou ook die geleentheid:

Hennie van Greunen se knap verwerking van Shirley Valentyn met die nimlike Shaleen Surtie-Richards; Die Naaimasjien, ’n aangrypende blik op oud word, met toneeldiva Sandra Prinsloo; Saam, ’n ongewone spanpoging met Amanda Strydom en Lize Beekman; It takes 2 met Rocco de Villiers op klavier, wat saam met Robert Mitchley (kitaar) en die bekende danspaar Mark Hoeben en Ina Wichterich op ’n musiekreis gaan wat alles insluit van die bossa nova en tango tot die blues; Hartsnaar met Jannie du Toit en Christa Steyn wat musikaal besin oor die wel en weë van liedjieskrywers, sangers en musikante; Vivere met Jannie Moolman en Brandon October is ’n opwindende musikale ervaring en beslis nie ’n gewone vertoning nie, maar ’n oorspronklike stuk met opera, rock, jazz, klassieke musiek en ’n paar musikale verrassings; Emo Adams en sy orkes kom maak ook weer ’n draai met ’n kragtige vertoning wat bevestig waarom hy die titel “Tall, dark en Afrikaans” verdien. Cutt Glas – 20 jaar van spesiale oomblikke, is ’n besondere konsert waarmee dié gewilde a cappella‑groep hul toer om hul 20ste bestaansjaar te vier, afsluit.

Die “ietsie blou” word laat November ingelui deur die Boulevard Blues Band met Dr. John (sang), Richard Pryor (kitaar), Graeme Abbot (kitaar), Greg Smith (perkussie) en Rob Stemmet (baskitaar). Kort op hul hakke volg SwingTime Ballet, ’n nostalgiese blik op die “big band”-era deur die Bovim-balletgeselskap, Francois Arzul (viool) en Francois Lliam (sang).

Kort ná Kersfees kom die puik plaaslike jazz-sangeres Tutu Puoane en haar orkes aan die beurt en dan gaan The Sticky Triggers op Oujaarsaand die voete laat jeuk met nommers soos “In the mood”, “My baby just cares for me”, en vele meer.

Oude LibertasOllie Viljoen en ’n paar bekende medekunstenaars kry ook kans in Blues en Susters om te wys dat blou-wees en blues volkseie konsepte is.

Gloria Bosman, die Afrika Mamas en Abaqondisi Brothers het geen bekendstelling nodig nie en musiekregisseur extraordinaire Janine Neethling sal sorg dat hul vertoning onvergeetlik is.

Die laaste stukkie blou word verskaf deur Mark Fransman in Strait ’n Narro, ’n program van sy eie komposisies waarin hy ondersteun word deur Melanie Scholtz (sang) en ander top-musikante.

Die hoogtepunt van die Oude Libertas se “ietsie nuut” – en terselfdertyd die konsert waarmee die somerprogram afgesluit word – is ’n manjifieke a cappella-weergawe van Händel se Messias. Onder die bekwame aanvoering van Janine Neethling en met Zanne Stapelberg, Minette du Toit-Pearce, Siabonga Maqunga en Jaco Klopper as soliste, bygestaan deur die Canticum Novum-koor en sleutelsangers soos Zwai Bala, Nic Nicolaidis, Anneke Visagie en Mariëtte Labuschagne, asook David Klassen op perkussie, beloof dit om ’n musiekervaring sonder weerga te wees.

Nog ’n splinternuwe spogproduksie is ’n galakonsert met Pretty Yende, ons operadiva wat onlangs skoonskip gemaak het by die Internasionale Hans Gabor Belvedere Sangkompetisie. Kaapstad-Opera se Voice of the Nation-ensemble kry weer in Maart kans om te wys wat in hulle steek met geliefde opera-arias en ander liedere.

Oude Libertas koester egter ook nuwe talent. Op 6 Desember tree Andra, Luna Paige, Sima en Marlise Scheepers op in Splendour in the Vineyard, terwyl die vroue van Sterling EQ op 19 Februarie hul slag sal wys op die elektriese viole, tjello en fluit. Iemand wat nie nuut op die musiektoneel is nie, maar wel by Oude Libertas is Lukas Maree. Saam met Mathys Roets gaan hy op 28 Februarie die gehoor op ’n nostalgiese reis neem.

Die “iets geleen” kom hoofsaaklik uit die klassieke repertorium en heelwat daarvan met die komplimente van ons oorsese musiekvennote, maar darem nie uitsluitlik nie. Trouens, die eerste “geleende” produksie word aangebied in samewerking met die Suidoosterfees, naamlik die Black Tie-ensemble, ’n groep sangers wat die opera-vaandel in Gauteng hoog hou.

Daarna gaan leen ons die Rus Lidia Baich, ’n fenomenale jong violis wat reeds op 8-jarige ouderdom haar eerste internasionale kompetisie gewen het.

’n Kunstenaar wat nie bekendstelling nodig het nie, want hy leen en word geleen, is Stef Bos. Hy besoek op 7 Februarie weer die amfiteater waar hy sy Suid-Afrikaanse debuut gemaak het.

Hierna kom die West‑Eastern Divan-orkes aan die beurt met Vivaldi se Vier Seisoene en Piazolla se Argentynse klanke. Dié orkes bestaan uit jong musici van Israel, die Palestynse gebied en ander lande in die Midde-Ooste en is op die been gebring deur die dirigent Daniel Barenboim en wyle Edward Said, ’n Palestynse skrywer-filosoof, om die versoeningskrag van musiek ten toon te stel.

Op Valentynsdag gaan leen ons by die Franse wanneer Anna Davel en ’n groep musikante die soel aandlug om Oude Libertas sal vul met die romantiese klanke van “La vie en rose”, “Chanson d’amour”, en ander liefdesliedere. Die vurige romanse en ritmes duur voort in die daaropvolgende aande met die pianiste Zorada Temmingh en Elna van der Merwe wat saam met Minette du Toit-Pearce (mezzo-sopraan) en Anina Wasserman (sopraan) die Sigeunerlewe verbeeld. Dít word voorafgegaan deur Cape Classic Concert, ’n aand van gewilde klassieke melodieë deur ’n oorsese koperblaas-kwartet. Die laaste geleende item kom van Babu, ’n viertal Kaapse kunstenaars wat vanjaar vir twee Sama-toekennings genomineer is. Babu leen by die Indiese klassieke musiek en 60 jaar se jazz-improvisasie vir hul inspirasie.

Verder is daar nog twee spesiale geleenthede op die Oude Libertas se kalender. Die eerste is die jaarlikse Versindaba op 27 en 28 November waartydens die Afrikaanse digkuns gevier word. Die tweede is ’n baie spesiale Vigsbewusmakingskonsert op 22, 23 en 24 Januarie waar groepe en kunstenaars soos Ladysmith Black Mambazo, Jimmy Earl Perry, Rouchelle Liedemann, Janelle Visagie en talle ander sal optree. Moet dit nie misloop nie!

En diegene wat graag Kersliedere sing, moet nie die derde jaarlikse Kersliedere-vertoning op 20 en 21 Desember misloop nie. Die bekende dirigent Richard Cock sal weer die leiding neem.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar